Skip to content
English|Afrikaans

HOFOORWINNING: Sakeliga verslaan BEE-lisensiëring in die eiendomsektor

Die uitspraak is ’n beduidende terugslag vir die Suid-Afrikaanse regering se pogings om BEE ’n voorvereiste vir ekonomiese bedrywighede te maak.

Sakeliga het ’n belangrike hofoorwinning teen BEE in die eiendomsektor behaal. Die Pretoriase Hooggeregshof het die vereiste dat eiendomsagente en ander eiendomsbesighede oor ’n BEE-sertifikaat moet beskik om wettig besigheid te doen, ongrondwetlik verklaar.

Die uitspraak is ’n beduidende terugslag vir die Suid-Afrikaanse regering se poging om BEE ’n voorvereiste vir ekonomiese bedrywighede te maak in ’n sektor wat jaarliks meer as R60 miljard genereer.

Dit bevry almal wat ingevolge die wetgewing as eiendomspraktisyns omskryf word, met onmiddellike ingang van die verpligting om aan BEE deel te neem, en bespaar miljoene rande se hulpbronne wat andersins aan BEE-nakoming en -sertifisering vermors sou word.

Sakeliga het die hofsaak in 2024 aanhangig gemaak nadat die land se Reguleerder van Eiendomspraktisyns (PPRA) geweier het om bedryfslisensies – formeel bekend as Getrouheidsfondssertifikate (FFC’s) – aan ondernemings uit te reik, tensy hulle eers ’n BEE-sertifikaat voorgelê het. Om sonder ’n FFC besigheid te doen is ’n misdryf.

Die Hooggeregshof het nou die regsgrondslag vir dié vereiste, artikel 50(a)(x) van die Wet op Eiendomspraktisyns (Wet 22 van 2019), ongeldig verklaar. Die PPRA moet ook Sakeliga se regskostes betaal, insluitend die koste van twee advokate.

Rassevoorvereistes in die hof bevestig

Die PPRA se eie hofstukke toon dat die vereiste veel verder gestrek het as bloot die insameling van statistiek.

In sy beëdigde beantwoordende verklaring het die PPRA aangevoer dat die beperking ingestel is om te “verseker dat diegene wat bloot lippediens bewys aan transformasie, nie toegelaat word om as eiendomspraktisyns te praktiseer en ’n inkomste daaruit te verdien nie”.

In sy betoogshoofde het die PPRA se advokate selfs beklemtoon dat die vermoë om deelname af te dwing doelbewus nagestreef is: “’n Suiwer vrywillige stelsel van transformasieverslagdoening sou die Wet se statutêre ontwerp en die Owerheid se vermoë om transformasiemaatreëls te monitor en te implementeer, ondermyn.”

Sakeliga beklemtoon sy waarskuwing dat die regering en reguleerders aktief daaraan werk om deelname aan BEE en ander rasbeperkende staatsprogramme, soos die rasgebaseerde aanstellingskwotas van Gelyke Indiensneming, ’n voorvereiste vir ekonomiese deelname in alle sektore te maak. Ons noem dit die Derde Golf van BEE.

Sakeliga beskou die gebruik van lisensiëring vir rasbeperkende doeleindes as ’n onaanvaarbare belemmering van en inbreuk op handelsvryheid. Uiteindelik is ’n B-BBEE-sertifikaat ’n politieke instrument van die staat en nie ’n besigheidsvereiste nie. Dit is geen geldige voorvereiste vir ekonomiese deelname of vir die lewering van dienste aan klante, kliënte en gemeenskappe nie.

Té wye definisie

Die hof het Sakeliga ook gedeeltelik gelyk gegee dat die definisie van “eiendomspraktisyn” in die Wet irrasioneel en té wyd is, en het sekere dele daarvan ongrondwetlik verklaar. Die ingeperkte definisie beteken dat verskeie kategorieë persone wat eiendomsverwante sake doen, nou tereg bevry is van dié oorskryding van regeringsmag.

Sakeliga het beduidende verligting teen dié magsoorskryding verkry, hoewel die hof nie die volle beperking van die definisie toegestaan het waarvoor ons in ons hofaansoek gevra het nie. Ons oorweeg tans verdere regsopsies.

Wat die bevel beteken

  • Met onmiddellike ingang mag die PPRA nie ’n Getrouheidsfondssertifikaat weier op grond daarvan dat ’n aansoeker nie oor ’n BEE-sertifikaat beskik nie.
  • Met onmiddellike ingang word private eienaars, sekere adverteerders en persone wat buite die gewone loop van hul besigheid met bepaalde eiendomsbelange handel, nie meer as “eiendomspraktisyns” beskou nie.
  • Aangesien die uitspraak ’n bevinding behels dat bepalings van ’n wet ongrondwetlik is, word dit vir bekragtiging na die Konstitusionele Hof verwys. Ná bekragtiging sal die Parlement 24 maande hê om die té wye definisie reg te stel.

Hierdie oorwinning is 'n bewys dat verpligte BEE nie ’n onvermydelike voorwaarde vir ekonomiese deelname is nie. Die uitbreiding en die afdwinging daarvan kan gestuit en teengestaan word, sodat ondernemings die vryheid kan hê om hul klante sonder die staat se rassevoorvereistes te bedien. Sakeliga sal met dié werk voortgaan.

Hulpbronne

Help ons om 'n florerende ekonomie te verseker

Jy kan ekonomiese orde herstel deur ons werk te befonds.