Skip to content
English|Afrikaans

Sakeliga loods hofsaak teen ICASA se rassekwota vir kommunikasiediensverskaffers

ICASA het geen wettige grondslag vir hierdie kwota nie. Die ras van ’n onderneming se aandeelhouers is nie ’n geldige voorvereiste vir die verskaffing van internet- en ander kommunikasiedienste is nie.

Sakeliga het die Hooggeregshof in Pretoria genader om die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (ICASA) te keer om ’n rasse-eienaarskapskwota op internetdiensverskaffers en ander kommunikasie-ondernemings af te dwing.

ICASA se standpunt is dat geen onderneming ’n lisensie mag bekom, hernu of oordra om internettoegang of uitsaaidienste soos televisie en radio te verskaf, of om netwerkinfrastruktuur te bedryf nie, tensy minstens 30% van sy aandele deur swart persone of lede van sogenaamde histories benadeelde groepe besit word.

Enige onderneming – hetsy buitelands of plaaslik – wat nie aan hierdie kwota voldoen nie, word ’n lisensie geweier en sodoende verhinder om internettoegang en ander dienste te verskaf, werk te skep en tot produktiwiteit en ekonomiese groei by te dra.

Hierdie vereiste belemmer veral internasionale ondernemings waarvan die korporatiewe strukture nie die verkoop van aandele in Suid-Afrikaanse filiale toelaat nie, om regstreeks in die land sake te doen. Dit sluit ook plaaslike ondernemings van die mark uit indien hulle nie aan die voorgeskrewe rasse-aandeelhoudingskwota voldoen nie.

Sakeliga voer aan dat ICASA geen wettige grondslag vir hierdie kwota het nie en dat die ras van ’n onderneming se aandeelhouers nie ’n geldige voorvereiste vir die verskaffing van internet- en ander kommunikasiedienste is nie.

Hoewel die beoogde hofbevel nie ICASA se rasbeperkende vereistes en gepaardgaande benadeling geheel en al uit die weg sal ruim nie, sal dit die staat verplig om voorsiening te maak vir sogenaamde ekwiteitsekwivalente alternatiewe. Sodoende sal die staat ’n rassekwota met ’n rasgebaseerde belemmering vervang. Hoewel laasgenoemde steeds onaanvaarbaar is, sal dit nietemin ’n verbetering op die huidige kwotastelsel wees.

Indien die hofaansoek slaag, sal ondernemings wat deur die reguleerder as te wit en nie swart genoeg beskou word nie, wel lisensies kan bekom pleks daarvan om geheel en al uitgesluit te word. Dit sal egter steeds gepaardgaan met aansienlike bykomende koste in vergelyking met ondernemings wat volgens die staat oor voldoende swart aandeelhouding beskik.

ICASA weier om uitvoering aan die minister se beleidsvoorskrif te gee

In Desember 2025 het die minister van kommunikasie en digitale tegnologie ‘n beleidsvoorskrif ingevolge artikel 3(2) van die Wet op Elektroniese Kommunikasie uitgereik. Daarvolgens is ICASA gelas om dringend te oorweeg om sy eienaarskapsregulasies met die IKT-sektorkode te belyn en om, sover moontlik, die uitrol van breëbanddienste te bevorder ten einde die digitale kloof te oorbrug.

Op 13 Mei 2026 het ICASA aangekondig dat die Wet “minstens 30% eienaarskap deur histories benadeelde groepe vir houers van individuele lisensies vereis” en dat volle belyning met die IKT-sektorkode “‘n wetswysiging aan die huidige Wet sou verg”. ICASA het dus tot die gevolgtrekking gekom dat hy nie van die 30%-vereiste kan afwyk tensy die Parlement die Wet wysig nie.

Geen regsgrondslag vir streng rassekwotas nie

Artikel 9(2)(b) van die Wet bepaal dat ICASA se lisensievoorwaardes voorsiening moet maak vir minstens 30% aandelebesit deur persone uit histories benadeelde groepe, "of die ander voorwaardes of hoër persentasie wat voorgeskryf kan word".

Sakeliga voer aan dat die woorde “of die ander voorwaardes” uitdruklik aan ICASA ’n keuse bied en dat ICASA se interpretasie hierdie woorde betekenisloos maak.

Volgens ICASA se interpretasie word die 30%-vereiste ’n streng kwota wat op elke aansoeker om ’n individuele lisensie van toepassing is. Dit beteken dat elke aansoek om ’n individuele lisensie of die oordrag daarvan afgekeur word indien daar nie aan die rassekwota voldoen word nie.

Wat Sakeliga van die hof vra

Sakeliga versoek die hof om:

  1. ICASA se besluit van 13 Mei 2026 te hersien en tersyde te stel, en dit strydig met die Grondwet en ongeldig te verklaar.
  2. Te verklaar dat artikel 9(2)(b) nie ’n vaste minimum van 30% aandele-eienaarskap deur persone uit aangewese histories benadeelde groepe as voorvereiste stel vir die toestaan, hernuwing of oordrag van ’n individuele lisensie nie, en dat die bepaling ICASA wel toelaat om ander voorwaardes voor te skryf.
  3. Alternatiewelik, indien die hof bevind dat ICASA se interpretasie korrek is, artikel 9(2)(b) in daardie mate ongrondwetlik en ongeldig te verklaar, aangesien dit ’n irrasionele en arbitrêre kwota daarstel.

Die aansoek word teen ICASA en sy voorsitter gebring. Die minister word gevoeg as die lid van die uitvoerende gesag wat vir die Wet verantwoordelik is.

Hulpbronne

Help ons om 'n florerende ekonomie te verseker

Jy kan ekonomiese orde herstel deur ons werk te befonds.