Skip to content
English|Afrikaans

Konstitusionele Hof-oorwinning stuit staat se kaping van die verkrygingsproses

Die uitspraak stuit die Parlement en die nasionale regering se pogings om die verkrygingsbeleid van alle staatsentiteite te kaap

Sakeliga verwelkom vandag se oorwinning in die Konstitusionele Hof oor die Wet op Openbare Staatsverkryging deur die premier van die Wes-Kaap, die Stad Kaapstad, amaBhungane en Solidariteit.

Hoewel die uitspraak op 'n gebrek aan openbare deelname berus, is die uitwerking daarvan verreikend: dit stuit die Parlement en die nasionale regering se pogings om die verkrygingsbeleid van alle staatsentiteite te kaap en dit aan rasgebaseerde en ander waardevernietigende vereistes te onderwerp.

Die Wet beoog om meer as 700 staatsentiteite te dwing om verpligte toewysings, voorafkwalifiseringskriteria en subkontrakteringskwotas op grond van ras, geslag en ander nie-mededingende kriteria toe te pas. Volgens die hof het die Wet gepoog om “’n stelsel te institusionaliseer waarin kategorieë van tenderaars regtens en herhaaldelik van deelname uitgesluit sou word”.

Binnelandse en internasionale gevolge vir aanspreeklikheid

Vandag se uitspraak verskans die posisie wat deur Sakeliga se oorwinning in die Konstitusionele Hof in 2022 gevestig is, naamlik dat die verantwoordelikheid vir verkrygingsbeleid by individuele staatsentiteite berus, en nie by die nasionale regering nie.

Dit geld vir plaaslike en provinsiale regerings, nasionale staatsdepartemente, staatsondernemings, reguleerders en alle ander staatsentiteite. Waar rasbeperkings in ’n staatsentiteit se verkrygingsbeleid voorkom, kies daardie entiteit self om dit in te stel of te handhaaf, en kan die betrokke amptenare of verkose verteenwoordigers daarvoor aanspreeklik gehou word.

Die feit dat aanspreeklikheid vir rasbeperkings in verkryging by individuele staatsentiteite, hul amptenare en die verkose verteenwoordigers wat beleid bepaal berus, het verreikende binnelandse en internasionale gevolge. Dit stel die publiek, ondernemings en buitelandse entiteite in staat om hul betrokkenheid en reaksies regstreeks op plaaslike regerings en ander individuele staatsentiteite in Suid-Afrika te rig, aangesien artikel 217 van die Grondwet die besluitnemingsbevoegdheid op dáárdie vlak plaas, en nie in die hande van die nasionale regering nie.

Parlement se poging om Sakeliga se vorige Konstitusionele Hof-oorwinning te omseil

Dit is opmerklik dat die hof bevind het dat die Parlement se poging om talle van die rasbeperkende voorskrifte in die Wetsontwerp op Staatsverkryging te kodifiseer, gevolg het op Sakeliga se oorwinning in die Konstitusionele Hof in 2022. In daardie saak het Sakeliga, met die Free Market Foundation as amicus curiae, die verkrygingsdiskresie van alle staatsentiteite herstel nadat die nasionale regering gedreig het om dié bevoegdheid vir homself toe te eien. Die hof merk in vandag se uitspraak soos volg op:

Laastens versterk, eerder as verswak, die feit dat die 2017-PPPFA-regulasies uiteindelik onwettig verklaar is [in die saak wat Sakeliga gewen het], die behoefte aan hernude openbare deelname oor die [‘uitgebreide, voorskriftelike statutêre bestel wat op verpligte toewysings, voorafkwalifiseringskriteria, subkontrakteringsverpligtinge en plaaslike-inhoudvereistes berus’]. Hoewel die respondente korrek is dat die regulasies op regmatigheidsgronde tersyde gestel is, het die aanvanklike litigasie omstredenheid geskep oor die versoenbaarheid van voorafkwalifiseringsmeganismes met die Grondwet. Die Parlement se daaropvolgende besluit om hierdie meganisme in primêre wetgewing te kodifiseer en uit te brei, verhoog derhalwe, eerder as verminder, die behoefte aan betekenisvolle openbare deelname.

Sakeliga het voorheen ’n omvattende riglyn gepubliseer oor hoe enige staatsentiteit alle rasbeperkings wettig uit sy verkrygingsbeleid kan verwyder – en waarom dit grondwetlik verplig mag wees om dit te doen. Die verslag is hier beskikbaar.

Volgende stappe

Die Parlement mag die wetsontwerp slegs weer indien nadat ’n openbaredeelnameproses gevolg is wat aan die Grondwet voldoen. Sou so ’n wetsontwerp weer ter tafel gelê word, sal Sakeliga voortgaan om enige verpligting op staatsorgane om rasbeperkende en waardevernietigende verkrygingsbeleid toe te pas, teen te staan.

Ons sal ’n raamwerk steun wat die belang van onafhanklike verkrygingsbeleid erken en uitvoering gee aan die grondwetlike vereiste van waarde-vir-geld-verkryging wat die publiek prioritiseer – nie ’n klein groep polities bevoordeelde tenderpreneurs en tussengangers nie.

Hulpbronne

Help ons om 'n florerende ekonomie te verseker

Jy kan ekonomiese orde herstel deur ons werk te befonds.