Skip to content
English|Afrikaans

Sakeliga neem stappe om toe te tree tot saak in Konstitusionele Hof om kernbepalings van eiendomsreg te beskerm

Indien die oordrag van onroerende eiendom op sterkte van mondelinge ooreenkomste toegelaat word, sal dit die openbare en verifieerbare rekord van grondeienaarskap ondermyn en die funksionering van die akteregister benadeel.

Sakeliga doen aansoek om toegelaat te word tot ’n saak in die Konstitusionele Hof om die stabiliteit, sekerheid en duidelikheid van eiendomsoordragte en eiendomsreg in Suid-Afrika te help beskerm.

Die saak spruit voort uit ’n bevel wat die Hooggeregshof in Pretoria in 2025 gemaak het en wat nou deur die Konstitusionele Hof oorweeg moet word.

In die onbestrede bevel het die Hooggeregshof beslis dat mondelinge ooreenkomste vir die oordrag van residensiële eiendom ook “bindend en afdwingbaar” kan wees. Dit sal die toepassing van die Wet op Vervreemding van Grond 68 van 1981 aansienlik uitbrei. Die Wet beperk tans bindende en afdwingbare ooreenkomste tot dié wat skriftelik aangeteken is.

Die verklaarde oogmerk van die Hooggeregshof se bevel om die geskrewe formaliteitsvoorskrifte vir die oordrag van sodanige eiendom te verslap, was om kwesbare kopers te beskerm. Die bevel het egter problematiese en ingrypende gevolge vir die wyse waarop onroerende eiendom in Suid-Afrika geregistreer en oorgedra word. Dit kan partye tot sulke ooreenkomste ook blootstel aan mededingende, mondelinge aansprake wat nie weerlê kan word nie.

Registrateurs van aktes, transportbesorgers, eienaars, kopers, verbandhouers en derde partye steun op die skriftelike rekord om te bepaal of 'n grondoordrag geldig is. Indien die oordrag van onroerende eiendom op sterkte van mondelinge ooreenkomste toegelaat word, sal dit die openbare en verifieerbare rekord van grondeienaarskap ondermyn en die funksionering van die akteregister benadeel weens onoplosbare mededingende aansprake. Dit sal regsekerheid oor eiendomsreg en -oordragte ondermyn, die eiendomsmark benadeel en ekonomiese ontwikkeling belemmer op 'n wyse wat die beweerde voordele van die bevel verreweg oorskadu.

Aangesien die Hoogeregshof beslis het dat die wet teenstrydig is met die grondwet, is die bevel opgeskort hangende bevestiging deur die Konstitusionele Hof. Dit is in hierdie bevestigingsverrigtinge dat Sakeliga versoek om as amicus curiae (vriend van die hof) toegelaat te word.

Sakeliga wil die Konstitusionele Hof bystaan deur voorleggings te maak wat teen die blote bevestiging van die Hooggeregshof se bevel pleit, en ten gunste van die behoud van die gevestigde vereiste dat ooreenkomste vir eiendomsoordragte skriftelik moet wees. Sakeliga se voorleggings sluit onder meer die volgende in:

  • Die verkryging, oordrag en afdwinging van eienaarskap en ander geregistreerde saaklike regte berus op ’n stabiele en voorspelbare regsraamwerk, waarvan die geskrewe vereiste ’n grondwetlik geldige en rasionele onderdeel vorm.
  • Die Hooggeregshof se remedie is onnodig ingrypend vir die kwessies wat dit wou aanspreek, aangesien minder ingrypende remedies vir die applikante in die betrokke saak beskikbaar is.
  • Die Hooggeregshof het versuim om die mededingende grondwetlike belange behoorlik in oënskou te neem.
  • Die bevel is op grond van onvoldoende getuienis gemaak, en sonder dat al die tersaaklike staatsdepartemente as respondente gevoeg is en sodoende aan die verrigtinge kon deelneem. Die minister van grondhervorming en landelike ontwikkeling – wat verantwoordelik is vir die administrasie van die Wet op Registrasie van Aktes 47 van 1937 – is byvoorbeeld nie gevoeg nie en het geen geleentheid gehad om voorleggings te maak nie, ondanks die bevel se regstreekse gevolge vir die akteregistrasiestelsel.

Konteks

Die Hooggeregshof het sy bevel op 2 Oktober 2025 gemaak en sy redes op 11 Mei 2026 verstrek. Die saak spruit uit ’n betwiste eiendomstransaksie wat aanvanklik skriftelik voorgestel is, voordat daardie skriftelike aanbod beëindig is. Ná beëindiging van die skriftelike aanbod het die partye nietemin mondelings tot die verkoop ooreengekom. Die voornemende koper het vervolgens betalings gedoen, en bykans die volle koopprys betaal. Die eienaar het egter oordrag geweier en hom beroep op artikel 2(1) van die Wet, wat skriftelike, ondertekende koopooreenkomste vereis. Ondanks ander geskikte en beskikbare remedies het die voornemende koper die hof genader met ’n verreikende grondwetlike uitdaging teen die vereiste dat koopooreenkomste vir vaste eiendom skriftelik moet wees.

Die Hooggeregshof het die geskrewe vereiste ongrondwetlik verklaar omdat dit nie voorsiening maak vir die oordrag van residensiële eiendom kragtens ’n mondelinge ooreenkoms nie, en het gekies om woorde in die wet in te lees wat mondelinge ooreenkomste vir die oordrag van residensiële eiendom bindend en afdwingbaar maak.

Ondanks die verreikende gevolge vir die akteregister en eiendomsreg in Suid-Afrika, was die enigste staatsdepartement wat in die verrigtinge gevoeg is, die minister van handel, nywerheid en mededinging. Die minister het egter slegs ’n kennisgewing van berusting geliasseer en geen regverdiging vir die bestaande wetlike bepaling aan die Hooggeregshof voorgehou nie.

Volgende stappe

Sakeliga het die partye in die bevestigingsverrigtinge versoek om tot sy toelating as amicus curiae in te stem. Indien sodanige toestemming nie verleen word nie, sal Sakeliga ’n formele aansoek om toelating as amicus curiae bring.

Help ons om 'n florerende ekonomie te verseker

Jy kan ekonomiese orde herstel deur ons werk te befonds.