Sakeliga waarsku teen Tesourie se hernieude poging om rasbeperkende verkrygingsreëls in te stel
’n Verskaffer se geskiktheid sal oor alle staatsverkryging heen hoofsaaklik deur rasse-eienaarskap bepaal word, terwyl koste-effektiwiteit en doeltreffendheid as sekondêre oorwegings beskou word.
Sakeliga het formeel beswaar aangeteken teen die Nasionale Tesourie se poging om rasbeperkende en ander verkrygingsuitsluitings wat in 2022 deur die Konstitusionele Hof ongeldig verklaar is, weer in te stel.
Die Tesourie poog om met die voorgestelde Konsep- Algemene Regulasies vir Openbare Verkryging, 2026, meer as 700 staatsinstellings – van munisipaliteite tot staatsondernemings – te verplig om groot dele van hul aankope vir voorkeurkategorieë op grond van ras, geslag, ensovoorts, voor te behou. ’n Verskaffer se geskiktheid sal oor alle staatsverkryging heen hoofsaaklik deur rasse-eienaarskap bepaal word, terwyl koste-effektiwiteit en doeltreffendheid as sekondêre oorwegings beskou word. Dit sal die poel van beskikbare verskaffers drasties inperk en onvermydelik tot hoër pryse en laer gehalte lei.
Die Tesourie se voorstelle sal tot versnelde staatsverval lei, as gevolg van 'n struktureel gebrekkige verkrygingsbestel.
Dit is opmerklik dat presies die soort regulasies wat die Tesourie nou voorstel, reeds in 2022 ’n ernstige terugslag beleef het toe dit ingevolge die Wet op die Beleidsraamwerk vir Voorkeurverkryging op die proef gestel is. Die Konstitusionele Hof het daardie jaar in Sakeliga se guns beslis en soortgelyke rasbeperkende verkrygingsregulasies ongeldig verklaar. Dié regulasies het ondernemings wat gedeeltelik deur wit mense besit word, vooraf van staatskontrakte uitgesluit.
Nadat Sakeliga se hofoorwinning in 2022 dié poging gestuit het, probeer die Nasionale Tesourie nou dieselfde rasbeperkende en ander verkrygingsuitkomste wat nie waarde vir geld bied nie bereik – dié keer deur die Wet op Staatsverkryging van 2024 (wat nog nie in werking getree het nie) en die voorgestelde konsepregulasies.
Sakeliga behou die reg voor en tref reeds voorbereidings om die Wet en die regulasies in die hof te betwis indien die Tesourie met die implementering daarvan voortgaan.
Rasse- en ander nie-tersaaklike voorkeure ten koste van prys en gehalte
Die voorgestelde regulasies berus op ’n lys van sogenaamde “aangewese kategorieë” wat kwansuis vir voorkeur uitgesonder word, maar wat in die praktyk tot die uitsluiting van nie-aangewese verskaffers lei. Die voorgestelde regulasies lys 20 sulke kategorieë – onder meer swart mense, vroue, persone met gestremdhede, klein ondernemings en koöperasies wat deur hierdie groepe besit word – en vereis dat ’n minimum aandeel van elke staatsinstelling se verkrygingsbegroting aan hierdie kategorieë toegeken word.
Die grootte van die kontrak bepaal vervolgens die mate van rasbeperkende en ander voorkeuruitsluitings:
- Klein kontrakte (tot R20 miljoen) word geheel en al voorbehou.
Slegs verskaffers wat 100% besit word deur mense wat binne die aangewese kategorieë val, mag tenderaansoeke indien. Instellings moet bepaalde minimum persentasies van hul jaarlikse verkrygingsbegrotings aan aangewese kategorieë toewys, insluitend 30% aan swart mense, 18% aan vroue, 30% aan klein ondernemings en 6% aan koöperasies wat uit swart mense bestaan. - Mediumgrootte kontrakte (tussen R20 miljoen en R100 miljoen) word voorbehou vir ondernemings wat reeds in hul eie voorsieningskettings hierdie kategorieë toepas.
’n Onderneming kwalifiseer slegs indien dit kan aantoon dat minstens 40% van sy eie vorige besteding aan verskaffers bestee is wat minstens 51% in swart besit is. Daarbenewens sal ondernemings verplig wees om minstens 30% van die tersaaklike kontrak se waarde aan “kwalifiserende persone” uit te kontrakteer – onder meer klein ondernemings wat 100% deur swart mense, swart jeug of swart vroue besit word. - Groot kontrakte (bo R100 miljoen) moet opgedeel word.
Minstens 25% van die kontrakwaarde moet uitgekontrakteer word aan ondernemings wat 100% deur mense in een of meer van die aangewese kategorieë besit word.
Ongeag die grootte van die kontrak, kan ’n bekwame verskaffer uitgesluit word voordat die prys of gehalte van sy aanbod selfs oorweeg word, bloot op grond van rasse-eienaarskap en ander nie-mededingende oorwegings.
Onwettige verkrygingsvoorskrifte
Artikel 217 van die Grondwet bepaal dat alle verkryging deur alle staatsentiteite ooreenkomstig ’n stelsel gedoen moet word wat “mededingend en koste-effektief” is. Dit laat voorkeurverkryging in bepaalde omstandighede toe, maar maak dit nie verpligtend nie. Dit laat dit aan elke staatsorgaan oor om te bepaal of voorkeurverkryging in die betrokke omstandighede gepas is, mits die verkryging mededingend, koste-effektief, billik, regverdig en deursigtig bly.
Die konsepregulasies ontneem staatsentiteite dié diskresie. Elke openbare instelling sal voorkeurverkrygingsvereistes moet toepas, ongeag koste, praktiese uitvoerbaarheid of operasionele behoefte. Gevolglik sal deursigtige en mededingende verkryging slegs as ’n laaste uitweg beskikbaar wees. Dit oorskry die parlement se grondwetlike bevoegdhede en is onwettig.
Hulpbronne
- Lees Sakeliga se volledige kommentaar hier.
Help ons om 'n florerende ekonomie te verseker
Jy kan ekonomiese orde herstel deur ons werk te befonds.
