Bek-en-klouseer: Staatsbelemmerings verwyder na skikkingsooreenkoms
Die skikking erken die reg van boere en bestuurders om hul vee privaat in te ent en baan die weg vir die ontwikkeling van stabiele en mededingende kommersiële voorsieningskettings vir BKS-entstowwe
Die staat, Sakeliga, Saai en Vrystaat Landbou het die litigasie oor bek-en-klouseer (BKS) geskik op voorwaardes wat die private verkryging en toediening van BKS-entstowwe moontlik maak.
Die skikking volg op die tussentydse bevel van die Hooggeregshof in Pretoria op 25 Mei 2026, wat reeds ’n hofbeskermde roete vir die private verkryging en toediening van entstowwe geskep het.
Die litigasie en die daaropvolgende skikking het nou gelei tot ’n proses waarvolgens die staat die reg van eienaars en bestuurders om hul diere teen BKS in te ent, sal erken en ondersteun. Rekordhouding sal terselfdertyd aan die staat se moniteringvereistes vir BKS voldoen.
Die partye tot die skikking, insluitend die departement en Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP), het ook van enige bestaande uitsluitlike regte op die invoer en/of verspreiding van BKS-entstowwe afstand gedoen. Dit baan die weg vir die ontwikkeling van stabiele en mededingende kommersiële voorsieningskettings vir BKS-entstowwe, soortgelyk aan dié wat reeds vir talle ander veeartsenykundige produkte bestaan.
Hierdie gunstige uitkoms beklemtoon opnuut die waarde van litigasie as ’n gepaste meganisme om spesifieke geskille te besleg. Litigasie by aangeleenthede van openbare belang, waarby openbare instellings betrek word, behoort nie as persoonlike aanvalle beskou te word nie. Regsoptrede van hierdie aard is in beginsel volkome versoenbaar met die handhawing van opbouende samewerking en bly 'n gepaste meganisme, selfs wanneer sodanige verhoudings aanvanklik onder druk verkeer.
Sakeliga spreek sy waardering uit teenoor ons mede-applikante, die talle individue, ondernemings en organisasies wat ondersteuning gebied het, asook die minister en die betrokke staatsinstellings vir hul bydrae tot die skikking.
Hulpbronne:
Help ons om 'n florerende ekonomie te verseker
Jy kan ekonomiese orde herstel deur ons werk te befonds.
.jpg?w=1920&q=85&fit=crop&auto=format)