
Kabinet voldoen aan Sakeliga se regseise om beheer in Ditsobotla te neem
This means the national government is now responsible for running the municipality.
Sakeliga verwelkom die kabinet se voldoening aan ons regseise om ‘n artikel 139(7) ingryping in die ineengestorte Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit te implementeer.
Dit beteken die nasionale regering is nou verantwoordelik vir die bestuur van die munisipaliteit.
Hoewel dit ’n noodsaaklike stap is op weg daarna om die disfunksionaliteit wat die gemeenskappe van Lichtenburg, Coligny en omliggende gebiede teister op te los, is die besluit effektiewelik “op die trappe van die hof” geneem as die regering se laaste opsie om persoonlike kostebevele teen senior amptenare te vermy.
Sakeliga spreek sy dank uit teenoor die gemeenskappe, organisasies en ondernemings in Lichtenburg en die omliggende streek wat oor etlike jare gehelp het om hierdie vordering te bewerkstellig, in besonder aan die span van Agri Noordwes. Gegewe die omvang van staatsmislukking in soveel sfere dwarsoor Suid-Afrika, verwag ons dat baie werk nog vir ons en ons vennote voorlê.
Kabinet swig onder litigasie
President Cyril Ramaphosa, die minister van samewerkende regering en tradisionele sake Velenkosini Hlabisa, die minister van finansies Enoch Godongwana en ander kabinetslede is respondente in Sakeliga se litigasie en was op die punt om persoonlike kosteaansoeke teen hulle te kry toe hierdie besluit aangekondig is. Na ons eisbrief verlede maand het die Staatsprokureur, namens die respondente, Sakeliga ingelig dat die minister van samewerkende regering en tradisionele sake artikel 139(7) ingryping by die kabinet sou aanbeveel.
Dit is ’n aanklag teen hul verbintenis tot openbare ampsbekleding dat die president, sy ministers, en die kabinet eers aan hul verpligtinge voldoen om in Ditsobotla in te gryp, nadat hulle ingelig is oor die dreigende waarskynlikheid van persoonlike kostebevele.
Voortgesette waaksaamheid
Hoewel dit gepas is om behoorlike en omvattende herstel en ingryping van die nasionale regering te vereis, moet ons die regering se rekord van endemiese mislukking in Suid-Afrika in ag neem, en voorbereid wees op die noodsaak van verdere regstappe.
Jare se provinsiale “ingryping” in Ditsobotla het jammerlik ontoereikend geblyk, met dienste wat ondanks amptelike toesig ineen bly stort het.
Die kabinet se werklike optrede moet voortdurend gemoniteer en geëvalueer word.
Sakeliga sal – saam met ons plaaslike vennote – gereed staan om mettertyd waar nodig verdere maatreëls te tref.
Ons wag op amptelike verbintenisse van die respondente via hul prokureurs oor voldoening aan ons eise. Ons regspan sal die toereikendheid van hul verbintenisse en optrede beoordeel, waarna ons ’n finale besluit sal neem oor die volgende stappe rakende bestaande litigasie en die verhaling van ons regskoste.