|
[WordPress Migration Data]
{
  "source": "WordPress Migration",
  "originalUrl": "https://www.sakeliga.org.za/wp-content/uploads/2024/11/Depositphotos_44976025_L.jpg",
  "wpPath": "/wp-content/uploads/2024/11/Depositphotos_44976025_L.jpg",
  "wpYear": "2024",
  "wpMonth": "11",
  "wpPostCount": 2,
  "wpPostIds": [
    75398,
    75405
  ],
  "migratedAt": "2025-09-18T13:59:23.884Z",
  "migratedBy": "wp-media-to-contentful.mjs",
  "fileSize": 1919982
}
[End WordPress Migration Data]

Sakeliga bring BEE-hofsaak teen Lugdienslisensiëringsraad

18 November 2024

Sakeliga het litigasie begin om lugdiensverskaffers en kliënte teen skadelike en onregmatige BEE-bepalings oor lugdienste te beskerm.

In hofstukke wat vandeesweek bedien is, vra Sakeliga die hof om die Lugdienslisensiëringsraad (ASLC) se skadelike, onregmatige en ongrondwetlike lisensievereistes ten opsigte van BEE en transformasie tersyde te stel.

Die ASLC is ‘n statutêre liggaam verantwoordelik vir die lisensiëring van binnelandse lugdiensverskaffers, wat insluit passasiersdienste, mediese dienste, vragdienste, brandbestrydingsdienste, en meer.

Sedert ten minste Desember 2023 weier en/of frustreer die ASLC binnelandse lugdiensverskaffers se lisensies deur arbitrêr aan te dring op B-BBEE-sertifisering en transformasie-verbintenisse. Ons prokureurs het die raad gewaarsku om hierdie optrede te staak en homself te hou by die regulatoriese pligte wat hy regmatig mag uitvoer, maar die raad het volgehou en geweier om enige oortreding te erken.

Die weiering van lisensies op grond van BEE is strydig met die ASLC se statutêre mandaat in die Lugdienslisensiëringswet (115 van 1990). Die Wet bepaal dat die ASLC lisensies moet uitreik wanneer ‘n aansoeker aan vereistes oor veiligheid, verblyfreg, en beheer en registrasie van vliegtuie voldoen, en verbied die ASLC om vereistes toe te voeg. Daar is geen grondslag in die wet om ras, transformasie, of B-BBEE ‘n voorvereiste vir lugdienslisensies te maak nie. Deur vereistes te stel wat niks met operasionele standaarde en aanspreeklikheid uit te waai het nie, ondermyn hierdie lisensiëringspraktyke kommersiële vryheid en die beskikbaarheid en veiligheid van plaaslike lugdienste.

Sakeliga se Missie: Bou Skaalbare Oplossings Teen Staatsverval

  • Sluit aan by duisende toegewyde, missie-gerigte befondsers
  • Beskerm ons gemeenskappe teen ’n mislukkende staat
  • Verseker ’n florerende ekonomie in die plek wat jy liefhet

Ons Missie & Impak

As deel van ons ondersoek het Sakeliga op nog ’n sorgwekkende praktyk van die ASLC afgekom. Die ASLC verbied onregmatiglik aansoekers om hul lisensie-aansoekverhore op te neem en selfs enige elektroniese toerusting by sulke verhore in te bring. Dit, ten spyte daarvan dat die Wet bepaal dat die verhore publiek is. Tydens hierdie verhore is applikante gekonfronteer met arbitrêre en verbale eise oor BEE en transformasie, wat gerieflik nêrens op papier verskyn het nie. Indien die paneel nie tevrede met toegewings of verduidelikings was nie, is aansoekers aangesê om weer aansoek te doen nadat hulle aan uitstaande BEE-vereistes voldoen het.

Gegewe die ASLC se weiering om sy skadelike en onregmatige optrede te staak, versoek Sakeliga die hof nou om die ASLC se

  1. Besluit om BEE-kriteria by sy lisensieproses in te sluit tersyde te stel en die insluiting van rasgebaseerde kriteria in sodanige lisensiëring onregmatig te verklaar.
  2. Verbod op die gebruik van elektroniese toestelle tydens verhore en die opname van vergaderings en ander interaksie met ASLC-personeel onregmatig te verklaar.

Sakeliga se funderende verklaring en stawende dokumente kan hier gevind word.

Internasionale lugdienste ook geraak

Sedert ons die skadelike en onregmatige optrede van die ASLC met betrekking tot binnelandse lugdienslisensies begin ondersoek het, het soortgelyke onregmatige optrede rakende internasionale lugdienste in Suid-Afrika onder ons aandag gekom.

Dit blyk dat die ASLC se eweknie vir lisensiëring van internasionale lugdienste, die International Air Services Council (IASC), die afgelope tyd eise aan groot internasionale lugdienste stel om aan arbitrêre BEE- en transformasievereistes te voldoen.

Sakeliga is in die proses om met PAIA-versoeke en industrieskakeling verdere inligting te bekom en sal waar nodig litigasie teen die IASC oorweeg.