Skip to content
English|Afrikaans

Sakeliga neem hofsaak teen Wet op Eiendomspraktisyns na Konstitusionele Hof

Met die aansoek wil ons verseker dat ekonomiese deelname nie afhanklik gemaak word van irrasionele staatsvereistes of verpligte BEE-sertifisering nie.

Sakeliga het sy hofsaak teen die té wye Wet op Eiendomspraktisyns en die gepaardgaande BEE-vereistes na die Konstitusionele Hof geneem.

Ons doel is tweeledig:

  1. Eerstens wil ons die Hooggeregshof se verklaring dat die Wet se vereiste vir BEE-sertifikate ongeldig is, laat bekragtig.
  2. Tweedens wil ons teen sekere tekortkominge in die Hooggeregshof se uitspraak appelleer om die Wet se té wye definisie van “eiendomspraktisyn” behoorlik in te perk.

Die tweeledige aansoek om bekragtiging en verlof tot appèl volg nadat die Pretoriase Hooggeregshof op 8 September 2026 in Sakeliga se guns uitspraak gelewer het. Dié uitspraak het ondernemings en hul kliënte regdeur die eiendomsbedryf beduidende en onmiddellike verligting van BEE-vereistes gebied. Dit het ook die Wet se inmenging in sakebedrywighede wat in die eerste plek nie aan lisensiëring onderhewig behoort te wees nie, gedeeltelik teruggedraai.

Die hof het artikel 50(a)(x) van die Wet, wat ’n BEE-sertifikaat as voorvereiste gestel het om wettig as “eiendomspraktisyn” besigheid te doen, ongeldig verklaar. Die Reguleerder van Eiendomspraktisyns (PPRA) is gelas om met onmiddellike ingang sy BEE-sertifikaatvereiste te staak.

Die hof het Sakeliga ook gedeeltelik gelyk gegee dat die definisie van “eiendomspraktisyn” ongeldig is. Aangesien hofbevele wat bepalings van parlementêre wetgewing ongeldig verklaar deur die Konstitusionele Hof bekragtig moet word, het Sakeliga die betrokke bevel dienooreenkomstig vir bekragtiging na dié hof verwys.

Hoewel die Pretoriase Hooggeregshof met Sakeliga saamgestem het dat die definisie van “eiendomspraktisyn” té wyd is, het die hof slegs ’n beperkte groep persone en ondernemings van die Wet se werking uitgesluit, in stede daarvan om dit meer omvattend te doen. Sakeliga vra nou die Konstitusionele Hof om dié tekortkoming reg te stel en ook eiendomsontwikkelaars, verbandmakelaars, eiendomsadministrateurs en ander wat sonder voldoende regverdiging by die Wet se bepalings ingesluit is, daarvan uit te sluit.

Nie almal wat met eiendom werk, is eiendomspraktisyns nie

Die Wet het die regulatoriese raamwerk vir eiendomsagente uitgebrei om ’n wye reeks bedrywighede in te sluit wat wesenlik van die werk van eiendomsagente verskil. Die blote verkoop, finansiering, advertering of administrasie van eiendom kan nou daartoe lei dat mense en ondernemings as “eiendomspraktisyns” beskou word en aan die PPRA se lisensiëringsbevoegdhede en magte onderhewig is.

Sakeliga se hofsaak handel oor die ongeregverdigde toepassing van dié regulatoriese bestel op mense en ondernemings wie se bedrywighede nie behels dat hulle kliënte se geld in trust hou nie. Beskermingsmaatreëls vir eiendomsagente wat wel sulke fondse in trust hou, regverdig nie dat dieselfde regulatoriese vereistes ook op ander eiendomsverwante bedrywighede afgedwing word nie.

Die gevolge is verreikend. Enigiemand wat by die definisie ingesluit word, is onderhewig aan vereistes rakende getrouheidsfondssertifikate en trustrekeninge, asook aan die PPRA se inspeksiebevoegdhede. Om sonder die vereiste sertifikaat sake te doen, kan selfs strafregtelike gevolge inhou.

Die kernvraag is dus nie bloot hoe die Wet ’n onderneming klassifiseer nie. Dit is of mense gewone, produktiewe bedrywighede mag verrig sonder om eers toestemming van ’n reguleerder te verkry.

Die oorblywende deel van die hofsaak

Sakeliga vra verlof tot appèl teen die Hooggeregshof se weiering om paragrawe (a)(iv) en (c) van die definisie ongeldig te verklaar, asook teen die hof se weiering om paragraaf (b) in sy geheel ongeldig te verklaar.

Met die appèl vra Sakeliga meer omvattende regshulp vir, onder andere:

  • Verbandmakelaars en verskaffers van oorbruggingsfinansiering wie se bedrywighede met die finansiering van eiendomstransaksies verband hou.
  • Eiendomsontwikkelaars wat eenhede in hul eie ontwikkeling verkoop of verhuur.
  • Persone wat teen vergoeding eiendom namens ander bestuur, ingevolge bepalings wat só wyd geformuleer is dat dit selfs opsigters, plaasbestuurders, koshuismoeders en mense in soortgelyke poste kan insluit.

Om hierdie wesenlik verskillende bedrywighede aan dieselfde regulatoriese bestel te onderwerp is irrasioneel en maak ongeregverdigde inbreuk op die vryheid om handel te dryf. Dit plaas onnodige koste en beperkings op ondernemings sonder dat dit ’n ooreenstemmende regmatige doel dien, tot nadeel van dié ondernemings, hul kliënte en die gemeenskappe wat hulle dien.

Met ons aansoek by die Konstitusionele Hof wil ons verseker dat ekonomiese deelname nie afhanklik gemaak word van irrasionele staatsvereistes of verpligte BEE-sertifisering nie.

Hulpbronne

Help ons om 'n florerende ekonomie te verseker

Jy kan ekonomiese orde herstel deur ons werk te befonds.