
Sakeliga bring Aansoek teen NGV-wet
Aansoek teen nasionalisering van gesondheidsorg in Hooggeregshof gebring.
Sakeliga het ‘n aansoek by die Pretoria Hooggeregshof ingedien om die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV-wet) tersyde te stel. Die balju bedien tans die aansoeke op die staatsrespondente.
Sakeliga se saak behels ‘n omvattende verdediging van besighede en die publiek teen die nasionalisering van gesondheidsorg. Ons lê ook aan die hof getuienis voor dat die staat se planne om alle gesondheidsorg te beheer, wat effektiewelik private mediese skemas en -versekering verbied, hulpbronne sal verg gelykstaande aan ‘n meer as 30%-verhoging in inkomstebelasting.
Die saak vorm deel van wat nou ‘n berg van regsteenkanting teen die voorgestelde NGV-stelsel geword het.
Die Wet voorsien ‘n byna geheel en al staatsbeheerde gesondheidsorgstelsel waarin die staat voorgee dat hy vir almal se gesondheidsorg kan betaal. Dit is nie net onbekostigbaar nie, maar verbied ook inderwaarheid en op ongrondwetlike wyse mediese skemas en versekeringsmaatskappye, wat tans byna 10 miljoen kliënte in Suid-Afrika bedien.
Ons hofstukke toon dat die NGV-wet onmoontlik is om ten volle te implementeer, en nog ‘n wanbestuurde staatsfonds en kolossale vermorsing van hulpbronne sal wees.
Die NGV is onvanpas en onlewensvatbaar in Suid-Afrika, ‘n ekonomies sukkelende land met geen groei nie en onvoldoende mediese- en gesondheidsorghulpbronne. Die staat is boonop reeds onder enorme fiskale druk en het ‘n bewese rekord van ernstige, endemiese en volgehoue bestuursmislukkings.
Skadelik en onbekostigbaar
As die staat poog om die NGV-wet te implementeer, loop dit die risiko om beduidende en blywende skade aan gesondheidsdienste aan te rig, wat duisende bekwame mediese praktisyns oorsee sal dryf, ‘n fiskale krisis sal bespoedig, en tot ‘n strukturele ekonomiese insinking en werksverliese sal lei. Dit is sowel ‘n onredelike as onnodige maatreël om die land se gesondheidsorguitdagings aan te pak.
Ekonomiese ontleding wat in opdrag van Sakeliga gedoen is en in ons hofstukke ingesluit is, toon dat selfs konserwatiewe kosteberamings van die NGV beteken dat die staat ‘n enorme jaarlikse befondsingsgaping van byna R500 miljard sal moet vul, wat ‘n ondenkbare 30%-verhoging in inkomsbelastingkoerse sal verg. Na die onlangse terugslag en weerstand teen net ‘n voorgestelde 2 persentasiepunt-verhoging in BTW in die nasionale begroting vir 2025, is daar geen kans op sukses vir die belastingverhogings wat nodig is om die NGV te befonds nie.
As die regering probeer om die NGV uit bestaande belastings en lenings te befonds, sal dit verlammende besnoeiings aan ander regeringsdienste en bestedingsverpligtinge moet doen en regeringslenings vanaf reeds onvolhoubare vlakke verhoog, wat fiskale ineenstorting en ernstige finansiële en ekonomiese skade sal bespoedig.
NGV-wet is reeds skadelik
Omdat die NGV-wet onmoontlik is om te implementeer, sal pogings om dit te doen buitengewoon skadelik wees. Die blote bestaan van die Wet en die magte wat dit aan die regering wil verleen, beïnvloed reeds toekomstige beplanning, soos mediese beleggings en aanstellings, medici se verbintenis om in die land te praktiseer, en besluite deur jongmense om medies en verpleegkunde te studeer.
Daarom moet die NGV-wet verslaan word voordat enige ernstige poging aangewend word om dit te implementeer.
Volgehoue weerstand teen die NGV-wet
Sakeliga bring die hofaansoek in die openbare belang naas die reeds verskeie lopende sake van belangegroepe soos hospitale, mediese skemas, mediese praktisyns, en mediese skema-lede. Saam verteenwoordig dit nie net ‘n grondige regsuitdaging aan die staat se NGV-planne nie, maar die uitdrukking van teenstand deur die einste belanghebbers sonder wie gesondheidsdienste glad nie moontlik is nie.
Hoewel dit deur die president onderteken is en reeds skade rig aan sentiment in die gesondheidsorgbedryf, is die NGV-wet nog nie in werking nie. Mediese skemas, hospitale en gesondheidspraktisyns gaan normaal voort. Die implementeringstydlyn sal waarskynlik stadig, ondoeltreffend, en geteister deur burokratiese en politieke wrywing wees. Dit bied ‘n aansienlike venster van waarskynlik etlike jare om omvattende teenstand binne, sowel as buite die howe te bou en te verskerp.
Sakeliga glo dit is noodsaaklik om nie net die NGV-wet tersyde te stel nie, maar ook om die onderhandelingsterrein vir gesondheidsorg in die land te heroriënteer. Voorkoming van genasionaliseerde gesondheidsorg is die noodsaaklike beginpunt vir uiteindelik ook ander hervormings, weg van die dikwels verstikkende staatsregulering van selfs voor die NGV-wet.
Slegs sakegroei en produktiewe werk, tesame met groter vryheid vir gesondheidsorgbesighede om handel te dryf, te belê en te innoveer, kan die middele verskaf wat nodig is om gehalte gesondheidsorgvoorsiening op te skaal.
Die NGV keer hierdie logika op sy kop deur belasting- en regulatoriese laste toe te voeg wat uiteindelik produktiwiteit sal verpletter en groot skade aan gesondheidsdienste sal aanrig.
Gesondheidsorgbesighede moet so ver as moontlik van oornakoming en voorafnakoming van die NGV wegstuur en eerder ‘n sake-soos-gewoonlik, waardetoevoegende kliëntefokus prioritiseer waar haalbaar.
Onafhanklike besighede en sakeorganisasies moet geduldig bly, onnodige kompromieë vermy, en ondersteuning bied aan goedgestruktureerde teenstand waarmee tyd gewen en die NGV mettertyd herroep of kragteloos gestel kan word.
Sodoende sal hulle ‘n noodsaaklike rol speel om ‘n omgewing te skep waarin gesondheidsorgdienste kan floreer en uitbrei.
Hulpbronne