![[WordPress Migration Data]
{
"source": "WordPress Migration",
"originalUrl": "https://www.sakeliga.org.za/wp-content/uploads/2025/06/WhatsApp-Image-2025-06-17-at-14.08.31.jpeg",
"wpPath": "/wp-content/uploads/2025/06/WhatsApp-Image-2025-06-17-at-14.08.31.jpeg",
"wpYear": "2025",
"wpMonth": "06",
"wpPostCount": 2,
"wpPostIds": [
76187,
76194
],
"migratedAt": "2025-09-18T13:59:07.123Z",
"migratedBy": "wp-media-to-contentful.mjs",
"fileSize": 197071
}
[End WordPress Migration Data]](https://images.ctfassets.net/ptr3cuja5dzu/2x2h57kiO9zIMkjabxqAiF/2b02e55b27663b3c97f4e1724d54a6ae/WhatsApp-Image-2025-06-17-at-14.08.31.jpeg?w=1920&h=1080&fit=fill&fm=webp&q=85)
’n Huldeblyk aan Dawie “Zottie” de Villiers – Stigterslid en Vriend
Ek het Zottie ontmoet tydens my eerste Sakeliga direksievergadering. Wat my dadelik getref het, was die glimlag in sy oë – daardie merkwaardige mengsel van vriendelikheid, ondeunde sin vir humor en meelewendheid. Maar daar was ook vasberadenheid. ’n Dryfkrag. ’n Diep omgee vir sy naastes, sy gemeenskap, sy besigheid en vir die saak waarvoor Sakeliga staan.
By Sakeliga weet ons dat entrepreneurs die kapitaalstruktuur van ’n samelewing onderhou deur die gaping tussen kapitaal en ’n produk of diens te vervul. Hulle vul daardie gaping met selfvertroue, versiendheid en produktiewe vermoëns. Maar dan doen hulle gewoonlik nog meer: hulle tree ook in die bresse vir hul gemeenskappe, hul skole, kerke en gesinne. Sonder fanfare help dra hulle die strukture van ’n samelewing wat werk.
Ek het gou besef: Dawie het instinktief verstaan dat ’n nuwe soort sakeorganisasie in Suid-Afrika dringend nodig was – ’n selfstandige sakegemeenskap wat balans kan bring waar die staat die balans verwring. In ’n land waar die politiek in daardie stadium so sensitief geword het dat baie mense verstaanbaar daarvan weggeskram het om betrokke te raak, was Dawie se benadering – van vinnig doen en kortpad soek en planne maak – presies die regte bestanddeel op presies die regte tyd.
Dawie se invloed het ook verder gestrek. MidCity is ’n gevestigde handelsmerk in Pretoria en vele van die geboue in dié stad dra sy vingerafdrukke. Aan die Universiteit van Pretoria het hy ’n belangrike rol gespeel – as deel van die konvokasie en in besonder op die gebied van kampusveiligheid. En vir vele in outehuise en kinderhuise het hy help sorg en vreugde bring.
Ek het hom ook beter leer ken buite die raadsaal. Alikreukels uit die koue water van Heroldsbaai, en ’n paar rondes gholf saam. Daar was lag, daar was ligtheid – maar sy intensiteit het nooit verdwyn nie.
Hy was vol stories – van familiegeskiedenisse, van dorpe, van Suid-Afrikaanse herkoms. Ek hoor hom nog lag oor die kerkorrel wat op pad Australië toe in die Vrystaat eindig. Sy stories het altyd begin met ’n kronkel en geëindig met ’n waarheid. Soms, op my voorganger as voorsitter van Sakeliga, Nick Vlok, se plaas, het Dawie ons vir ure laat wag vir daardie laaste sin – en dan het dit gekom: skerp soos ’n lem, of sag soos ’n fluistering, maar altyd treffend.
Al kon ons nie daarin deel nie, weet ons nou dat Zottie, die vrolikmaker, stilweg ook ’n las gedra het.
Ons eer Dawie de Villiers vir sy lewe en sy bydraes tot Sakeliga – vir sy liefde, sy weerbarstigheid, en sy toewyding. Ons onthou hom nie as ’n man sonder stryd nie, maar as iemand wat geveg het vir wat reg is. Wat gebou het. Wat geglo het. Wat gedien het.
Mag sy lewe vir ons almal ’n herinnering wees: dat agter elke glimlag ook ’n verhaal lê, dat elke sakeman soms ’n soldaat is, en dat elke gemeenskap iemand soos Dawie de Villiers nodig het.
Rus in vrede, Zottie. Ons bou voort.
Andries Brink
Voorsitter – Sakeliga
17 Junie 2025