
Litigasie dwing landbouminister tot ommekeer oor private BKS-inenting
'n Konsepskema stel voor dat private inenting toegelaat sal word soos deur private veeartse aangewys, en sonder toesig.
Die Pretoriase Hooggeregshof het die minister van landbou John Steenhuisen gelas om 'n skema te finaliseer wat op die nippertjie aan die hof voorgelê is. Die skema maak vir die eerste keer voorsiening vir private inenting teen bek-en-klouseer (BKS) sonder toesig. Die minister is ook gelas om die koste te betaal.
"Wanneer die dood aan die deur klop, dan ewe skielik," en "skielik, wanneer die skoen druk, word allerhande dinge gedoen." "As 'n mens kyk na wat die eerste respondent [minister Steenhuisen] op openbare platforms gesê het, is dit heeltemal in stryd met sy huidige houding."
Dit is van die regter se merkwaardige opmerkings in die aanloop tot gister se hofbevel wat die minister van landbou verplig om sy voorgestelde skema vir private inenting sonder toesig teen 17 April te finaliseer.
Die hof het die dringendheid van die aansoek deur Sakeliga, SAAI en Vrystaat Landbou aanvaar en ook 'n verdere hofdatum van 28 April bevestig om die gepastheid en regmatigheid van die maatreëls wat deur die minister getref is, asook verdere uitstaande aangeleenthede, te oorweeg. Die regter het boonop 'n kostebevel teen die minister gemaak en hom en sy mederespondente by die departement van landbou berispe oor die stukke wat laat ingedien is.
Agtergrond
Die hofverrigtinge spruit uit Sakeliga, SAAI en Vrystaat Landbou se aansoek in Februarie 2026 om 'n einde te bring aan die minister van landbou John Steenhuisen se belemmering van die private verkryging en toediening van BKS-entstowwe.
Die minister het tot gister nog Sakeliga en ons litigasievennote se eis vir private toediening van diere-entstowwe heftig teengestaan. Hy het onder eed, deur monde van sy direkteur-generaal, aangevoer dat "inenting 'n beheerde veeartsenykundige handeling [is] wat slegs deur gemagtigde persone op die Direkteur se aanwysing uitgevoer mag word." Die minister se regspan het egter gister op die nippertjie 'n aanvullende beëdigde verklaring by die hof ingedien waarin 'n voorgestelde skema uiteengesit word wat die minister se vorige standpunt weerspreek. Hoewel nie sonder tekortkominge nie, stel die ongefinaliseerde skema – opgestel kragtens artikel 10 van die Wet op Dieresiektes – voor dat private inenting toegelaat sal word soos deur private veeartse aangewys, en sonder toesig.
Gegewe minister Steenhuisen se volgehoue vertragings en versuim om sperdatums na te kom, is dit 'n positiewe verwikkeling dat die hof nou aan hom 'n tydlyn en sperdatum voorskryf.
Die minister se artikel 10-skema
Dit is noemenswaardig dat die minister se werksprestasie aansienlik verbeter sodra hy litigasie in die gesig staar. In teenstelling met sy openbare verbintenis reeds op 18 Desember 2025 in 'n mediaverklaring – dat 'n artikel 10-inentingskema teen die einde van Januarie 2026 gepubliseer sou word – het dit 'n hofsitting geverg om skielik teen die einde van Maart 'n eerste konsep te lewer.
Notules van die Ministeriële Taakspan se vergadering van 17 Maart, soos vervat in gister se aanvullende beëdigde verklaring, toon dat die artikel 10-skema dringend gefinaliseer moes word om "die departement te ondersteun in sy verdediging in sekere regsaangeleenthede."
Daar is egter geen waarborg dat die finale weergawe van hierdie skema dieselfde bepalings as die konsepweergawe sal bevat nie. Die konsep maak tans wel voorsiening vir 'n mate van private toediening van BKS-entstowwe sonder toesig. Dit sluit inenting in deur gemagtigde private veeartse wat deur veehouers aangestel is, of inenting soos deur private veeartse aangewys. Dit is in teenstelling met wat die minister en ander opponerende respondente tot dusver beweer het.
Voorts bevat die konsepskema verskeie bepalings wat die gevaar inhou om juis die toegangsbeheer wat Sakeliga betwis, te handhaaf:
Dit sentraliseer die invoer, verkryging en verspreiding van entstowwe deur 'n komiteestruktuur eerder as om vrye privaatsektorverkryging toe te laat.
Dit reserveer verreikende bevoegdhede vir die minister om beheermaatreëls te publiseer wat veehouers en verantwoordelike persone kan verplig om voorgeskrewe stappe te neem – 'n breë diskresie wat te eniger tyd gebruik kan word om gesentraliseerde staatsbeheer weer in te stel, ondanks die skema se oënskynlik vrywillige aard.
Sakeliga en ons vennote hou vol dat daar geen regsbelemmering bestaan wat privaatsektordeelname aan BKS-inenting verhinder nie, en dat die staat se aandrang op uitsluitlike beheer onregmatig en onvolhoubaar is. Ons verdere optrede sal dienooreenkomstig gerig word.
Volgende stappe
Die saak hervat op 28 April 2026 in die Hooggeregshof, nadat al die partye insae gehad het in die skema wat moontlik gepubliseer kan word, en die geleentheid gehad het om hul sake aan te vul.
Indien die finale skema onregmatige belemmerings op die private verkryging of toediening van entstowwe plaas, of andersins betwis kan word, kan die applikante hul hofstukke aanvul en reeds vanaf 28 April tussentydse ingryping deur die hof versoek. Indien geen publikasie plaasvind nie, sal ons op 28 April met die huidige saak voortgaan. Verdere konstitusionele verrigtinge kan ook nie uitgesluit word nie.
Ná gister is dit slegs die minister, die direkteur-generaal van die departement van landbou en die Direkteur van Dieregesondheid wat die aansoek steeds opponeer. Onderstepoort Biologiese Produkte en die Landbounavorsingsraad het hul opposisie teruggetrek en berus by die besluit van die hof.
Hulpbronne:
Aanvullende beëdigde verklaring filed on 24 March 2026
Notule van die Ministeriële Taakspan-vergadering, gehou op 17 Maart 2026
Voorgestelde konsepskema
