|
[WordPress Migration Data]
{
  "source": "WordPress Migration",
  "originalUrl": "https://www.sakeliga.org.za/wp-content/uploads/2024/07/Depositphotos_10952801_L.jpg",
  "wpPath": "/wp-content/uploads/2024/07/Depositphotos_10952801_L.jpg",
  "wpYear": "2024",
  "wpMonth": "07",
  "wpPostCount": 2,
  "wpPostIds": [
    74887,
    74898
  ],
  "migratedAt": "2025-09-18T13:59:48.877Z",
  "migratedBy": "wp-media-to-contentful.mjs",
  "fileSize": 1040519
}
[End WordPress Migration Data]

SAHPRA erken hulle het nie magte om BEE af te dwing, wil steeds sertifikate vereis 

31 Julie 2024
  • SAHPRA (die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte Regulatoriese Owerheid) het 'n hersiene konsep van sy B-BBEE lisensiebeleid in Julie 2024 vrygestel. Dit vereis van aansoekers om B-BBEE sertifikate in te dien wanneer hulle vir lisensies ingevolge artikel 22C van die Medisynewet aansoek doen.
  • Hoewel SAHPRA beweer dat dit nie op grond van B-BBEE status sal weier om lisensies toe te ken nie, behels die beleid 'n gefaseerde benadering. Fase 1 vereis sertifikaatindiening en Fase 2 voorsien vir die moontlikheid van strenger B-BBEE vereistes by lisensiëring.
  • Sakeliga waarsku teen nakoming van Fase 1 se vereistes, ten einde te voorkom dat Fase 2 se toekomstige en moontlik strenger B-BBEE nakomingseise legitimiteit bekom. Ons beveel aan dat partye wat geraak word regsadvies oor die tersaaklike oorwegings inwin.

Die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte Reguleringsowerheid (SAHPRA) het in Julie ‘n hersiene weergawe van sy konsep B-BBEE-lisensiebeleid gepubliseer, onder die opskrif “Konsep Breëbasis Swart Ekonomiese Bemagtigingsbeleid vir die Uitreiking van Lisensies ingevolge artikel 22C van die Medisynewet” (Hersiene Beleid). Die Hersiene Beleid, wat in samewerking met die B-BBEE-kommissie en die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging ontwikkel is, is geskep vir belyning met die BEE-kode vir die sektor. Dit poog om regulatoriese lisensie-aansoeke ingevolge die Medisynewet te koppel aan BEE-nakoming.

Die Hersiene Beleid, indien dit in werking gestel sou word, sal van toepassing wees op lisensie-aansoeke ingevolge artikel 22C van die Medisynewet. Hierdie bepaling het betrekking op lisensies om medisyne saam te stel en voor te skryf deur mediese praktisyns, tandartse, veeartse, verpleegkundiges of ander persone geregistreer ingevolge die Wet op Gesondheidsberoepe. Dit het ook betrekking op lisensies om medisyne, geskeduleerde middels, mediese toestelle of in vitro diagnostiese toetse (IVD’s) te vervaardig, in te voer, uit te voer, as ‘n groothandelaar op te tree of te versprei.

Twyfelagtige gerusstellings met betrekking tot weierings om lisensies uit te reik

Die Hersiene Beleid behou grootliks die beleidsposisies van die vorige weergawe van die konsepbeleid van April 2023, maar verwyder die bepaling dat “ndien ‘n aansoeker versuim om sy B-BBEE-vlaksertifikaat voor te lê, of die sertifikaat nie verifieerbaar is nie, sal SAHPRA nie ‘n lisensie aan sodanige aansoeker uitreik nie.” SAHPRA het waarskynlik hierdie bepaling verwyder weens insette van Sakeliga en andere wat aangevoer het dat SAHPRA nie oor die nodige magte beskik om ‘n lisensie op grond van BEE-vlak nie-nakoming te weier nie. SAHPRA het tydens ‘n webinaar met belanghebbendes op 14 Junie bevestig dat dit nie oor sodanige magte beskik nie:

“…daar sal nie 'n aansoeker wees wat 'n lisensie geweier sal word as gevolg van jou BEE-status nie, soos ek vroeër gesê het. En weereens, ek wil regtig hierdie saak beklemtoon. Ons kan dit nie doen nie. Ons het nie 'n mandaat om dit te doen nie.”

BEE-sertifikate is “nie-onderhandelbaar”

Terwyl SAHPRA bevestig het dat ‘n sekere BEE-status nie vereis word nie, bly hulle van mening dat hulle oor die magte beskik om te eis dat ‘n BEE-sertifikaat deur lisensie-aansoekers ingedien word. Die indiening van ‘n BEE-sertifikaat, het SAHPRA in die Junie-webinar aangevoer, sal “nie-onderhandelbaar” wees. Dit, meen hulle, vorm deel van die belyning van SAHPRA-beleid met die B-BBEE-sektorkode.

Waak teen die twee-fase benadering

Die vereiste om ‘n BEE-sertifikaat in te dien, ongeag die vlak, is nietemin steeds problematies. Dit dui op ‘n twee-fase benadering waar BEE-nakoming aanvanklik subtiel in lisensievereistes ingesluip word, soos in ander bedrywe.

  • Die eerste fase word gewoonlik voorgehou as 'n “inligtingsinsameling”-oefening waartydens lisensie-aansoekers 'n BEE-sertifikaat moet verskaf. Dit verseker dat alle toekomstige lisensiehouers ten minste stilswyend ingestem het tot 'n mate van BEE-nakoming, hoewel nog nie ooreenkomstig spesifieke vlakke nie.
  • Die tweede fase behels gewoonlik dat verbintenisse tot toenemend hoër BEE-vlakke of “transformasie” prestasie 'n verpligte lisensievoorwaarde word. Dit kan behels dat 'n sekere BEE-vlak bereik moet word of dat ander rasgebaseerde verbintenisse aangegaan moet word.

Sakeliga se Missie: Bou Skaalbare Oplossings Teen Staatsverval

  • Sluit aan by duisende toegewyde, missie-gerigte befondsers
  • Beskerm ons gemeenskappe teen ’n mislukkende staat
  • Verseker ’n florerende ekonomie in die plek wat jy liefhet

Ons Missie & Impak

Die bogenoemde benadering is gevolg deur onder meer die reguleringsliggame vir eiendomspraktisyns, finansiële dienste, landbou, en lugdienste. Hierdie reguleerders begin tipies met oënskynlik onskuldige “inligtingsinsameling” en poog dan later om spesifieke BEE-vlakke verpligtend te maak as ‘n voorwaarde vir lisensiëring. In byna alle gevalle gebeur dit ten spyte van geen wetlike magtiging nie. Sodanige vereistes is ook fundamenteel ongrondwetlik. Dit is waarom Sakeliga oorweging skenk aan of aktief besig is met litigasievoorbereiding oor verskeie BEE-kwessies.

In die lig van wat in ander sektore gebeur het, waarsku ons teen SAHPRA se oënskynlike gerusstellings dat niemand ‘n lisensie weens BEE geweier sal word nie. Menige faktore dui daarop dat SAHPRA voorberei om sy eise in die toekoms te verskerp, ooreenkomstig die twee-fase benadering. Die Hersiene Beleid lees:

“In fase 1, sal SAHPRA van 'n aansoeker vereis om sy B-BBEE-vlaksertifikaat in te dien wanneer hy vir 'n lisensie aansoek doen. Hierdie vereiste sal op 'n datum in werking tree wat aan die bedryf gekommunikeer sal word.

...

Gebaseer op die leerervarings van die eerste fase, sal SAHPRA kriteria ontwikkel wat toegepas moet word in die lisensiëringsproses ingevolge artikel 22C(1)(b) van die Medisynewet.”

Fase 1 dalk ‘n voorloper vir ‘n meer venynige Fase 2

Die “kriteria” in Fase 2 waarna SAHPRA verwys, sal waarskynlik verband hou met ‘n minimum BEE-telling of vlak. Dit beklemtoon die risiko wat verband hou met die nakoming van die skynbaar onskadelike vereistes in Fase 1 van die Hersiene Beleid.

Sakeliga waarsku dat, sou die Hersiene Beleid goedgekeur word, instellings wat onderhewig is aan die Medisynewet eerder sover moontlik behoort te vermy om aan Fase 1 se BEE-eise te voldoen. Dit is om te voorkom dat toekomstige, strenger BEE-nakomingsvereistes wat in Fase 2 verwag kan word, stilweg onderskryf word. Daar is risiko’s verbonde aan beide nakoming en nie-nakoming van hierdie tipe BEE-riglyne. Instellings behoort nie te aanvaar dat nie-nakoming noodwendig ‘n meer riskante opsie is nie, en moet betroubare regsadvies inwin om nakomingsoorwegings te toets.

Sakeliga het kommentaar gelewer op die vorige weergawe (2023) van die konsepbeleid. Ons sal verwikkelinge rondom die Hersiene Beleid monitor, en het reeds ons regspan opdrag gegee om die grondwetlikheid en wettigheid daarvan te hersien. Ons nooi enige moontlik geaffekteerde persone uit om bekommernisse oor die Hersiene Beleid te rig aan regsafdeling@sakeliga.org.za.