Skip to content
English|Afrikaans

Beëindiging van AGOA-toegang nóg ’n stap in verwagte reeks Amerikaanse strafmaatreëls

Gegewe die Suid-Afrikaanse regering se diepgewortelde verbintenis tot sy beleidstandpunte, is dit hoogs onwaarskynlik dat sy meningsverskille met Washington binnekort bygelê sal word

Die Verenigde State se kennisgewing dat Suid-Afrika se status as begunstigde van tariefvrye handelstoegang ingevolge die African Growth and Opportunity Act (AGOA) beëindig word, dui op ’n verdere, voorspelbare verskerping van Washington se strafmaatreëls.

Sedert 2000 het AGOA aan verskeie sektore beduidende tariefverligting vir uitvoere na die Amerikaanse mark gebied. Dié sektore kan nou verwag om hierdie voordeel te verloor en sal op dieselfde tariefgrondslag as uitvoerders uit ander dele van die wêreld moet meeding. Die feit dat talle Suid-Afrikaanse ondernemings dit moeilik sal vind om onder sulke omstandighede mededingend te bly, beklemtoon die ernstige skade wat rasbeperkende binnelandse regulering en wanbestuur aanrig. Dit maak fundamentele binnelandse hervorming des te meer dringend.

Vir die meeste ander sektore is AGOA se tariefverligting egter óf nie van toepassing nie (omdat ander tariefvrystellings voorrang bo AGOA geniet) óf betreklik gering. Boonop het talle ondernemings, waar moontlik, reeds voorkomende maatreëls getref deur hul doeltreffendheid te verbeter en hul uitvoermarkte wêreldwyd te diversifiseer. Dit volg op die Trump-administrasie se tariefverhogings in 2025, wat AGOA se tariefvoordele oorskadu het, en die administrasie se toenemende aanduidings dat verdere strafmaatreëls sou volg.

Hoewel AGOA dus ’n beduidende uitwerking op bepaalde ondernemings gehad het, is die invloed daarvan op die breër Suid-Afrikaanse ekonomie heelwat kleiner as wat dikwels aanvaar word. Dit beloop hoogstens ’n breukdeel van een persent van die bruto binnelandse produk (BBP).

Intussen het die skadelike binnelandse beleidsmaatreëls wat die Verenigde State wil ontmoedig – waaronder rasbeperkende ekonomiese regulering en staatsverkryging, korrupsie, onteiening sonder markverwante vergoeding en ander maatreëls wat die VSA as nadelig vir sy strategiese belange beskou – ekonomiese groei reeds vir meer as ’n dekade ondergrawe, noodsaaklike gemeenskaplike infrastruktuur verwoes en Suid-Afrika se ekonomiese uitset tot sowat die helfte beperk van wat dit andersins kon gewees het.

Deur Suid-Afrika mee te deel dat sy AGOA-toegang beëindig word, het die Verenigde State dus een van die minder ingrypende maatreëls tot sy beskikking aangewend teen ’n buitelandse regering wat na sy mening teen Amerikaanse belange optree.

Gegewe die Suid-Afrikaanse regering se diepgewortelde verbintenis tot sy beleidstandpunte, is dit egter hoogs onwaarskynlik dat sy meningsverskille met Washington binnekort bygelê sal word. Dit sal dus verstandig wees vir ondernemings om hulle op verdere Amerikaanse strafmaatreëls in die komende jare voor te berei.

Sulke maatreëls kan, soos in die geval van die beëindiging van AGOA-kwalifikasie, algemene beperkings wees wat sonder onderskeid toegepas word. Die Verenigde State kan egter ook ’n meer gedifferensieerde benadering volg deur strafmaatreëls spesifiek te rig teen Suid-Afrikaanse staatsamptenare wat by skadelike beleid betrokke is, asook organisasies en besighede wat teenstrydig met Amerikaanse belange optree, terwyl die skade aan VSA-vriendelike besighede, jurisdiksies en hervormingsgesinde dele van die samelewing sover moontlik beperk word. Die Verenigde State se geteikende visumbeperkings, wat vroeër vanjaar aangekondig is, is ’n belowende teken dat Washington bedag is op die moontlikhede vir konstruktiewe differensiasie op subnasionale vlak. Sy AGOA-besluit dui egter daarop dat strafmaatreëls met wydlopende gevolge, ook vir partye wat nie vir die betrokke beleid verantwoordelik is nie, steeds deel van sy beleidsopsies is.

Vroeër vanjaar het Sakeliga daarop gewys dat “talle Afrikalande, waaronder Suid-Afrika, waarskynlik nie ’n deeglike hersiening van AGOA-kwalifikasie op meriete sal slaag nie.” Omdat ons voorsien het dat Suid-Afrika sy AGOA-kwalifikasie sou verloor, het ons toe voorstelle aan die Amerikaanse handelsverteenwoordiger (United States Trade Representative, USTR) gedoen oor hoe AGOA hervorm kon word tydens die Amerikaanse Kongres se destyds beplande hersiening van die wetgewing in die tweede helfte van 2026. Sakeliga het voorgestel dat AGOA hervorm word om toegang regoor Afrika ook op subnasionale vlak moontlik te maak. Dit sou ondernemings in kwalifiserende streke binne lande, of ondernemings wat andersins aan die vereistes vir marktoegang voldoen, in staat stel om vir AGOA te kwalifiseer, ongeag hul nasionale regerings se beleid.

In Suid-Afrika se geval sou ons beleidsvoorstelle beteken dat dele van die plaaslike ekonomie hul AGOA-kwalifikasie kon behou, eerder as dat die voordeel in sy geheel verlore gaan. Die Amerikaanse Kongres se besluit om sy wetgewingshersiening met twee jaar uit te stel, het die moontlikheid van AGOA-hervorming egter voorlopig uitgesluit.

Moontlikhede vir konstruktiewe differensiasie op subnasionale vlak sal voortaan dus by ander beleidsmaatreëls gesoek moet word.

Help ons om 'n florerende ekonomie te verseker

Jy kan ekonomiese orde herstel deur ons werk te befonds.