|
[WordPress Migration Data]
{
  "source": "WordPress Migration",
  "originalUrl": "https://www.sakeliga.org.za/wp-content/uploads/2025/01/Sakeliga-PPRA-PR-Jan2025.jpg",
  "wpPath": "/wp-content/uploads/2025/01/Sakeliga-PPRA-PR-Jan2025.jpg",
  "wpYear": "2025",
  "wpMonth": "01",
  "wpPostCount": 2,
  "wpPostIds": [
    75610,
    75617
  ],
  "migratedAt": "2025-09-18T13:59:18.653Z",
  "migratedBy": "wp-media-to-contentful.mjs",
  "fileSize": 306083
}
[End WordPress Migration Data]

Hofsaak oor staatsoorskryding en BEE in eiendomsektor begin

The case seeks to pushback the unjustified application of the Property Practitioners Act of 2022 and remove BEE certification requirements.

16 Januarie 2025

Sakeliga het ’n hofsaak begin om skadelike staatsvergryp asook BEE in die eiendomsektor om te keer.

Indien geslaagd sal ons saak die ongeregverdigde toepassing van die Wet op Eiendomspraktisyns van 2022 op duisende besighede en hul kliënte stopsit, asook hul vryheid herstel om sonder BEE-sertifisering sake te doen.

Die saak bou voort op vordering uit 2024, toe ons dreigement van litigasie die Reguleerder van Eiendomspraktisyns (PPRA) gedwing het om die uitreiking van Getroudheidsfonds-sertifikate aan besighede te hervat, ongeag of hulle aan BEE deelneem of nie. Vroeër in 2024 het die PPRA op grond van BEE begin weier om Getroudheidsfonds-sertifikate uit te reik, waarmee hulle eiendomsbesighede krimineel vervolgbaar gestel het. Hoewel die omkeer van die PPRA se skadelike stappe belangrik was, is dit egter nie ’n langtermynoplossing nie omdat dit nie die onderliggende wetgewing hervorm nie.

Ons beoog dus nou om sekere artikels in die Wet op Eiendomspraktisyns (2022) en sy regulasies onkonstitusioneel en ongeldig te laat verklaar. Dit sal ’n beter ekonomiese omgewing bied wat miljarde rande per jaar raak, in belang van ’n florerende samelewing.

Eerstens poog ons om die té wye definisie van “eiendomspraktisyn” in artikel 1 van die wet terug te draai tot ’n veel meer beperkte een. Ons mik om só die meerderheid van eiendomsverwante besighede en transaksies van ongeregverdigde insluiting onder die wetgewing vry te stel.

Toe die nuwe wet in 2022 die ou Wet op Eiendomsagentskapaangeleenthede vervang het, het dit die goed gedefinieerde konsep van ’n ‘eiendomsagent’ geneem en dit met elf ander besigheidskategorieë vermeng om die nuwe term “eiendomspraktisyn” te skep. Hierdie nuwe terminologie betrek nou entiteite so uiteenlopend as direkte verkopers en verhuurders van eiendom, ontwikkelaars, eiendomsagente, bestuursagente, huiseienaarsverenigings, verbandmakelaars, prokureurswerknemers, afslaers en ander uit altesaam 12 verskillende kategorieë. Staatsreguleerders implementeer hierdie uitgebreide definisie tans algaande, ten einde nog duisende besighede en kliënte in te sluit by ’n ongeregverdigde web van duur nakoming wat hul vermoë om waarde vir hulself en hul gemeenskappe te skep ondermyn.

Sakeliga se Missie: Bou Skaalbare Oplossings Teen Staatsverval

  • Sluit aan by duisende toegewyde, missie-gerigte befondsers
  • Beskerm ons gemeenskappe teen ’n mislukkende staat
  • Verseker ’n florerende ekonomie in die plek wat jy liefhet

Ons Missie & Impak

Tweedens poog ons saak om duisende besighede kwyt te skeld van die ongeregverdigde druk om BEE-sertifikate te bekom en verskaf. Ons doen dit deur daarop te wys dat dit onbehoorlik is dat die Wet verklaar dat alle “eiendomspraktisyns” ’n Getrouheidsfonds-sertifikaat moet hê, maar die uitreiking daarvan onderhewig te stel aan die onverwante vereiste dat hulle ’n B-BBEE-sertifikaat moet hê. Die voorstelbaar geldige oogmerk van ’n Getrouheidsfonds-sertifikaat is bloot om te verseker dat professionele eiendomslui, soos eiendomsagente, hul kliënte se fondse nougeset en eties hanteer. Ons voer dus aan dat artikel 50(a)(x), wat ’n verband tussen B-BBEE-sertifikate en Getrouheidsfonds-sertifikate aanlê, geen wettige regeringsdoel dien nie en ongrondwetlik en ongeldig is. Deelname aan BEE is nie ’n vereiste om kliëntefondse nougeset en eties te hanteer nie.

Besighede is nie verplig om aan BEE deel te neem nie en díe wat deelname afwys behoort nie gedwing te word om hulpbronne aan irrelevante voldoeningsertifikate te verspil nie. Per slot van sake is ’n B-BBEE-sertifikaat ’n politieke instrument van die staat, nie ‘n sakevereiste nie – dit is nie ’n geldige voorwaarde vir ekonomiese deelname en diens aan klante, kliënte en gemeenskappe nie.

Sakeliga se doel met hierdie hofsaak is om ’n beter sakeomgewing met betrekking tot eiendom te herstel. Terwyl vele ondernemings en kliënte maniere bly vind om ondanks skadelike staatsinmenging sake te doen, betaal alle geraakte gemeenskappe die prys deur laer lewenstandaarde.

Klik hier vir hofstukke.