Gedeeltelike verligting vir boere teen die departement van water en sanitasie se onwettige heffingspraktyke
Die uitspraak bied duidelikheid oor die inligting wat watergebruikers moet ontvang om die bedrae wat van hulle geëis word, te kan verifieer.
Die Hooggeregshof in Pretoria het gedeeltelike regshulp toegestaan in die saak wat Sakeliga en sy mede-applikante teen die departement van water en sanitasie (DWS) gebring het oor die departement se onwettige waterheffingspraktyke.
Sakeliga, TLU SA en ses kommersiële boere het die hofsaak gebring om die departement se onwettige praktyk te betwis om van boere betaling te eis op grond van rekeninge wat nie behoorlik uiteengesit is nie. Die applikante het ook die departement se pogings teengestaan om dekades oue, verjaarde en betwiste watergebruiksheffings in te vorder.
In ’n uitspraak ná die aanhoor van die saak op 11 Augustus het die hof die DWS gelas om binne 60 dae volledige, uiteengesette state, tesame met die betrokke fakture, te verskaf vir alle bedrae wat die kommersiële boere (mede-applikante in die hofaansoek) volgens die departement verskuldig is.
Die uitspraak bied belangrike duidelikheid oor die staat se verpligtinge wanneer statutêre heffings ingevorder word, asook oor die inligting wat watergebruikers moet ontvang om die bedrae wat van hulle geëis word, te kan verifieer.
Die hof het egter foutiewelik geweier om die verklarende bevel toe te staan waarvoor die applikante gevra het. Dié bevel sou die departement verhinder het om voort te gaan met sy algemene praktyk om betwiste watergebruiksheffings wat reeds verjaar het, onwettig te probeer invorder. Die hof het aangevoer dat hierdie kwessie op ’n ander tydstip en onder ander omstandighede beslis moet word.
Sakeliga sal teen hierdie foutiewe aspek van die uitspraak appèl aanteken.
Verjaring: Sakeliga gaan appèl aanteken
Die hof het die aansoek om ’n verklarende bevel – dat watergebruiksheffings vir kommersiële besproeiing en ander kommersiële doeleindes ingevolge die Verjaringswet aan ’n verjaringstydperk van drie jaar onderhewig is – van die hand gewys. Gevolglik het die hof se uitspraak beperkte trefwydte.
Sakeliga voer aan dat watergebruiksheffings gewone skuld is en as sodanig ingevolge artikel 11(d) van die Verjaringswet aan ’n verjaringstydperk van drie jaar onderhewig is. In Oktober 2021 het die departement self erken dat watergebruiksheffings ná drie jaar verjaar, voordat dit later sy eie standpunt weerspreek het.
Die Nasionale Waterwet bepaal uitdruklik dat watergebruiksheffings nie as ’n belasting of heffing mag funksioneer nie. Dit staaf die gevolgtrekking dat sodanige heffings gewone skuld is wat aan verjaring onderhewig is.
By gebrek aan duidelike regspraak oor hierdie kwessie stel die DWS se onwettige invorderingspraktyke kommersiële watergebruikers bloot aan onbepaalde eise deur staatsinstellings. Dit laat ruimte vir skuld om sonder behoorlik uiteengesette rekeninge ingevorder te word en vir rekeninggeskille om onbepaald voort te duur, ondanks die statutêre tydsbeperkings op die invordering van skuld.
Waarom dit belangrik is
Die departement probeer reeds jare lank om betwiste watergebruiksheffings – waarvoor dit nie behoorlik uiteengesette rekeninge kan verskaf nie – van boere in te vorder. Sommige van hierdie heffings dateer selfs van vóór die Nasionale Waterwet in 1998 in werking getree het.
Sakeliga en ons mede-applikante se standpunt is eenvoudig: enige boer, maatskappy of ander entiteit wat vir watergebruik gefaktureer word, moet duidelike, verifieerbare en behoorlik uiteengesette rekeninge ontvang. Uitstaande bedrae kan ook nie onbepaald nagejaag word in stryd met die statutêre bepalings oor verjaring nie.
Sakeliga bedank sy mede-applikante, TLU SA en die ses kommersiële boere, vir hul samewerking in die hofaansoek.
Hulpbronne
Help ons om 'n florerende ekonomie te verseker
Jy kan ekonomiese orde herstel deur ons werk te befonds.
