|
Munisipale kantoor in Ditsobotla

Sakeliga bekom hofbevel wat grondwetlike bepalings oor munisipale herstel uitput

Sakeliga se litigasie put die finale uitdruklike bepalings in die grondwet vir die hantering van staatsverval op munisipale vlak uit.

Sakeliga Staff
7 November 2025
  • Sakeliga het nasionale ingryping in die ineengestorte Ditsobotla-munisipaliteit afgedwing en 'n kostebevel teen staatdepartemente bekom.
  • Die litigasie put die finale uitdruklike bepalings in die grondwet vir die hantering van staatsverval op munisipale vlak uit.
  • Sakeliga verskuif die fokus nou na besigheidsgedrewe oplossings in die gemeenskaplike belang, wat anderkant die afhanklikheid van vervallende staatstrukture tree.

Sakeliga het gister sy litigasie vir munisipale herstel in Ditsobotla met 'n gunstige hofbevel afgesluit, wat die nasionale regering se direkte ingryping bevestig, kritieke deursigtigheidsmeganismes vestig, en kostes verhaal. Dit put derhalwe ook die finale uitdruklike bepalings in die grondwet vir die hantering van staatsverval op munisipale vlak uit.

Die hofbevel volg op die onlangse besluit deur president Cyril Ramaphosa en sy kabinet om die dorp onder administrasie van die nasionale uitvoerende gesag te plaas, ooreenkomstig Sakeliga se regseise en dreigemente van persoonlike kostebevele in die geval van voortgesette pligsversuim.

In 'n meerjarige litigasieproses het Sakeliga en ons plaaslike vennote nou die herstel van die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit so ver as wat artikel 139(7) van die Grondwet voor voorsiening maak, gedryf. Artikel 139(7) bepaal dat, indien alle ander ingrypings misluk, die nasionale uitvoerende gesag direk verantwoordelik is vir die herstel van dienslewering, gemeenskaplike infrastruktuur, en dorpsadministrasie.

Die partye het ooreengekom dat die hof ook 'n vorm van geregtelike toesig sal handhaaf, deur middel van verpligte kwartaallikse verslae, om die nasionale uitvoerende gesag se voldoening aan sy pligte tydens die ingryping te monitor.

Die bevel bepaal dat die minister van finansies hierdie kwartaallikse verslae soos beoog in artikel 147 van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur aan Sakeliga se prokureurs moet verskaf en afskrifte by die hof moet liasseer. Sakeliga sal hierdie verslae aan die besighede en gemeenskappe van Ditsobotla beskikbaar stel, vir wie hierdie bykomende deursigtigheid nuttig behoort te wees om die nasionale uitvoerende gesag se ingryping te monitor en waar toepaslik op tekortkominge te reageer.

Kostebevel

Die hof het kostes gesamentlik en afsonderlik toegeken teen die Noordwes-premier, die Noordwes-provinsiale uitvoerende raad, die Noordwes-LUR vir plaaslike regering en behuising, en die minister van finansies. Die kostebevel weerspieël die erns van die grondwetlike kwessies ter sprake en benadruk dat staatsdepartemente nie hul grondwetlike verpligtinge sonder gevolge kan ignoreer nie.

Die weg vorentoe

Sakeliga se werk in Ditsobotla vestig ‘n presedent vir die ernstigste vorm van regeringsingryping wat uitdruklik beskikbaar is onder die Grondwet. Dit voeg ook elemente van geregtelike toesig oor grondwetlike ingrypings by, wat nuttig kan wees om besighede en gemeenskappe elders te bemagtig met die deursigtigheidsmeganismes wat hulle benodig om staatsverval te monitor en daarop te reageer.

Dit was vir Sakeliga belangrik om alle uitdruklike bepalings in die Grondwet vir die regstelling van munisipale ineenstorting uit te put. Indien die nasionale uitvoerende gesag daarin slaag om sy verpligtinge na te kom, sal ons dit verwelkom.

Gegewe die omvang van munisipale mislukking en baie ander vorme van staatsverval landwyd, sou dit egter onverstandig wees om nie voor te berei op verdere, voortgesette, of herhaalde voorvalle van munisipale ineenstorting in Ditsobotla en elders nie. In sulke gevalle, waar die regering nie in staat of bereid is om sy verpligtinge na te kom ondanks hofbevele en geregtelike toesig nie, sal toevlug tot alternatiewe oplossings – onafhanklik van die staat – noodsaaklik wees.

Hoewel Sakeliga sal voortgaan om die sakelui en gemeenskappe van Ditsobotla waar moontlik te ondersteun, vereis die omvang van die probleem ook dat ons strategiese klem toenemend moet verskuif na die ontwikkeling van plaaslike besigheidsgedrewe oplossings in die gemeenskaplike belang, wat anderkant die afhanklikheid van vervallende staatstrukture tree. Om dit te bereik gaan moeilik wees, maar moet gepoog word.

Hulpbronne:

Klik hier vir die konsepbevel.

home-cta-image

Help ons om 'n florerende ekonomie te verseker

Jy kan ekonomiese orde herstel deur ons werk te befonds.