
Sakeliga Wen BEE Saak Teen Plaaslike Lugdiensreguleerder
Die Hoogeregshof het dit onwettig verklaar om lisensiëring aan rassekriteria te onderwerp.
In ‘n betekenisvolle BEE-oorwinning vir Sakeliga en die lugvaartbedryf, het die Pretoriase Hooggeregshof gister beveel dat dit onwettig is om lugdienslisensies aan B-BBEE of rasgebaseerde kriteria onderhewig te stel.
Hierdie hofbevel verbreed kommersiële vryheid en die beskikbaarheid van lugdienste aan almal in Suid-Afrika.
Die hof het ‘n kostebevel teen die eerste respondent, die Lugdienslisensiëringsraad (ASLC) toegeken. Die ASLC is ‘n statutêre liggaam verantwoordelik vir die lisensiëring van binnelandse lugdiensverskaffers, insluitend passasiers-, mediese-, vrag-, brandbestrydings-, en hommeltuigdienste, en meer.
Sedert ten minste Desember 2023 het die ASLC binnelandse lugdiensverskaffers se lisensies geweier en/of vertraag deur aan te dring op B-BBEE-sertifisering en transformasie-ondernemings.
Die weiering van lisensies op grond van BEE is strydig met die ASLC se statutêre mandaat in die Lugdienslisensiëringswet 115 van 1990. Die Wet bepaal dat die ASLC lisensies moet uitreik wanneer ‘n aansoeker aan vereistes oor veiligheid, verblyfreg, en beheer en registrasie van vliegtuie voldoen, en laat nie die ASLC toe om bykomende vereistes te voeg nie.
Daar is geen grondslag in die wet om ras, transformasie, of B-BBEE ‘n voorvereiste vir lugdienslisensies te maak nie. Deur lisensiëringskriteria in te stel wat niks met operasionele standaarde en aanspreeklikheid te doen het nie, het die ASLC se lisensiëringspraktyke kommersiële vryheid en die beskikbaarheid en veiligheid van plaaslike lugdienste in gedrang gebring.
Nadat die ASLC Sakeliga se waarskuwings vir ‘n jaar geïgnoreer het, het ons in November 2024 litigasie aanhangig gemaak, en nou geseëvier.
Eerste hofbevel teen 3de Golf BEE
Die bevel is die eerste om ‘n geval van 3de Golf BEE te beperk, waarin reguleerders poog om BEE ‘n voorvereiste vir privaat kommersiële aktiwiteit te maak.
Die 3de Golf van BEE verskil van die Eerste en Tweede Golwe van BEE, wat nie-statutêr was of grootliks op besighede toegepas is wat staatskontrakte najaag (en hul verskaffers).
Sedert ongeveer 2018 het reguleerders en amptenare gepoog om die omvang van besigheidslisensiëring te vergroot, terwyl hulle terselfdertyd daardie lisensies aan BEE-vereistes koppel, en sodoende effektief probeer om BEE in ‘n voorvereiste vir deelname aan die ekonomie te verander.
Vir meer inligting oor 3de Golf BEE, kyk ons vyf-minute verduidelik-video hier.
Bykomende bevel teen reguleerder se verbod op opnames
Die hof het ook die ASLC se verbod op die gebruik van elektroniese toestelle tydens lisensieverhore en op die maak van opnames van interaksies met personeel onwettig verklaar.
Hierdie deel van die bevel het gevolg op Sakeliga se vasstelling dat die ASLC uitdruklik aansoekers verbied het om hul lisensie-aansoekverhore op te neem en enige elektroniese toerusting saam te bring. Dit, ten spyte van die feit dat die Wet bepaal dat die verhore publiek moet wees.
Tydens en tussen verhore is aansoekers ook onderwerp aan arbitrêre en verbale eise rakende BEE en transformasie, wat dikwels nêrens op skrif verskyn het nie.
Internasionale lugdienste ook geraak
Sedert ons in 2023 met ons ondersoek begin het na die skadelike en onwettige optrede van die ASLC rakende binnelandse lugdienslisensies, het ons soortgelyk onregmatige optrede rakende internasionale lugdienste in Suid-Afrika geïdentifiseer.
Die ASLC se eweknie vir lisensiëring van internasionale lugdienste, die Internasionale Lisensieraad vir Lugdienste (IASC), het BEE-eise gestel aan groot internasionale lugdienste en plaaslike maatskappye wat by internasionale lugdienste betrokke is. Dit veroorsaak beduidende diplomatieke ongemak, en raak lugdienste van die Amerikas, Europa, Australië, Afrika, die Midde-Ooste, en Oos-Asië.
Sakeliga is in ‘n gevorderde stadium daarvan om die IASC-vereistes op gronde soortgelyk en bykomend tot dié in die ASLC-saak te betwis.
Daarbenewens oorweeg ons ook opsies by ander gevalle van potensieel skadelike rasbeperkende vereistes deur nog ander reguleerders en ander staatsentiteite, nie net verwant aan lugvaart nie maar ook in verskeie ander sektore.
Meer oor Sakeliga-litigasie
Sakeliga se litigasie perk in, stop of draai skadelike staatsbeleid en -optrede terug, en soek alternatiewe vir mislukkende staatsdienste, tot openbare voordeel. Ons werk vir ‘n gesonde ekonomiese orde wat florerende gemeenskappe dien.
Hulpbronne
Kliek hier vir die kennisgewing van mosie, toegestaan deur bevel van die hof.
Kliek hier vir die volledige hofstukke.