Skip to content
English|Afrikaans

Rassekwotas in Suid-Afrika: ICASA opponeer Sakeliga se litigasie

Dit volg op die litigasie wat Sakeliga teen ICASA van stapel gestuur het, weens sy aandrang dat 30% van internasionale ondernemings se Suid-Afrikaanse bedrywighede in besit moet wees van swart persone.

Die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (ICASA) het die hof en Sakeliga in kennis gestel dat hy ons hersieningsaansoek van sy 30% rasse-eienaarskapskwota gaan opponeer.

Dit volg op die litigasie wat Sakeliga verlede week teen ICASA van stapel gestuur het, wat spruit uit sy aandrang dat 30% van internasionale ondernemings se Suid-Afrikaanse bedrywighede in besit moet wees van swart persone of lede van ander groepe wat as histories benadeel aangewys is.

Indien Sakeliga se hofaansoek slaag, sal dit die weg baan vir ondernemings wat deur die reguleerder as te wit en nie swart genoeg beskou word nie, om wel lisensies te kan bekom, pleks daarvan om geheel en al uitgesluit te word. Dit sal egter steeds gepaardgaan met aansienlike bykomende koste in vergelyking met ondernemings wat volgens die staat oor voldoende swart aandeelhouding beskik.

Ingevolge Suid-Afrikaanse wetgewing mag verskaffers van kommunikasiedienste en -netwerke nie in die land sake doen tensy hulle deur die staat se telekommunikasiereguleerder ICASA gelisensieer is nie. In praktyk beteken dit dat internasionale ondernemings slegs internettoegang en uitsaaidienste soos televisie en radio mag verskaf, of netwerkinfrastruktuur mag bedryf indien hulle self aan ICASA se rasse-eienaarskapskwota voldoen, of deur plaaslike ondernemings werk wat wel aan dié kwota voldoen.

Hoewel die hofbevel wat Sakeliga beoog nie ICASA se rasbeperkende vereistes en penalisering geheel en al uit die weg sal ruim nie, sal dit die staat verplig om voorsiening te tref vir sogenaamde ekwiteitsekwivalente alternatiewe. Sodoende sal die staat ’n rassekwota met ’n rasgebaseerde belemmering vervang. Hoewel laasgenoemde steeds verwerplik is, sal dit nietemin ’n verbetering op die huidige kwotastelsel wees.

Ingevolge die hofreëls het ICASA nog tot 30 November 2026 om die volledige rekord van sy besluit aan Sakeliga te verskaf.

Hulpbronne

Help ons om 'n florerende ekonomie te verseker

Jy kan ekonomiese orde herstel deur ons werk te befonds.