|
John Steenhuisen en 'n kudde koeie

Hof stel nuwe sperdatum vir landbouminister, gepaard met bestraffende kostebevel

Die Pretoriase Hooggeregshof het "teësinnig" 'n finale verlenging aan die minister toegestaan om sy artikel 10-skema teen 5 Mei te publiseer.

Sakeliga Staff
28 April 2026

Die minister van landbou, John Steenhuisen, en sy amptenare het vandag wéér die dringende hofverrigtinge wat gerig is teen hul belemmering van die private verkryging en toediening van bek-en-klouseer (BKS)-entstowwe ondermyn.

Die vertragingstaktiek het nie guns by die hof geniet nie, en streng nuwe sperdatums is deur die hof opgelê:

  1. Die minister is gelas om sy (reeds vertraagde) artikel 10-skema teen 5 Mei 2026 te publiseer.

  2. Die hof het die saak geplaas vir 11 Mei 2026, vir argumentering van die dringende interdikaansoek deur Sakeliga, SAAI en Vrystaat Landbou teen die regering se belemmering van private BKS-maatreëls.

Ten spyte van die wydverspreide nood onder boere, landboubedrywe en diere wat deur BKS geraak word, het die minister, sy direkteur-generaal en die direkteur van dieregesondheid die hof versoek om die verhoor tot 2 Junie 2026 uit te stel. Die hof het dit geweier en die minister en sy mederespondente uitdruklik gekritiseer oor hul lakse optrede, met die volgende opmerking:

"(Die bek-en-klouseer-uitbreking) is 'n aangeleentheid wat deur die regering as van nasionale belang en as 'n nasionale noodtoestand verklaar is. Dit blyk egter dat (die minister) en die tweede en derde respondente dit nie meer as sodanig beskou nie…"

Die Pretoriase Hooggeregshof het daarna "teësinnig" 'n finale verlenging aan die minister toegestaan om sy artikel 10-skema teen 5 Mei 2026 te publiseer. As teken van die hof se ontevredenheid is ’n bestraffende kostebevel op ’n prokureur-en-kliënt-skaal toegestaan.

Minister Steenhuisen het reeds versuim om verskeie sperdatums na te kom. Dit sluit onder meer in: sy verbintenis in Desember 2025 om 'n artikel 10-skema in Januarie 2026 te lewer; sy direkteur-generaal se onderneming onder eed dat die skema direk na 24 Maart 2026 deur die minister onderteken sou word; die aanvanklike sperdatum van 17 April 2026, aldus die hofbevel; en sy eie openbare onderneming om die beoogde artikel 10-skema teen 24 April 2026 te publiseer.

Litigasie duur voort

Sakeliga, SAAI en Vrystaat Landbou sal met ons litigasie voortgaan en berei vir die hofdatum van 11 Mei 2026 voor.

Ons standpunt bly dat daar geen regsbelemmering bestaan wat die private toediening van wettige BKS-entstowwe verhinder nie. Ons litigasie poog om die onregmatige belemmerings wat deur die minister gehandhaaf word, op te hef, asook om onregmatige staatsinmenging met die private invoer van goedgekeurde entstowwe te voorkom. Die minister se voortgesette verbroude pogings met 'n vrywillige artikel 10-skema is nie 'n antwoord op die regshulp wat versoek word nie.

Terwyl die minister volhard in sy poging om ’n staatsmonopolie te handhaaf en ’n parallelle private BKS-inentingsproses teen te staan, ly boere steeds verliese. Die staat het nie die wil of die vermoë het om dit te voorkom nie.

Die minister se onregmatige belemmering van bykomende privaatsektormaatreëls—wat reeds op groot skaal en sonder koste vir die staat ontplooi kon word—moet beëindig word.

home-cta-image

Help ons om 'n florerende ekonomie te verseker

Jy kan ekonomiese orde herstel deur ons werk te befonds.