
BKS: Gepaste reaksie van minister Steenhuisen nog uitstaande
Dit is van kardinale belang dat die minister ons vrae oor bek-en-klouseer reguit antwoord.
Die minister van landbou se openbare verklaring Dinsdag in reaksie op ons aanmaningsbrief wat Maandag hierdie week aan hom beteken is, voldoen nie aan ons vereistes nie. Hy het tot Vrydag, 30 Januarie 2026, om te voldoen.
Minister John Steenhuisen se ongewoon vinnige reaskie dui wel op die waarde van geloofwaardige regsprosesse om aanspreeklikheid af te dwing op andersins trae staatsamptenare.
Nietemin, die minister se reaksie is egter vaag en vol gebreke, en die mediaverklaring kan dus nie as 'n gepaste reaksie beskou word nie.
In Sakeliga, SAAI en Vrystaat Landbou, se aanvanklike aanmaning verduidelik ons prokureurs dat ons geen statutêre belemmering kon vind wat boere en ander rolspelers verhoed om bek-en-klouseer-entstowwe vir hul vee privaat aan te koop en toe te dien nie. Die minister word tot die einde van die week tyd gegun om skriftelik te verklaar of hy met ons saamstem, al dan nie – in welke geval hy sy standpunt volledig moet toelig met verwysing na die regsdokumente waarop hy staatmaak.
Dit is van kardinale belang dat die minister die vrae reguit antwoord, sodat dit uit sy antwoorde kan blyk of daar werklik 'n geskil tussen die minister en Sakeliga, SAAI en Vrystaat Landbou bestaan. Indien ons tot die gevolgtrekking sou kom dat die minister of sy kollegas die privaatsektor se entstofverkryging en -toediening onregmatig of onbehoorlik belemmer, sou dit ons verplig om dit dringend deur litigasie reg te stel.
Wanvoorstellings wat verdere maatreëls ontlok
Laastens spreek die minister in sy verklaring sy begeerte uit om litigasie te vermy, wat verwelkom word.
Wat egter nie welkom is nie, is die minister se wanvoorstelling dat die moontlike litigasie die opskorting van enige wettige optrede deur hom of sy kollegas sou vereis, of dat dit die staat se reaksie op BKS sou vertraag. Dit is 'n wanvoorstelling in sowel feit as reg, waarmee hy klaarblyklik die weg baan vir verdere verskonings oor voortgesette belemmering of versuim deur sy departement.
Die litigasie wat sou volg, indien dit sou blyk dat die minister 'n onregmatige standpunt handhaaf wat private entstofverkryging en -toediening belemmer, sou nie vereis dat die minister enige wettige maatreël opskort nie, en sou hom of ander amptenare ook nie van hul verpligtinge vrystel wat voortspruit uit hul klassifikasie van die siekte as 'n "staatsbeheerde" siekte nie.
Indien ons bevind dat die minister of sy departement op enige wyse die staat se reaksie op BKS onbehoorlik ontspoor, frustreer, weerhou of andersins vertraag, ten spyte daarvan dat litigasie juis sorgvuldig gestruktureer is om dit nie te noodsaak nie, sou die minister verdere maatreëls teen hom en sodanige staatsamptenare persoonlik ontlok.
