![[WordPress Migration Data]
{
"source": "WordPress Migration",
"originalUrl": "https://www.sakeliga.org.za/wp-content/uploads/2025/04/Sakeliga-PSIRA-Regulations-25042025-copy.jpg",
"wpPath": "/wp-content/uploads/2025/04/Sakeliga-PSIRA-Regulations-25042025-copy.jpg",
"wpYear": "2025",
"wpMonth": "04",
"wpPostCount": 2,
"wpPostIds": [
76079,
76084
],
"migratedAt": "2025-09-18T13:59:07.776Z",
"migratedBy": "wp-media-to-contentful.mjs",
"fileSize": 373124
}
[End WordPress Migration Data]](https://images.ctfassets.net/ptr3cuja5dzu/1xUB09SdsYdJZvlcZhlcP9/10c393eeed3e67b8991f27c62516ae57/Sakeliga-PSIRA-Regulations-25042025-copy.jpg?w=1920&h=1080&fit=fill&fm=webp&q=85)
Sakeliga staan konsep wysigings aan PSIRA-regulasies teen
Die ‘Konsep Wysigings aan die Private Sekuriteitsbedryfregulasies’ is nóg in openbare belang, nóg in die belang van die private sekuriteitsbedryf.
Die konsep wysigings is op 28 Maart 2025 deur die Minister van Polisie, Senzo Mchunu in die staatskoerant gepubliseer na afloop van konsultasie met die raad van die Regulerende Owerheid vir die Private Sekuriteitsbedryf (PSIRA).
In teenstelling met PSIRA se verklaarde oogmerke, sal die voorgestelde wysigings lei tot onbehoorlike regulering van die private sekuriteitsbedryf, en vervolgens die effektiewe funksionering van die bedryf aan bande lê. Die wysigings sal ook vetroue in veiligheid en sekuriteit in die land aftakel – iets wat ‘n kern grondslag vir ekonomiese aktiwiteit en beleggingsbeplanning is.
Sakeliga staan die Konsep-wysigings teen en het omvattende kommentaar in die verband ingedien.
Kern Problematiese Gevolge van die Konsep Wysigings
Indien die wysigings goedgekeur word, sal dit onder andere:
- Die uitreik van vuurwapens verbied waar ‘n private sekuriteitsmaatskappy en/of sekuriteitsbeampte selfs net weens ‘n beweerde oortredig of misdryf ondersoek word.
- Private sekuriteitsbeamptes verbied om vuurwapens in openbare areas soos skole, winkelsentrums, hospitale, stadions en taxi-staanplekke te dra tensy daar aan spesifieke vereistes voldoen word.
- Vele privaatsekuriteitsbeamptes sonder behoorlike beskerming laat, wat die sekuriteitsbeamptes, hul kliënte en/of die publiek kwesbaar laat in voorvalle met geweldadige misdadigers.
- Boeie as wapens klassifieer eerder as ‘n beheer-maatreël om misdadigers in toom te hou.
- Die ammunisie wat aan private sekuriteitsbeamptes voorsien mag word beperk tot ‘n “redelike hoeveelheid” - ‘n term wat ongedefinieerd is in die konsepregulasies.
- Private sekuriteitsverskaffers verbied om tydens die uitvoering van sekuriteitsdienste wapens te gebruik wat moontlik burgerlike persone skade kan aanrig. Dit sluit “tasers”, traangas, rubberkoeëls en ander nie-dodelike wapens in.
- Die gebruik van semi-outomatiese gewere beperk tot slegs drie scenarios: beskerming van waardevolle goedere wat vervoer word, beskerming van kritieke infrastruktuur of anti-stropings dienste.
- Sekuriteitsbesighede vereis om ‘n opsporingstoestel in elke vuurwapen te installeer (ten spyte van vrae oor beskikbaarheid van tegnologie en gepaardgaande kostes). Dié installering mag ook slegs deur ‘n PSIRA-goedgekeurde verskaffer behartig word.
- ‘n Verlammende finansiële las plaas op private sekuriteitsmaatskappye - daar sal van die maatskappye vereis word om die kostes te dek van bykomende jaarlikse evaluasies (soos mediese, sielkundige en psigiatriese evaluasies) wat die sekuriteitsbeamptes in hul diens moet ondergaan.
- Vereis dat private sekuriteitsmaatskappye 7 dae voor enige voorgenome gebruik van enige verbode vuurwapens (soos rubberkoeëls) ‘n aansoek by PSIRA moet indien, desnieteenstaande die spontane en onvoorspelbare aard van sekuriteitswerk.
PSIRA bevestig in ‘n onlangse persverklaring gedateer 11 April 2025 dat die wysigings ontwerp is om voldoening en oorsig binne die private sekuriteitsindustrie te versterk. Tog sal die voorgestelde wysigings die operasionele doeltreffendheid van private sekuriteitsmaatskappye op die spel plaas – maatskappye wat ‘n onvervangbare rol speel in die handhawing van veiligheid in beide openbare en private sfere.
Dit is ‘n duidelike bedreiging vir openbare veiligheid asook produktiewe sosiale en ekonomiese aktiwiteit in Suid-Afrika.
Sakeliga se Posisie:
Die konsepregulasies moet onttrek word.
Enige sulke regulasies moet proporsioneel en redelik wees. Dié konsep wysigings kan egter nie as proposioneel of redelik geag word nie – veral in ag genome die skadelike uitwerking wat dit op private sekuriteitsmaatskappye, hul werknemers en algehele openbare veiligheid sal hê.
Sakeliga se volledige kommentaar aan die kantoor van die Direkteur van die Regulerende Owerheid vir die Private Sekuriteitsbedryf kan hier gelees word.