Skip to content
English|Afrikaans

HOFOORWINNING: Internasionale lugrederye bevry van rasgebaseerde lisensiëring in Suid-Afrika

Die hofbevel dien as bewys aan internasionale ondernemings en regerings dat rasgebaseerde eise deur Suid-Afrikaanse reguleerders suksesvol teengestaan en tersyde gestel kan word.

Internasionale lugrederye wat in Suid-Afrika sake doen, is nou bevry van BEE- en ander rasgebaseerde lisensiëringsvereistes, ná Sakeliga se oorwinning Vrydag in die Hooggeregshof in Pretoria.

Die hof het die Internasionale Lisensieraad vir Lugdienste (IASC) se pogings om die B-BBEE-wet en ander rasgebaseerde kriteria by die beoordeling van lisensieaansoeke toe te pas, tersyde gestel en onregmatig verklaar.

Die hofbevel bevestig dat staatsorgane nie BEE-vereistes in lisensiëringsregimes mag insmokkel waar hul magtigende wetgewing geen sodanige bevoegdheid verleen nie.

Dit dien ook as bewys aan internasionale ondernemings en regerings dat rasgebaseerde eise deur Suid-Afrikaanse reguleerders suksesvol teengestaan en tersyde gestel kan word.

Wat die bevel beteken

  1. Dit is onregmatig vir die IASC om B-BBEE-nakoming te vereis of enige rasgebaseerde kriteria toe te pas wanneer aansoeke om internasionale lugdienslisensies beoordeel word.
  2. Lisensieaansoeke moet uitsluitlik beoordeel word op grond van die kriteria wat in die Wet op Internasionale Lugdienste en toepaslike regulasies uiteengesit word. Hierdie kriteria handel onder meer oor operasionele kapasiteit, veiligheidsstandaarde, verblyfreg en omsigtige beheervereistes. Die toepassing van kriteria wat nie met die Wet en regulasies verband hou nie, is onregmatig.
  3. Internasionale verskaffers van passasiers-, vrag- en ander lugdienste kan voortaan sonder BEE-vereistes om lisensies aansoek doen en bestaande lisensies hernu.

Agtergrond

Rasbeperkende lugvaartlisensiëring in Suid-Afrika strek minstens terug tot 2023.

Dit het onder Sakeliga se aandag gekom dat die binnelandse reguleerder, die Air Services Licensing Council (ASLC), lisensiehernuwings geweier het op grond van die regering se program van "Swart Ekonomiese Bemagtiging" (BEE).

BEE is 'n radikale weergawe van wat internasionaal ook as DEI bekend staan, waar staatsinstellings in Suid-Afrika poog om regulering te gebruik om ekonomiese geleenthede op grond van ras te beperk.

Kort nadat Sakeliga 'n formele ondersoek geloods het, het buitelandse ambassades ons meegedeel dat die IASC soortgelyke eise aan internasionale verskaffers van passasiers-, vrag- en ander lugdienste gestel het.

Die IASC het met hierdie eise volhard ten spyte daarvan dat die Wet op Internasionale Lugdienste hom geen bevoegdheid verleen om BEE-kriteria op te lê nie.

Nadat Sakeliga sy litigasie teen die binnelandse reguleerder afgehandel het, het ons in Oktober 2025 met soortgelyke litigasie teen die IASC begin. Die minister van vervoer het reeds in November 2025 die hof in kennis gestel dat sy nie die aansoek sou teenstaan nie, en die IASC het in Februarie 2026 sy opposisie teruggetrek. Dit het die weg gebaan vir hierdie gunstige bevel.

Verdere BEE-dreigemente in die lugvaartbedryf

Die lugvaartbedryf bly onderhewig aan voortdurende regulatoriese druk om toegang op grond van ras te beperk. Sakeliga ondersoek klagtes teen die Lughawemaatskappy van Suid-Afrika (ACSA) oor sy ontluikende praktyk om BEE-deelname 'n voorwaarde te maak vir die huur van kantoorruimte, vliegtuigloodse en ander huurooreenkomste.

Sakeliga is daartoe verbind om sy teenkanting teen BEE op te skaal ten einde 'n ekonomiese orde en 'n gesonde sakeomgewing te herstel.

Sakeliga spreek sy waardering uit vir die volgehoue weerstand wat oor verskeie jare gehandhaaf is deur internasionale lugrederye, buitelandse ambassades en bedryfsverteenwoordigers teen die IASC se eise. Hul samewerking en ondersteuning het ’n belangrike bydrae tot ons ondersoek en litigasie gelewer.

Hulpbronne

Help ons om 'n florerende ekonomie te verseker

Jy kan ekonomiese orde herstel deur ons werk te befonds.