![[WordPress Migration Data]
{
"source": "WordPress Migration",
"originalUrl": "https://www.sakeliga.org.za/wp-content/uploads/2025/04/Sakeliga-Medical-Price-Control-copy.jpg",
"wpPath": "/wp-content/uploads/2025/04/Sakeliga-Medical-Price-Control-copy.jpg",
"wpYear": "2025",
"wpMonth": "04",
"wpPostCount": 2,
"wpPostIds": [
75964,
75949
],
"migratedAt": "2025-09-18T14:03:58.436Z",
"migratedBy": "wp-media-to-contentful.mjs",
"fileSize": 396206
}
[End WordPress Migration Data]](https://images.ctfassets.net/ptr3cuja5dzu/7fdk7sGqeheYsvPXx17Yyl/d0ac9eebd5429c9b826ed82e411792e9/Sakeliga-Medical-Price-Control-copy.jpg?w=1920&h=1080&fit=fill&fm=webp&q=85)
Regering publiseer voor-NGV prysbeheerplanne
Sakeliga is besig om die regering se jongste planne vir prysvasstellings vir mediese dienste teë te staan. Die prysvastellings is ’n stap wat die weg baan vir Nasionale Gesondheidsversekering, verminderde mediese sorg, en ‘n wesenlike uittog van gesondheidspraktisyns.
- Met nuwe konsepregulasies rakende mediese prysvasstelling hoop die regering om ‘vlot oor te skakel na die NGV-raamwerk’.
- Die konsepregulasies wil regeringsbeheer oor gesondheidsorgtariewe bewerkstellig, wat praktisyns sal beperk tot vasgestelde tariewe, ongeag hul kundigheid of spesiale omstandighede.
- Hierdie beperkings sal gesondheidsorgpraktisyns van hul selfstandigheid stroop, en daarmee saam menige praktisyns oorsee of uit die sektor dryf, met verminderde gesondheidsdienste as gevolg.
Sakeliga het formele besware ingedien teen die ‘Draft Interim Block Exemption for Tariffs Determination in the Healthcare Sector’, wat in Februarie deur die minister van handel en nywerheid gepubliseer is.
Onder die vaandel van ’n vrystelling van die Mededingingswet oënskynlik daarop gemik om kollektiewe bepaling van gesondheidsorgtariewe toe te laat, stel die konsepregulasies in werklikheid ’n ongemagtigde, regeringsgeleide tariefbeheer-skema vir gesondheidspraktisyns voor – as ’n weg om ‘vlot oor te skakel na die NGV-raamwerk’.
Waar gesondheidsorgtariewe in die private sektor lank reeds deur bilaterale onderhandelinge tussen verskaffers en finansierders van gesondheidsorg bepaal is, poog die konsepregulasies om mediese fondse, gesondheidspraktisyns en andere vry te stel van die Mededingingswet se bepalings wat gesamentlike, eerder as blote bilaterale, tariefbepalings verbied.
Om beperkings op gesamentlike tariefbepaling op te hef, is op sigself nie problematies nie.
Die ‘vrystelling’ gaan egter veel verder:
Dit bepaal dat die Departement van Gesondheid aansienlike beheer sal uitoefen en selfs die laaste sê kan hê oor die bepaling van maksimum tariewe vir gesondheidsdienste. Die maksimum tariewe sal van toepassing wees op Voorgeskrewe Minimum Voordele en nie-Voorgeskrewe Minimum Voordele.
Sodra bepaal, sal die maksimum tariewe bilaterale ooreenkomste, wat moontlik gunstiger vir gesondheidsorgverskaffers kan wees, verhinder.
Terwyl dit voorgee om gesondheidsorg meer bekostigbaar te maak, sal die konsepregulasies in werklikheid vir staatsamptenare die deurslaggewende sê gee oor hoeveel dokters vir privaatdienste kan hef.
Gesondheidsorgpraktisyns sal in wese verhinder word om beter tariewe te onderhandel, selfs wanneer dit deur hulle kundigheid of spesiale omstandighede geregverdig word.
Die konsepregulasies is dus nie ’n vrystelling nie, maar ’n onwettige poging tot ’n regeringsgeleide prysbeheer-skema ter voorbereiding van NGV-implementering.
Bowenal sal die konsepregulasies, indien dit afgekondig word, lei tot minder verskaffers, dalende diensgehalte en verminderde toegang in landelike gebiede tot private mediese sorg. Die rimpeleffek sal verhoogde druk op die reeds sukkelende openbare gesondheidsektor wees.
Wanneer die regering in wese plafonne skep vir tariewe wat gesondheidspraktisyns kan hef, sal diegene wat nie hul bedryfskostes kan dek nie of wat onaanvaarbaar lae opbrengste in die gesig staar, gedwing word om hulle praktyke te sluit, op pasiëntsorg in te boet, of die bedryf of land te verlaat.
Landelike gemeenskappe en gespesialiseerde dienste sal die swaarste getref word, aangesien dit dikwels met hoër bedryfskoste gepaard gaan. Pasiënte kan langer wagtye, minder gesondheidsorgopsies en dalende gehalte van sorg in die gesig staar, alles terwyl die regering voorbereidings tref vir sy NGV-skema.
Sakeliga se standpunt is dat die konsepregulasies sodanig gebrekkig is dat dit in geheel teruggetrek moet word.
Ons is van voorneme om die implementering daarvan teë te staan, net soos ons die implementering van die NGV-wet sal teëstaan.
Lees Sakeliga se kommentaar op die konsepregulasies hier.