|
[WordPress Migration Data]
{
  "source": "WordPress Migration",
  "originalUrl": "https://www.sakeliga.org.za/wp-content/uploads/2024/11/Depositphotos_315872874_L-copy.jpg",
  "wpPath": "/wp-content/uploads/2024/11/Depositphotos_315872874_L-copy.jpg",
  "wpYear": "2024",
  "wpMonth": "11",
  "wpPostCount": 2,
  "wpPostIds": [
    75438,
    75445
  ],
  "migratedAt": "2025-09-18T13:59:26.112Z",
  "migratedBy": "wp-media-to-contentful.mjs",
  "fileSize": 447793
}
[End WordPress Migration Data]

Finansiële Sektor Transformasieraad bluf oor BEE

29 November 2024

PAIA-rekords bekom deur Sakeliga, toon dat nog ‘n reguleerder oor BEE gebluf het.

In Maart het die Finansiële Sektor Transformasieraad (FSTC) alle finansiële instellings – van individuele makelaars tot groot korporatiewe spelers – verplig om bewys te lewer van hul Breë-Basis Swart Ekonomiese Bemagtiging (B-BBEE) status.

Na bestudering van die FSTC se antwoorde en rekords soos aan Sakeliga verskaf, kan ons bevestig dat die raad geen sodanige wetlike, statutêre of openbare magte het nie. Die FSTC is nie by magte om nakoming van sy jaarlikse verslagdoeningskennisgewings af te dwing nie. Die raad kan ook nie enige sanksies oplê nie, insluitend die swartlysing of publieke bekendmaking van finansiële instellings wat nie onder ander omstandighede BEE-akkreditasie sou soek nie.

Die implisiete dreigement om as ‘n ‘nie-nakomende’ finansiële instelling geklassifiseer te word, die innuendo dat nie-deelname aan BEE tot sanksies kan lei, en die FSTC se ooglopende eskalasie om die regering se BEE-beleid na die finansiële sektor uit te brei, is alles deel van ‘n plan. Die doel is om besighede te intimideer om onnodige, skadelike en duur BEE-strukture in werking te stel.

Die FSTC en onkritiese nakomingsadviseurs het veral klein en medium finansiële instellings laat glo dat nie-nakoming van die FSTC se jaarlikse verslagdoening en die 2017 Finansiële Sektor-kode se verkrygingsteikens ’n skending van hul professionele en wetlike pligte sou wees. Hierdie besighede is boonop gewaarsku dat hulle finansiële en professionele sanksies in die gesig kon staar. Die FSTC het selfs gedreig om instellings wat nie hul jaarlikse BEE-verslae indien nie op ’n swartlys te plaas en hul name openbaar te maak.

PAIA-rekords (skakel hieronder), regsadvies en verskeie mededelings deur rolspelers in die bedryf is nou egter afdoende aanduiding dat die FSTC gebluf het, wat tot ‘n vals indruk by besighede oor hul verpligtinge gelei het.

Daar is tans geen wetlike of statutêre verpligting op finansiële instellings om aan enige van die jaarlikse verslagdoeningskennisgewings wat die FSTC uitreik te voldoen nie.

Trouens, verskeie besighede wat nie aan BEE deelneem nie het aan ons gerapporteer dat die FSTC nie teen hulle opgetree het nie, selfs al het hulle die FSTR se eise geïgnoreer of uitdruklik geweier om daaraan te voldoen.

Sakeliga se Missie: Bou Skaalbare Oplossings Teen Staatsverval

  • Sluit aan by duisende toegewyde, missie-gerigte befondsers
  • Beskerm ons gemeenskappe teen ’n mislukkende staat
  • Verseker ’n florerende ekonomie in die plek wat jy liefhet

Ons Missie & Impak

Die FSTC krabbel terug

In April 2024 het ons die FSTC versoek om sy interne reëls, beleide en die bron van sy oënskynlike gesag om eise aan finansiële besighede te stel aan ons te oorhandig. Die raad het aanvanklik ingestem om die nodige inligting te verskaf. In Junie het dit egter van deuntjie verander, Sakeliga van ‘n ‘visvang-ekspedisie’ beskuldig en samewerking geweier. Na ‘n formele klag by die Inligtingsreguleerder van Suid-Afrika het die FSTC verlede week uiteindelik toegegee en aan ons versoek om toegang tot inligting voldoen.

Volgens die FSTC se antwoord is die Finansiële Sektor-kode sy enigste gronde vir ‘n aanspraak op gesag en die vermoë om sanksies op te lê. Die FSTC erken selfs uitdruklik dat dit oor ‘geen ander sanksies’, ‘finansiële strawwe’ of ‘professionele sanksies’ beskik nie.

Die Sektor-kode is op 1 Desember 2017 deur die destydse Minister van Handel en Nywerheid, Rob Davies, gepubliseer. Die kode plaas egter geen positiewe, wetlike plig op finansiële instellings om jaarlikse verslagdoening en akkreditasie ingevolge die Wet op Breë-Basis Swart Ekonomiese Bemagtiging (B-BBEE) te ondergaan of te handhaaf nie. Hierdie keusevryheid is verstaanbaar aangesien die B-BBEE-stelsel op staatstransaksies gemik is – nie op privaat besigheid nie.

Die B-BBEE-wet as raamwerk en die Sektor-kode verplig nie finansiële instellings – of enige ander besigheid – om aan jaarlikse BEE-verslagdoening deel te neem. Besighede wat nie aan BEE wil deelneem nie en die FSTC se verslagdoeningskennisgewings ignoreer, staar geen direkte sanksies of boetes in die gesig nie.

Die sanksie wat ingevolge die Sektor-kode vir die FSTC beskikbaar is, is om ‘n reeds deelnemende finansiële instelling met een BEE-vlak af te gradeer as hulle versuim om hul verslag betyds in te dien of nie aan die sogenaamde prioriteitselemente voldoen nie. Vir nie-deelnemende finansiële instellings het dit geen gevolge nie.

Finansiële instellings is nie verplig om aan die FSTC se verslagdoeningskennisgewings te voldoen nie, en hoef ook nie aan enige sektorale teikens of BEE-vlakke, wat deur die FSTC of die Finansiële Sektor-kode gestel word, te voldoen nie. Veral van belang is dat die FSTC nie die wetlike gesag het om finansiële instellings wat nie voldoen nie in die openbaar te kritiseer of te swartlys nie.

Nakomingseise deur groot finansiële instellings

Na die FSTC se verslagdoeningseise was daar betreurenswaardige voorbeelde van groter finansiële instellings wat uit eie beweging hierdie rapporteringseise aan kleiner vennote, soos makelaars en finansiële beplanners met wie hulle kontraktueel verbind was, gaan staan en stel het. Hierdie praktyk is ongesond en stel die groter instelling aan sowel etiese- as regsrisiko’s bloot, en maak skadelik inbreuk op die kleiner rolspelers en hul kliënte.

Sakeliga stel voor dat groot finansiële instellings hul benadering tot FSTC-kennisgewings hersien en hulself daarvan weerhou om BEE-vereistes aan kleiner finansiële instellings op te dwing. Die fokus moet eerder op bewese sakebeginsels val, in plaas van blindelinge navolging van die FSTC se politieke agenda.

Derde-golf BEE

Sakeliga sal voortgaan om derde-golf BEE in die finansiële sektor te monitor en sal optree teen reguleerders wat onregmatig en onkonstitusioneel poog om die invloed van BEE uit te brei en besighede op grond van hul BEE-status te sluit.

In stede daarvan om oor gemeenskappe heen waardeskeppende ekonomiese samewerking aan te moedig, verhoog BEE laag-op-laag die strukturele koste van besigheid in Suid-Afrika, wat goedere en dienste duurder maak en uiteindelik almal verarm.

Ons is van mening dat die gemeenskaplike goeie ten beste gedien word wanneer ondernemings skadelike BEE-beleide met ’n strategie van maksimum aangewese nie-nakoming benader.

Vir die PAIA-rekords soos verkry, klik hier.