![[WordPress Migration Data]
{
"source": "WordPress Migration",
"originalUrl": "https://www.sakeliga.org.za/wp-content/uploads/2024/09/Ditsobotla-Power-copy-2.jpg",
"wpPath": "/wp-content/uploads/2024/09/Ditsobotla-Power-copy-2.jpg",
"wpYear": "2024",
"wpMonth": "09",
"wpPostCount": 2,
"wpPostIds": [
75137,
75145
],
"migratedAt": "2025-09-18T13:59:30.538Z",
"migratedBy": "wp-media-to-contentful.mjs",
"fileSize": 279893
}
[End WordPress Migration Data]](https://images.ctfassets.net/ptr3cuja5dzu/3D6GwN9qXcmtZiPfVQMnKg/58cc266dd0f642b0edc8c68e62e91d0f/Ditsobotla-Power-copy-2.jpg?w=1920&h=1080&fit=fill&fm=webp&q=85)
Sakeliga en Ditsobotla Dienstevereniging herstel weereens besighede se krag in Lichtenburg
Die onregmatige onderbreking van elektrisiteit deur die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit vandeesweek is sopas herstel, na ingryping deur Sakeliga en die Ditsobotla Dienstevereniging (DDV).
Die munisipaliteit het hierdie week, in weerwil van ’n hofbevel, etlike lede van die DDV en andere in die dorp se elektrisiteit weer afgesny weens beweerde wanbetaling. Geaffekteerde lede van die DDV het egter reeds geldige hangende artikel 102-dispute teen die munisipaliteit, wat beteken dat hulle die statutêre proses volg om die munisipaliteit se rekeninge en weergawe van dienslewering te betwis. Boonop lewer die munisipaliteit meestal nie eens rekeninge nie, selfs al het die hof dit voorheen ook uitdruklik gelas.
Die Mahikeng Hooggeregshof het op 31 Mei vanjaar gelas dat die munisipaliteit geen lede van die DDV wat geldige artikel 102-dispute aanhangig gemaak het se krag mag afsny nie. Die hof het ook gelas dat die munisipaliteit behoorlike rekeninge vanaf of voor 1 Julie 2024 moet lewer. Die bevel lui voorts dat die munisipaliteit met die DDV en geaffekteerde lede moet vergader om die rekeninge en die afhandeling daarvan te bespreek.
Die munisipaliteit het egter geen van hierdie verpligtinge nagekom nie.
Sakeliga se Missie: Bou Skaalbare Oplossings Teen Staatsverval
- Sluit aan by duisende toegewyde, missie-gerigte befondsers
- Beskerm ons gemeenskappe teen ’n mislukkende staat
- Verseker ’n florerende ekonomie in die plek wat jy liefhet
Sakeliga sal voortgaan om die DDV en sy lede in die verband by te staan deur veral te steun op die spesifieke en bestaande bevele in die DDV en Sakeliga se guns. Dit is belangrik dat besighede wat lede van ’n dienstevereniging is se vermoë om dispute te verklaar en nie daarvoor gepenaliseer te word nie, beskerm word.
Sakeliga neem kennis daarvan dat ander inwoners en besighede wat nie lede van die DDV is nie, ook onder kragonderbrekings gebuk gaan weens beweerde wanbetaling. Ons wys egter daarop dat die regshulp en beskerming wat in Mei bekom is slegs van toepassing is op DDV-lede wat geldige artikel 102-dispute aanhangig gemaak het. Ons moedig diegene in Ditsobotla wat hulself met die DDV se oogmerke vereenselwig maar nog nie lede van die DDV is nie om aan te sluit en die nodige dispuutprosesse te volg. Dit kan bydra tot die herstel van orde in Lichtenburg en omliggende dorpe. Sodoende kan besighede en inwoners ook toekomstige hulp en beskerming geniet, tot die grootste mate waarin dit in die moeilike omstandighede moontlik is.