Skip to content
English|Afrikaans

HOFOORWINNING: Hooggeregshof stuit landbouminister se BKS-entstofverbod

Die bevel bevestig dat eienaars en bestuurders van vee onafhanklik wettige BKS-entstowwe mag bekom en toedien.

Die Pretoriase Hooggeregshof het ’n bevel toegestaan dat entstowwe teen bek-en-klouseer (BKS) privaat verkry en toegedien mag word, sonder enige betrokkenheid van staatsveeartse. Die minister van landbou is voorts met ’n interdik verbied om in te meng in die private kommersiële betrekkinge van diegene wat BKS-entstowwe wettig na Suid-Afrika invoer.

Die bevel, ten gunste van Sakeliga, SAAI en Vrystaat Landbou, bevestig dat eienaars en bestuurders van vee onafhanklik wettige BKS-entstowwe mag bekom en toedien.

Die hof het bevind dat die minister van landbou, sy direkteur-generaal en die direkteur van dieregesondheid die aansoek "heftig" teëgestaan het, maar tog "versuim het om enige substantiewe verweer aan te bied", "vertragings in die aanhoor en beregting van die saak bewerkstellig het", en dat hul optrede "’n vorm van sanksie deur die hof regverdig." Die hof het die minister se artikel 10-skema as "problematies (vexed)" beskryf en bevind dat dit "nie voorsiening maak vir enige beheerde doel of vir die verbetering van dieregesondheid nie".

Sakeliga spreek ons waardering uit vir die samewerking van ons litigasievennote, asook vir die ondersteuning van ander georganiseerde bedryfsgroepe, individuele boere, en andere wat die uitkoms moontlik gemaak het.

Wat die bevel beteken

Danksy die bevel is die bestryding van BKS deur middel van inenting nou vir die privaatsektor én die staat tegelykertyd moontlik, in stede van slegs vir die staat.

  1. Verkryging van entstowwe: Boere, voerkrale, suiwelbedrywe en verwante landboubedrywe het nou ’n hofbeskermde weg om goedgekeurde BKS-entstowwe te verkry vanaf wettige invoerders, vervaardigers of hul agente. Geen deelname aan die staat se artikel 10-skema word vereis nie.
  2. Toediening van entstowwe: Hulle mag hierdie entstowwe ook aan hul vee toedien onder die kennisgewings- en verslagdoeningsvoorwaardes wat in die bevel uiteengesit word (bv. ten minste 5 dae se skriftelike voorafkennisgewing aan die Provinsiale Direkteur voor inenting, en kennisgewing binne 14 dae ná inenting). Weereens word geen deelname aan die staat se artikel 10-skema vereis nie.
  3. Geen kommersiële inmenging met die verkryging van entstowwe nie: Die bevel verhoed voorts die minister van landbou, die direkteur-generaal en die direkteur van dieregesondheid om in te meng in die kommersiëlebetrekkinge van diegene wat BKS-entstowwe wettig invoer en hul internasionale verskaffers. (Hoewel geen bevinding oor beweerde wangedrag in die dringende verrigtinge gemaak is nie, spruit die interdik uit getuienis wat die applikante aangebied het dat die minister of sy medewerkers ingemeng het in ’n invoerooreenkoms wat tussen ’n plaaslike invoerder van diere-entstowwe en ’n Argentynse entstofvervaardiger gesluit is.)
  4. Staat se BKS-pogings word nie belemmer nie: Bestaande maatreëls oor die beweging van vee en die rapportering van vermoedelike BKS-voorvalle bly onveranderd, en die staat behou sy diskresie om entstof wat hy self bekom het, toe te ken. Die hof dui aan: "Die staat kan ingevolge die bepalings hierin BKS-entstof aan die privaat sektor beskikbaar stel vir private toediening, maar is nie verplig om dit te doen nie," en "niks in hierdie bevel ontneem enige eienaar/bestuurder van vee die reg om bystand van die staat of ’n private veearts te bekom nie".

Litigasie ’n gepaste reaksie op onregmatige staatsoptrede

Die uitspraak bevestig dit wat die applikante van die begin af aangevoer het: dat daar geen regmatige belemmering bestaan vir eienaars en bestuurders van vee om goedgekeurde BKS-entstowwe te bekom en aan hul diere toe te dien nie. Trouens, die uitgereikte bevel is presies die voorgestelde bevel wat die applikante tydens die verrigtinge getender het.

Veelseggend is dat die hof die grondbeginsel wat die aansoek onderlê bevestig het: "Dit is ’n vasgestelde regsbeginsel dat enige private persoon enigiets mag doen wat nie deur die reg verbied word nie." ’n Beleid of ’n praktyk, het die hof bygevoeg, "kwalifiseer nie as ’n wet nie".

Geen toestemming word dus van die minister of ander staatsamptenare vir private BKS-inentingspogings vereis nie — nóg ingevolge die gebrekkige artikel 10-skema, nóg andersins.

Hofbevindings teen die minister van landbou

Die uitspraak teken die volgende aan:

  • Die minister en ander respondente "moes ’n verbod wat regskrag besit het kon aantoon", soos ingevolge subartikel 1(a) van die Wet op Dieresiektes se "algemene afgekondigde maatreëls". Die respondente het egter, "...nie na enige sodanige … maatreëls verwys nie. Hierdie versuim is skreiend."
  • Die staatsrespondente "kon kwalik ’n grondslag aantoon" vir hul betoog dat slegs die regering BKS-inentings kan hanteer. "Vandaar," het die hof bevind, met verwysing na die minister se laat artikel 10-skema, "die haas om ’n verbod op privaat toegediende inenting van vee in die Staatskoerant te publiseer". (Ingevolge die minister se artikel 10-skema sou boere en veeartse verbied wees om entstowwe privaat toe te dien, tensy hulle vooraf toestemming van die staat bekom het.)
  • Die hof verwerp die staat se voorstelling van private inenting as iets wat staatspogings sou belemmer. Trouens, die hof het bevind dat "tussentydse regshulp nie ’n negatiewe uitwerking sou hê op die [minister en andere se] uitoefening van hul verpligtinge om BKS te beperk nie", maar "hulle juis in die stryd teen BKS sou bystaan."

By die beslissing oor koste het die hof op die respondente se vertragingspogings en gebrek aan ’n betekenisvolle verweer gewys: "Sodanige optrede vra om ’n vorm van sanksie deur die hof. Nogtans versoek die applikante nie ’n bestraffende kostebevel nie." Onder díe omstandighede het die hof die minister van landbou, die direkteur-generaal en die direkteur van dieregesondheid gelas om die koste van die aansoek op ’n party-en-party-skaal te betaal, insluitende die koste van twee advokate op skaal C (die hoogste skaal ingevolge die hofreëls) en die koste van die mislukte mediasie.

Verdere litigasie

Die bevel wat vandag bekom is, verleen tussentydse regshulp hangende die indiening van ’n volledige hersieningsaansoek gedurende Junie 2026. Sakeliga, SAAI en Vrystaat Landbou sal nou met hierdie hersieningsaansoek voortgaan ten einde finale regshulp te bekom, wat die minister en ander respondente se beoogde onregmatige verbod op private BKS-entstofverkryging en -toediening tersyde stel.

Hoewel die applikante die saak so ver as nodig in die hof sal voer, sou dit ’n welkome verwikkeling wees indien die minister en ander staatspartye sodanige litigasie met verstandige stappe vermy.

Hulpbronne

Help ons om 'n florerende ekonomie te verseker

Jy kan ekonomiese orde herstel deur ons werk te befonds.