Uitspraak voorbehou in toetssaak oor verjaarde watergebruiksheffings
Hierdie saak is ’n belangrike toets vir die behoorlike toepassing van verjaringswetgewing op statutêre heffings en die perke van die staat se invorderingsbevoegdhede.
Die Hooggeregshof in Pretoria het op 11 Augustus 2026 uitspraak voorbehou in die aansoek deur Sakeliga, TLU SA en ses ander applikante teen die departement van water en sanitasie se onwettige pogings om dekades oue, betwiste watergebruiksheffings sonder behoorlik uiteengesette rekeninge in te vorder.
Hierdie aansoek is ’n belangrike toetssaak vir die behoorlike toepassing van verjaringswetgewing op statutêre heffings en die perke van die staat se invorderingsbevoegdhede. Die aansoek het ten doel om landbouwatergebruikers teen voortgesette dreigemente te beskerm en terselfdertyd om belangrike beginsels te handhaaf oor wat die staat van ondernemings regdeur die ekonomie mag hef en op watter wyse dit gedoen mag word.
Sakeliga vra die hof om die volgende bevele:
- Eerstens, ’n verklarende bevel dat watergebruiksheffings ingevolge die Nasionale Waterwet vir kommersiële en landboudoeleindes aan 'n verjaringstydperk van drie jaar onderhewig is.
- Tweedens, ’n bevel wat die departement verplig om behoorlike, uiteengesette rekeninge en fakture aan boere en ander watergebruikers te verskaf.
Die departement probeer reeds jare lank om betwiste watergebruiksheffings in te vorder wat dekades oud is en waarvan sommige selfs dateer van vóór die Nasionale Waterwet in 1998 in werking getree het. Hoewel hierdie betwiste heffings meer as drie jaar oud is – en dus regtens verjaar het – het die departement boere blootgestel aan teistering en intimidasie deur skuldinvorderaars, asook dreigemente van regstappe en eise vir betaling, sonder behoorlik uiteengesette rekeninge.
Die voortdurende dreigement dat verjaarde skuld onregmatig ingevorder kan word, ontwrig sake- en finansiële beplanning vir kommersiële boere, kan landbouproduksie benadeel en skep ’n risiko van werkverliese wanneer boerderye onder finansiële druk verkeer.
Sakeliga se argumente
Sakeliga en ons mede-applikante het twee kernargumente voor die hof aangevoer:
- Watergebruiksheffings kan nie as belasting geklassifiseer word nie
Kragtens Artikel 57(5) van die Nasionale Waterwet mag watergebruiksheffings nie as ’n belasting of heffing funksioneer nie. Die regering kan gevolglik nie steun op die verlengde verjaringstydperk van dertig jaar wat vir belastingskuld geld nie. Hierdie skuld is ingevolge Artikel 11(d) van die Verjaringswet 'n gewone skuld wat ná drie jaar verjaar. Ons vra die hof om dit so te verklaar.
- Volledig uiteengesette rekeninge
Watergebruiksheffings moet werklike watergebruik weerspieël en behoorlik gefaktureer word. Die departement se huidige rekeninge voldoen nie aan hierdie vereiste nie, aangesien dit bloot ongespesifiseerde saldo’s toon sonder om voldoende besonderhede te verskaf oor hoe die bedrae bereken is en op watter tydperke en fakture dit betrekking het. Die hof moet die departement by wyse van 'n bevel verplig om behoorlike rekeninghouding en fakturering te verseker.
Konteks
In Oktober 2021 het die departement self erken dat watergebruiksheffings ná drie jaar verjaar. Die departement het egter sedertdien sy standpunt verander en probeer steeds om betwiste historiese bedrae in te vorder sonder om dit met behoorlik uiteengesette fakture te staaf.
Sakeliga en ons mede-applikante se standpunt is dat enige boer, maatskappy of ander entiteit wat vir watergebruik gefaktureer word, moet weet waarvoor hy betaal en moet kan vasstel of die bedrag wat gehef word, inderdaad die korrekte heffing vir die werklike watergebruik weerspieël. Daarbenewens kan die departement nie beweerde skuld uit hoofde van statutêre heffings invorder op ’n wyse wat strydig is met die statutêre bepalings oor verjaring nie.
Uitspraak is voorbehou en Sakeliga en ons mede-applikante wag tans op die uitkoms.
Help ons om 'n florerende ekonomie te verseker
Jy kan ekonomiese orde herstel deur ons werk te befonds.
