|
Background image

Kabinetsoptrede oor Sakeliga se Ditsobotla saak hierdie week beloof

Following Sakeliga’s demand that the National Executive take over public administration in Ditsobotla Local Municipality.

’n Kabinetsbesluit is vir díe week beloof ná Sakeliga se eis dat die nasionale uitvoerende gesag openbare administrasie en dienslewering in die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit oorneem.

Sakeliga het president Cyril Ramaphosa, minister van COGTA Velinkosini Hlabisa, en ander kabinetslede verlede maand in kennis gestel dat ons persoonlike kostebevele teen hulle sal versoek tensy hulle voldoen aan ons regseis vir nasionale intervensie by Ditsobotla kragtens artikel 139(7) van die Grondwet.

Na afloop van ons eise het die staatsprokureur, namens die president en minister van COGTA, Sakeliga ingelig dat die minister artikel 139(7) intervensie by die kabinet sou aanbeveel.

Geen daadwerklike optrede ooreenkomstig ons eise is egter nog onderneem nie, ondanks die feit dat die nasionale uitvoerende gesag en die Noordwes Provinsie reeds in die openbaar toegegee het dat nasionale intervensie ingevolge artikel 139(7) geregverdig is.

Kort na ons skrywe en die antwoord van die Staatsprokureur verlede maand, het minister Hlabisa die krisis in Ditsobotla openlik erken.

Na aanleiding van ’n vraag aan hom oor wat hy oor Sakeliga se eise gaan doen, het hy verklaar: “Ons gaan ’n voorstel vir die nasionale regering se intervensie ingevolge artikel 139(7) voorlê. Die volgende Dinsdag sal die saak voor die kabinet dien en ek is vol vertroue dat die kabinet die intervensie deur die nasionale regering gaan goedkeur om orde en stabiliteit na daardie geteisterde munisipaliteit te bring.”

Toe minister Hlabisa egter uitgevra is oor Sakeliga se voorneme om hom, die president, en ander regeringslui persoonlik vir koste aanspreeklik te hou tensy hulle aan ons eise voldoen, het dit geblyk dat hy die situasie gevaarlik misverstaan.

“Ek dink nie,” het hy gesê, “ons sal die punt van litigasie tussen ons en die sakelui bereik nie. Ons gaan hulle onmiddellik nader sodra ek Dinsdag deur die kabinetskomitee gaan en die werklike uitvoerende kabinet op Dinsdag die volgende week , en sê ‘Hier is ons besluit; dit is hoe ons gaan ingryp om te verseker dat hulle die dienste ontvang wat hulle wil hê’.”

In teenstelling met minister Hlabisa se bewerings is die feite egter:

  1. Die regering is reeds vir jare by die “punt van litigasie” met Sakeliga en ons sake- en gemeenskapsvennote. Trouens, die regering voer lank reeds ’n regsoorlog met belastingbetalersgeld, om sonder regverdiging regsprosesse wat daarop gerig is om die staat tot optrede te dwing teen te staan en te vertraag. Minister Hlabisa en president Ramaphosa, tesame met die minister van finansies en minister van water en sanitasie is almal onder andere respondente in die voortgaande litigasie.

  2. Ondernemings pak hierdie stryd nie aan bloot omdat hulle geen dienste ontvang nie, maar omdat staatsverval, die kabinet se pligsversuim, en die regering se voortdurende belemmering van ondernemings se regrukpogings die lewens van ons dorpe en al ons gemeenskappe vernietig.

Intussen gaan Sakeliga se litigasie voort en berei ons prokureurs aanvullende verklarings voor. Die enigste wyse waarop die nasionale uitvoerende gesag voortsetting van die litigasie teen hom kan verhoed is om aan ons eis vir artikel 139(7)-implementering te voldoen.

Sou die kabinet in versuim bly, sal dit sy pligsversuim vererger. In daardie geval sal ons die hof op die kabinet se versuim om op ’n gepaste wyse met Sakeliga in Ditsobotla saam te werk, attent maak.

Hulpbronne

Kyk ons vorige persverklaring hier.