|
[WordPress Migration Data]
{
  "source": "WordPress Migration",
  "originalUrl": "https://www.sakeliga.org.za/wp-content/uploads/2025/06/Sakeliga-EE-Litigation_11-June-2025-copy.jpg",
  "wpPath": "/wp-content/uploads/2025/06/Sakeliga-EE-Litigation_11-June-2025-copy.jpg",
  "wpYear": "2025",
  "wpMonth": "06",
  "wpPostCount": 2,
  "wpPostIds": [
    76130,
    76140
  ],
  "migratedAt": "2025-09-18T13:59:07.282Z",
  "migratedBy": "wp-media-to-contentful.mjs",
  "fileSize": 320646
}
[End WordPress Migration Data]

Minister van Arbeid op terme geplaas oor indiensnemingsregulasies

11 Junie 2025

Sakeliga en NEASA het die minister van indiensneming en arbeid, dr. Nomakhosazana Meth, in kennis gestel van ons voorneme om ’n dringende interdik teen haar diensbillikheidsregulasies van 15 April 2025 te bekom.

Die minister poog om werkgewers te dwing om aan haar indiensnamekwotas gebaseer op ras, geslag en gestremdheid vanaf September 2025 te voldoen, met boetes so hoog as 10% van omset vir nie-nakoming en uiteindelike vervolging van uitvoerende beamptes.

Die doel van die dringende interdik sou wees om te verhoed dat die minister se onregmatige optrede ’n enorme en onherroeplike verspilling van openbare en private hulpbronne veroorsaak, wat die gevolg sou wees indien werkgewers poog om aan die onmoontlike vereistes te voldoen. Die regulasies sou op feitlik alle werkgewers in Suid-Afrika met 50 werknemers of meer van toepassing wees, en geld vir sowel plaaslike as internasionale werkgewers.

Ons het die minister tot 18 Junie 2025 geleentheid gebied om die regulasies op te skort of terug te trek, andersins is ons prokureurs opdrag gegee om ’n dringende aansoek te bring. Vir ons prokureurskrywe, klik hier.

Die minister se regulasies bepaal dat maatskappye hulself in een van agtien ekonomiese sektore moet indeel en hul werksmag ooreenkomstig verskeie rasse- en ander indiensnamekwotas moet aanpas. Mees opvallend vereis die indiensnamekwotas (in die regulasies genoem “numeriese sektorale teikens”) dat maatskappye in vele gevalle hul blanke manlike personeelkomponent tot so laag as 4% moet verminder, en gewoonlik tot onder 20%. Ander vereistes sluit kwotas gegrond op geslag, gestremdheid, en verdere rasse-dimensies in. Uiteindelik poog die regulasies om die regering se politieke doelwit van demografiese verteenwoordiging te bereik: die transformasie van die werksmag en eienaarskap van elke enkele besigheid en organisasie in die land in een wat die Suid-Afrikaanse staat se demografiese samestelling – hoofsaaklik ras – by elke werksplek, en op elke vlak binne daardie organisasie weerspieël.

Die regulasies en die Wysigingswet op Diensbillikheid (soos gewysig in 2023) stel onwettige, onkonstitusionele, en onmoontlike eise. Die gevolge sou insluit ernstige finansiële skade aan ondernemings en uitgebreide maatskaplike skade deur ekonomiese ontwrigting, verhoogde werkloosheid, en regsonsekerheid.

Ons het die minister ingelig dat ons, benewens ons dringende aansoek teen haar sektorale bepalings en 2025 indiensnamekwotas, ook van voorneme is om die Wysigingswet op Diensbillikheid en haar regulasies op verdere gronde te betwis.