Skip to content
English|Afrikaans

Sakeliga nader die Konstitusionele Hof om toegang tot regshulp teen onregmatige munisipale optrede te beskerm

Indien die Appèlhof se uitspraak staande bly, kan dit die weg baan vir munisipaliteite om hul eie grondgebruiksvoorskrifte te verontagsaam of te oortree.

Sakeliga het aansoek gedoen om as amicus curiae (vriend van die hof) tot ’n saak voor die Konstitusionele Hof toegelaat te word, waarin ons die publiek se toegang tot regshulp wil beskerm wanneer munisipaliteite en ander staatsorgane onregmatig optree of versuim om die wet toe te pas, onder meer in gevalle van onwettige nedersettings en -grondgebruik.

Die saak spruit voort uit die Polokwane Plaaslike Munisipaliteit se besluit om okkupeerders na landbougrond in munisipale besit te hervestig, waar die munisipaliteit vervolgens ongemagtigde grondgebruik en die oprigting van onwettige strukture toegelaat het. Die Hoogste Hof van Appèl het bevind dat die munisipaliteit sy eie dorpsbeplanningskema en verordening, asook nasionale bou- en omgewingswetgewing, oortree het. Nietemin het die hof geweier om ’n interdik toe te staan toe die eienaar van die aangrensende plaas die hof om regshulp genader het.

Volgens die uitspraak is ’n wetsoortreding deur 'n staatsorgaan “nie op sigself” voldoende vir 'n applikant om aanspraak te maak op ’n interdik nie. Die applikant moet boonop bewys dat hy self skade gely het, benewens die skade wat die publiek in die algemeen ly. Volgens die hof is dié individuele skade nie bewys nie.

Indien die uitspraak staande bly, kan dit die weg baan vir munisipaliteite om hul eie grondgebruiksvoorskrifte te verontagsaam of te oortree. Daarenteen word wetsgehoorsame ondernemings en inwoners dikwels aan streng bou- en ontwikkelingsverordeninge en ander wetgewing onderwerp. Munisipaliteite sal boonop geldige klagtes kan afwys bloot omdat ’n benadeelde party nie regstreekse skade kan bewys nie. Eienaars, ontwikkelaars, ondernemings en inwoners maak juis daarop staat dat munisipaliteite beplannings-, bou- en omgewingswetgewing regmatig en konsekwent toepas en afdwing. Die uitspraak sal in die praktyk beteken dat staatsorgane na eie goeddunke kan besluit of hulle die wet nakom, terwyl die geregtelike afdwinging van die wet arbitrêr raak, op ’n tydstip waarop munisipale wanbestuur en verval reeds wydverspreid in Suid-Afrika voorkom.

Weens die verreikende gevolge vir eiendomsregte en die oppergesag van die reg wil Sakeliga nou as amicus curiae toegelaat word in die aansoek om verlof tot appèl wat onlangs by die Konstitusionele Hof ingedien is. Ons wil die Konstitusionele Hof bystaan met vertoë wat die Hoogste Hof van Appèl se bevinding betwis. Ons sal onder meer die volgende aanvoer:

  • Staatsorgane moet aan ’n ander maatstaf as private persone gemeet word.

    Die Hoogste Hof van Appèl het ’n toets toegepas wat vir geskille tussen private persone bedoel is. Daarvolgens moet ’n hof bepaal hoe die klaer self skade gely het. Dié benadering is gepas in geskille tussen private persone, wat nie verplig is om die wet teenoor mekaar af te dwing nie. Staatsorgane is egter in ’n ander posisie. Hulle mag slegs optree binne die bevoegdhede wat die wet aan hulle verleen en móét die pligte nakom wat die wet van hulle vereis. Hierdie verpligtinge geld teenoor almal binne hul jurisdiksie. Hul optrede behoort dus aan die vereiste van regmatigheid gemeet te word.
  • Onregmatige optrede deur ’n staatsorgaan is op sigself 'n vorm van benadeling.

    Wanneer ’n staatsorgaan versuim om die wet na te kom of ’n statutêre plig uit te voer, is daardie versuim op sigself die benadeling. ’n Hof behoort sodanige onregmatigheid reg te stel sonder dat die applikant besondere of finansiële skade hoef te bewys.
  • Partye het die reg het om in die openbare belang te litigeer.

    Artikel 38(d) van die Grondwet bepaal dat enigiemand ’n hof kan nader in aangeleenthede van openbare belang, selfs al het daardie persoon nie self skade gely nie. ’n Vereiste dat die applikant individuele skade moet bewys, is onversoenbaar met dié bepaling. Die Hoogste Hof van Appèl se bevinding sal interdikte in die openbare belang teen staatsorgane uitsluit, ongeag hoe ooglopend die onregmatigheid is.

Afgesien van hierdie grondwetlike oorwegings, bots hierdie uitspraak ook met ’n vroeëre uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl. In 2013 het dié hof bevind dat eienaars en okkupeerders van eiendom in ’n gebied waarop ’n dorpsbeplanningskema van toepassing is, die skema kan afdwing sonder om te bewys dat hulle besondere skade gely het. Die Hooggeregshowe word dus nou met twee teenstrydige uitsprake van die Hoogste Hof van Appèl gekonfronteer – ’n teenstrydigheid wat op sigself regstelling deur die Konstitusionele Hof regverdig.

Agtergrond

Die saak handel oor twee aangrensende gedeeltes landbougrond, waarvan die een aan die Polokwane Plaaslike Munisipaliteit en die ander aan ’n kommersiële boer behoort (sien die uitspraak onder “Hulpbronne” hieronder).

Die munisipale raad het besluit om okkupeerders na die munisipaliteit se grond te hervestig en vervolgens toegelaat dat onwettige strukture sonder goedgekeurde planne of okkupasiesertifikate opgerig word. Nadat die boere ingevolge die munisipaliteit se grondgebruikskema ’n klagte ingedien het, het die munisipaliteit bloot die raadsbesluit bevestig. Dit het nóg die klagte ondersoek, nóg stappe gedoen om sy eie verordening af te dwing.

Die eienaars van die aangrensende grond het hulle tot die Hooggeregshof in Limpopo gewend en aansoek gedoen om interdikte, asook ’n bevel wat die munisipaliteit en die provinsiale LUR vir landbou en landelike ontwikkeling sou verplig om die wet af te dwing. Die Hooggeregshof het die aansoek in Augustus 2024 van die hand gewys.

Op 2 Oktober 2026 het die Hoogste Hof van Appèl ook die aansoek om verlof tot appèl van die hand gewys, hoewel hy toegegee het dat die applikante “bo alle twyfel” bewys het dat hulle ’n duidelike reg het om te eis dat munisipale grond wettig gebruik word en die toepaslike wetgewing afgedwing word. Die hof het verder bevind dat die applikante van enige doeltreffende alternatiewe regsremedie ontneem is, weens die munisipaliteit se versuim om op te tree. Die applikante het sedertdien die Konstitusionele Hof om verlof tot appèl genader.

Waarom Sakeliga wil toetree

Ondernemings en gemeenskappe dra uiteindelik die koste wanneer munisipaliteite die wet verontagsaam, en litigasie is dikwels hul laaste en enigste uitweg. Indien die Hoogste Hof van Appèl se uitspraak, wat met ’n vroeëre beslissing van dieselfde hof bots, staande bly, sal dit eienaars, ondernemings en gemeenskappe se vermoë om regshulp te bekom, verswak. Die gevolge sal veel verder strek as die partye wat regstreeks by hierdie saak betrokke is. Sakeliga wil daarom die breër regsgevolge in die openbare belang, wat die partye nie self geopper het nie, onder die Konstitusionele Hof se aandag bring.

Ons het reeds in die stadium van die aansoek om verlof tot appèl aansoek gedoen om as amicus curiae toegelaat te word, sodat ons vertoë die Konstitusionele Hof kan bystaan wanneer die hof besluit of die appèl aangehoor sal word.

Hulpbronne

Help ons om 'n florerende ekonomie te verseker

Jy kan ekonomiese orde herstel deur ons werk te befonds.