|
John Steenhuisen wys sy entstof

Minister Steenhuisen doen sy amp oneer aan

Sy optrede maak dit uiters moeilik vir besighede en veehouers om hul regsposisie te beoordeel of hul volgende stappe te bepaal.

Sakeliga Staff
12 Februarie 2026

Die minister van landbou John Steenhuisen doen sy amp oneer aan en ondermyn aanspreeklikheid deur die publiek te mislei.

Die minister het in 'n regstreekse televisie-onderhoud valslik verklaar dat sy kantoor 'n skriftelike antwoord op ons aanmaningsbrief, gedateer 26 Januarie 2026, aan Sakeliga, SAAI en Vrystaat Landbou verskaf het, hoewel geen sodanige antwoord in werklikheid ontvang is nie.

Tydens die regstreekse televisie-onderhoud op kykNET In Gesprek op Maandag 9 Februarie is minister Steenhuisen deur die aanbieder gevra:

*"Vrystaat Landbou, SAAI en Sakeliga het u versoek om redes te verskaf waarom boere dan nie die dosisse mag toedien nie. Waarom het u hulle nie van daardie redes voorsien nie?" * In antwoord op hierdie vraag het minister Steenhuisen gesê:

"Ek het wel die redes aan hulle verskaf. Hulle het 'n e-pos terug ontvang, wat dit bevestig."

Hy het toe voortgegaan:

"... en dit vereis regtig nie 'n genie om deur die Wet op Dieregesondheid (sic) te lees nie, sowel as die internasionale riglyne vir inentingsprogramme."

Die aanbieder se vraag verwys na die skrywe wat ons prokureurs in Januarie aan die minister van landbou gestuur het, waarin ons hom meegedeel het dat ons geen wetlike beperking – in die Wet op Dieresiektes van 1985 of enige ander plek – kan vind wat private partye verhoed om bek-en-klouseer-entstowwe te bekom en toe te dien nie.

Ondanks aanvanklike erkenning van ontvangs deur die departement van landbou het nóg Sakeliga, SAAI, of Vrystaat Landbou nóg ons prokureurs tot op hede bevestiging van die minister of sy departement ontvang oor of die minister met ons saamstem, óf alternatiewelik waarom hy van ons verskil en wat sy regsgronde is vir die verbod op private entstofverkryging en -toediening.

Dat die minister in die openbaar verklaar dat hy Sakeliga en ons vennote van redes voorsien het, en dat ons van 'n e-pos hieroor voorsien is, is uiters misleidend. Hierdie teenstrydigheid tussen openbare verklarings en amptelike optrede ondermyn die basiese vertroue en aanspreeklikheid wat aan die amp, wat hy beklee, behoort te kleef.

Bevestiging dat die minister se stelling vals was

Op 10 Februarie 2026 het ons prokureurs 'n verdere brief aan die minister en sy departement gerig, waarin hulle hom versoek het om vorendag te kom met die beweerde skriftelike antwoord waarop hy vir sy openbare verklarings gesteun het – behoorlik gedateer en vergesel van bewys van versending.

Gegewe die minister se openbare versekerings, en in die aanvaarding dat korrespondensie wat reeds versend is geredelik beskikbaar sou wees, het ons prokureurs hom tot 11 Februarie 2026 gegun om die versoekte bewyse te lewer.

Op 12 Februarie 2026 het die departement se Hoofdirekteur van Regsdienste geantwoord en erken – in teenstelling met die minister – dat geen reaksie op ons oorspronklike skrywe verskaf is nie:

"U eis vir reaksies van die minister en die departement binne die opgelegde tydsraamwerke is uiters onredelik gegewe die talle bewerings en verkeerde stellings wat u kliënte maak. 'n Reaksie daarop vereis oorweging en genoegsame tyd."

Die departement het boonop aangevoer dat dit eers teen 20 Februarie 2026 sal kan reageer – 'n merkwaardige bewering in die lig van die minister se stelling dat bepaling van die regsposisie "regtig nie 'n genie vereis nie", sowel as die minister se uitgebreide regsaansprake, waarop hy sekerlik nie kan steun sonder dat hy reeds regsadvies ingewin het nie.

Soos sake tans staan, wag Sakeliga, SAAI en Vrystaat Landbou steeds op 'n afskrif van die beweerde antwoord wat die minister, in die openbaar en misleidend, beweer het reeds verskaf is.

Gegewe die erns waarmee die landboubedryf die uitbreking bejeën, die regseise wat aan hom gerig is, en die feit dat sy voortgesette versuim om 'n gegronde reaksie te verskaf geraakte partye noop om die howe te nader, rus dit op minister Steenhuisen om sonder verdere vertraging die redes te verskaf wat formeel versoek is en wat hy in die openbaar beweer het reeds verskaf is.

Litigasievordering

Sakeliga, SAAI en Vrystaat Landbou se regspan finaliseer tans ons hofaansoek. Ons neem nou nie net die minister se weiering om hom aan 'n weergawe van sy beleid te bind – en om dit regtens te staaf – in ag nie, maar ook sy oënskynlik onware uitsprake.

Minister Steenhuisen se optrede maak dit uiters moeilik vir besighede en veehouers om hul regsposisie te beoordeel of hul volgende stappe te bepaal.

Dit is onredelik om van boere en besighede te verwag om doeltreffend op hierdie siekte-uitbreking te reageer te midde van die minister se ad hoc-stellings, post hoc-regverdigings en ad hominem-aanvalle, in plaas van 'n duidelik gekommunikeerde standpunt wat deur die minister in 'n formele antwoord op ons regsbrief bevestig en regtens gestaaf is.

Die minister se wydlopende en ongegronde openbare bewerings sluit onder andere die volgende in:

  • die wanvoorstelling van ons eise vir regsduidelikheid as 'n “free-for-all” waarin ongoedgekeurde entstowwe met vreemde stamme kwansuis toegelaat moet word;

  • die kortaf stelling dat bek-en-klouseer "staatsbeheerd" is, maar dan sonder verduideliking waarom boere in die geval van ander staatsbeheerde siektes wél entstowwe bekom en toedien;

  • die wanvoorstelling van die vereistes van die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid; en

  • die argument dat entstowwe biowapens is, terwyl geïgnoreer word dat ander vee-entstowwe gereeld privaat bekom en toegedien word.

Sy voortgesette weerhouding van redes, wat hy nou selfs in die openbaar beweer hy reeds verskaf het, is 'n prima facie onregmatige administratiewe versuim deur die minister en sy departement.

home-cta-image

Help ons om 'n florerende ekonomie te verseker

Jy kan ekonomiese orde herstel deur ons werk te befonds.