|
John Steenhuisen en 'n kudde koeie

Sakeliga rig aanmaning aan minister Steenhuisen oor BKS-inenting

Dit is onaanvaarbaar om diegene wat 'n inentingstrategie wil volg, arbitrêr in die weg te staan.

Sakeliga Staff
27 Januarie 2026

Sakeliga, SAAI, en Vrystaat Landbou het 'n formele aanmaningsbrief aan die minister van landbou, John Steenhuisen, gestuur rakende die bek-en-klouseer-uitbreking (BKS).

Ons aanmaning eis dat die minister, die departement, en die hoofdirekteur van veeartsenydienste skriftelike bevestiging verskaf dat veehouers en die groter privaatsektor BKS-entstowwe mag bekom en toedien volgens hul eie risikobestuuroorwegings, sonder om deur staatsbeheer en rompslomp verhinder te word.

Soos in die brief uiteengesit is daar, volgens ons lees van die tersaaklike wetgewing en regulasies, geen BKS-beheermaatreël wat 'n direkte verbod bevat op private individue om entstowwe aan hul eie vee toe te dien nie.

Sakeliga, SAAI, en Vrystaat Landbou het die minister en sy kollegas tot Vrydag 30 Januarie 2026 gegee om te bevestig of hulle saamstem of nie.

Indien die minister en sy kollegas nie saamstem dat private partye BKS-entstowwe mag bekom en toedien nie, en indien hulle van mening is dat enige wetlike beperking daarop bestaan, eis ons dat die minister dit uitdruklik op skrif stel en die beweerde beperking volledig verduidelik met verwysing na enige statutêre bepaling, regulasie, of ander dokumente wat volgens hom oor regsgeldigheid beskik. Afskrifte van tersaaklike dokumente moet ook verskaf word.

Hierdie stap volg op Sakeliga se aankondiging verlede week dat hy maatreëls teen die regering se belemmering van doeltreffende reaksies op die BKS-uitbreking sou tref.

Ter aanvulling van bestaande pogings om die BKS-uitbreking te bevat

Hoewel daar verskeie benaderings tot die hantering van BKS in vee bestaan – insluitend inenting – wat oor baie dekades gebruik is, is dit onaanvaarbaar om diegene wat 'n inentingstrategie wil volg, arbitrêr in die weg te staan.

Om private inenting toe te laat sal nie die staat se pogings om op die BKS-uitbreking te reageer, belemmer nie. Daar is meer as genoeg entstof beskikbaar om in te voer, en verskaffers is gewillig en in staat om aan die privaatsektor te lewer. Private deelname aan inenting sal onmiddellike, gedesentraliseerde en wydverspreide reaksies deur diegene met 'n direkte belang by die saak, moontlik maak.

Gegewe die Departement van Landbou se onvermoë om die siekte te bekamp en sy voortdurende versuim om die voorgeskrewe entstowwe aan vee in die geraakte gebiede toe te dien, sal dit irrasioneel wees om veehouers te verbied om BKS-inentings op eie inisiatief toe te dien.

Hulpbronne:

home-cta-image

Help ons om 'n florerende ekonomie te verseker

Jy kan ekonomiese orde herstel deur ons werk te befonds.