Skip to content
English|Afrikaans

Sakeliga staan rasbeperkende waterlisensiëring in die Wysigingswetsontwerp op die Nasionale Waterwet teen

Die Wysigingswetsontwerp beoog om ’n permanente, rasbeperkende waterlisensiestelsel te skep.

Sakeliga het formeel beswaar aangeteken teen die rasbeperkende waterlisensiëringsbestel wat in die Wysigingswetsontwerp op die Nasionale Waterwet voorgestel word, in geskrewe kommentaar aan die parlement se portefeuljekomitee oor water en sanitasie.

Die Wysigingswetsontwerp beoog om ’n permanente, rasbeperkende waterlisensiestelsel te skep.

Sakeliga staan voorts die voorgestelde verbod op private handel in waterregte teen, sowel as bepalings wat die staat toelaat om ongebruikte watertoekennings willekeurig en sonder vergoeding in te kort.

Misbruik van “regstelling” om te diskrimineer

Tans is “die regstelling van vorige rasse- en geslagsdiskriminasie” een van elf faktore wat oorweeg moet word, benewens oorwegings soos of die water produktief benut sal word, watter ekonomiese doel of maatskaplike doel dit sal dien en wat die hulpbronkoste daarvan sal wees. Die huidige Wysigingswetsontwerp wil hierdie maatstawwe veel verder in die rigting van rasbeperking skeeftrek.

Die voorgestelde Wysigingswetsontwerp sal rassevoorkeur – onder die vaandel van “regstelling” – tot ’n afsonderlike en verpligte vereiste in elke lisensiebesluit verhef, ongeag 'n aansoeker se unieke omstandighede of die tegniese vereistes van die betrokke hulpbron.

Dit sal die verantwoordelike owerhede voorts magtig om, met inagneming van die “demografiese samestelling van watergebruikers” in ’n waterbestuursgebied, bepaalde watervolumes vir swart mense voor te behou.

Die Wysigingswetsontwerp stel geen voorwaardes vir wanneer die beoogde regstelling bereik sal wees nie, en bied ook geen geleentheid aan ’n aansoeker om die uitkomste te laat hersien nie.

Hierdie vorm van sogenaamde regstelling is in praktyk 'n stelsel van arbitrêre ekonomiese diskriminasie, waarin ’n aansoeker se ras tegelyk ’n rede word om ’n lisensie toe te staan én om dit te weier. Amptenare word verplig om rassevoorkeur bo die meriete van ’n aansoek te stel, terwyl aansoekers onderwerp word aan vae, ongedefinieerde maatstawwe waarvoor daar geen duidelike meganisme vir hersiening bestaan nie.

Dit is onaanvaarbaar, aangesien ’n aansoeker se ras nie verband hou met die vraag of voorgestelde watergebruik doeltreffend, voordelig of in ooreenstemming met goeie omgewingsbestuur is nie.

Ekonomies skadelike gevolge

Verdere bepalings in die Wysigingswetsontwerp hou ernstige ekonomiese risiko’s in.

Waterregte wat nie benut word nie, kan nie aan meer produktiewe gebruikers verkoop of oorgedra word nie, maar word eerder aan die staat afgestaan vir herverdeling.

Daarbenewens kan die staat onbenutte toekennings op grond van ongespesifiseerde maatstawwe inkort, terwyl ondernemings hul statutêre reg op vergoeding verloor indien hulle insolvent raak. Dit sal die mark vir waterregte vernietig en vervang met 'n burokratiese stelsel wat gebruikers aan verliese sonder vergoeding blootstel. Dit skend boonop artikel 25 van die Grondwet.

Sakeliga staan hierdie maatreëls op verskeie fundamentele ekonomiese gronde teen, ongeag van demografiese eienaarskap:

  • Markmeganismes optimaliseer hulpbronbenutting: Vrywillige oordragte lei water na hoërwaarde-gebruike wat groter produktiwiteit moontlik maak, sonder om die totale onttrekking te verhoog. Deur private handel in water te verbied, ontmantel die Wysigingswetsontwerp in die praktyk hierdie doeltreffende toewysingsmeganismes en vervang dit met staatsgedrewe herverdeling. Dit is ’n wesenlike bedreiging vir verantwoordelike waterbestuur en -bewaring.
  • Die staat kan nie markpryse doeltreffend bepaal nie: Gesentraliseerde owerhede beskik nie oor die nodige kennis waarop doeltreffende markte berus nie. Amptenare dra voorts geen ekonomiese gevolge vir verkeerde toewysing nie.
  • Nie-oordraagbaarheid ondermyn batewaarde: Deur die verhandelbaarheid van waterregte weg te neem en lisensiehouers aan onteiening sonder vergoeding bloot te stel, word bates wat landboukrediet en -versekering onderskraag, in waarde verminder en vernietig.
  • Konfiskeringsbeleid moedig hulpbronvermorsing aan: Die Wysigingswetsontwerp penaliseer hulpbronbewaring deur ’n raamwerk voor te stel wat die maksimum gebruik van hulpbronne aanmoedig om lisensies te behou.
  • Beleggings vereis langtermynsekerheid: Langtermyn-kapitaalprojekte vereis betroubare en voorspelbare toegang tot water. Wanneer 'n minister waterregte na willekeur kan inkort – sonder ’n doeltreffende regsremedie – word die lewensvatbaarheid van boorde, myne en verwerkingsaanlegte ernstig ondermyn.

Die Wysigingswetsontwerp in sy huidige vorm hou geweldige skade in, is konstitusioneel gebrekkig en is op verskeie gronde regtens kwesbaar. Sakeliga behou alle regte voor om gepaste regs- en grondwetlike remedies te benut indien dit in hierdie of enige soortgelyke vorm voortgaan.

Hulpbronne

Lees Sakeliga se volledige kommentaar hier.

Help ons om 'n florerende ekonomie te verseker

Jy kan ekonomiese orde herstel deur ons werk te befonds.