|
Background image

President en kabinet staar persoonlike kostebevele in gesig oor munisipale ineenstorting

Sakeliga het president Cyril Ramaphosa en verskeie van sy ministers in kennis gestel dat dit persoonlike kostebevele teen hulle sal vra – tensy hulle dringend direkte verantwoordelikheid vir die herstel van die ineengestorte Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit aanvaar.

Die president en sy nasionale uitvoerende gesag verkeer in growwe skending van hul grondwetlike pligte om Ditsobotla se ineenstorting van waterdienste, elektrisiteitsvoorsiening en basiese administrasie te beredder. Hul onverdedigbare versuim om as die nasionale uitvoerende gesag ingevolge artikel 139(7) van die Grondwet in te gryp, soos hieronder uitgelig, verdien die persoonlike en bestrawwende sanksie van die hof:

  1. Hierdie week het die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake in Noordwes hom tot ’n openbare pleidooi gewend dat die nasionale uitvoerende gesag hom op “artikel 139(7) moet beroep,” omdat die provinsie al sy opsies uitgeput het. Dat die provinsiale uitvoerende gesag sy toevlug tot openbare verklarings en mediaverskynings moes neem om vir nasionale ingryping te pleit, spreek van ’n onverskoonbare sistemiese mislukking van grondwetlike interregeringsamewerking en -kommunikasie. Die openbare pleidooi is op 6 Augustus 2025 uitgesaai. Kyk hier.
  2. Nóg die president nóg sy ministers wat as respondente in Sakeliga se lopende hofsaak aangehaal is, het enige substantiewe opposisie teen ons mosie geopper dat hulle beveel moet word om artikel 139(7) te implementeer. Dus, terwyl hulle inderdaad saamstem en met Sakeliga ooreenstem oor die noodsaak vir hul ingryping, versuim hulle om dienooreenkomstig op te tree. Kyk hofstukke onder “Hulpbronne” hieronder.
  3. President Ramaphosa het besoek afgelê en is persoonlik vertroud met die haglike situasie in Ditsobotla. Tydens sy besoek voor die laaste verkiesings het hy openlik verklaar dat Ditsobotla ’n “gruwelverhaal” is, “deur kriminele elemente vasgevang,” en dat “geld net gestroop word”. Skakel hier.

Ons het die president, die minister van finansies, die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, en die minister van water en sanitasie tot 15 Augustus 2025 gegee om skriftelike bevestiging van die stappe wat hulle neem of beoog om te neem, te verskaf.

Kostebevele ook teen die Noordwes provinsiale uitvoerende gesag gevra

Sakeliga het die premier van Noordwes en sy provinsiale uitvoerende gesag in kennis gestel dat dit ook persoonlike kostebevele teen hulle sal vra indien hulle nie onmiddellik hul opposisie teen ons litigasie terugtrek nie.

Die Noordwes-provinsie se voortgesette opposisie teen Sakeliga se litigasie is skreiend, veral in die lig van sy openbare erkenning van mislukking en pleidooi dat die president en sy nasionale uitvoerende gesag artikel 139(7) van die Grondwet in werking moet stel.

In die woorde van Noordwes LUR vir samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake, mnr Gaoage Molapisi, moet die nasionale regering “die span bring, die hulpbronne bring, almal bring” om orde in Ditsobotla te herstel. “Kiesers sal voortgaan om vir jou dieselfde uitslag te gee, is nie ’n opsie nie. Ingryping die laaste uitweg,” het hy in sy verklaring van 6 Augustus gesê.

Sakeliga het die premier en sy provinsiale uitvoerende gesag tot 14 Augustus 2025 gegee om te voldoen deur hul opposisie terug te trek, waarna dit sal voortgaan om sy bestaande litigasie dienooreenkomstig aan te vul.

In ons brief het ons die premier en sy provinsiale uitvoerende gesag daaraan herinner dat die Hooggeregshof juis die afgelope jaar hul onbehoorlike opposisie teen ons litigasie streng gekritiseer het, met ’n bestraffende kostebevel teen hulle, ten gunste van Sakeliga. Hoewel hierdie laaste kostebevel nie teen hulle persoonlik was nie, sal Sakeliga die hof vra om dit wel so te maak indien die premier en sy provinsiale uitvoerende gesag nie nou hul opposisie teen ons litigasie terugtrek nie.

“Ek kan geen verskoning in die optrede van die respondente vind nie”, het die vroeëre bevel deur die Hooggeregshof in Mahikeng gelui. “Die respondente was besig om die onvermydelike te vertraag: om hul grondwetlike plig om voldoende water aan lede van die publiek te verskaf, te probeer omseil. Die opposisie teen die aansoek was, na my mening, totaal onnodig.” Skakel hier.

Die nasionale en provinsiale uitvoerende gesagte volg almal weereens dieselfde resep wat reeds die hof se teregwysing geniet het. Deur vol te hou met hul opposisie teen ons aansoek wat artikel 139(7) ingryping vra, terwyl hulle openlik die noodsaak daarvoor erken, herhaal hulle die einste gedrag waaroor die Hooggeregshof in Mahikeng voorheen ’n skerp teregwysing uitgereik het.

Oor Sakeliga se litigasie vir herstel in Ditsobotla

Die huidige fase van die litigasie deur Sakeliga en ons vennote in Ditsobotla spruit voort uit ’n hofbevel in Oktober 2023. Destyds het die hof provinsiale ingryping by Ditsobotla gelas, weens voortgesette en versnelde staatsverval in Lichtenburg, Coligny, Boikhutso, Blydeville en omliggende gebiede.

Volgens hul eie erkenning het alle pogings deur die provinsiale uitvoerende regering om die situasie reg te stel egter nou misluk en het hulle geen vooruitsigte van toekomstige sukses nie.

Ons litigasie versoek daarom die hof om te beveel dat die president van die Republiek van Suid-Afrika en sy kabinet self die ineengestorte Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit moet regruk, ingevolge artikel 139(7) van die Grondwet. Dit is die hoogste vorm van regeringsingryping en finale remedie wat die Grondwet uitdruklik voorsien in gevalle van algehele staatsverval, soos in Ditsobotla.

In ons aansoek vra Sakeliga die hof om te verklaar dat die president (as hoof van die nasionale uitvoerende gesag), die kabinet in geheel, en sekere kabinetslede individueel onkonstitusioneel en onregmatig optree deur nie by die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit in te gryp nie.

Ons vra dienooreenkomstig dat die hof die president en sy kabinet beveel om:

  1. Al die verantwoordelikhede van ingryping by die provinsiale regering oor te neem
  2. Self die goedgekeurde munisipale herstelplan af te dwing en te implementeer

Sou die president en die kabinet voortgaan om hul pligte te versaak of daarin te misluk, sal dit ’n ongekende konstitusionele krisis inlui. Sonder stabilisering van Ditsobotla en die menigte ander munisipaliteite wat soortgelyke ineenstorting nader, is die destabilisering van al die stedelike omgewings in Suid-Afrika – en derhalwe die land self – ’n wesenlike risiko. Dit sal noodsaak dat Sakeliga die hof vir alternatiewe en ongekende regshulp ingevolge artikel 172 van die Grondwet nader, om orde in die betrokke dorpe te herstel.

Die president en die kabinet het steeds ’n kans om hul pligte na te kom, maar sakelui en die inwoners van Ditsobotla kan nie naïef op ’n onwillige regering staatmaak nie. Hoewel dit ’n langdurige proses sal verg, is dit onvermydelik dat die vakuum van staatsverval gevul sal moet word deur alternatiewe oplossings wat sakelui en gemeenskappe stap vir stap ontwikkel, gekombineer met goeie regspraak waardeur die howe gepaste ingryping afdwing, erken en beskerm.

Vir meer oor die omvang van munisipale ineenstorting en Sakeliga se litigasiestrategie rakende Ditsobotla en plaaslike munisipale verval in die algemeen, kyk hierdie verklaring.

Hulpbronne

  • Brief deur Sakeliga se prokureurs aan die president en nasionale uitvoerende gesag

  • Brief deur Sakeliga se prokureurs aan die Noordwes-premier en provinsiale uitvoerende gesag

  • Sakeliga se hofstukke

  • Vorige bestrawwende kostebevel teen die provinsiale uitvoerende gesag