Sakeliga staan konsepreëls vir oorgrenstransaksies met kriptobates teen
Die konsephandleiding sal wettige ekonomiese bedrywighede van ondernemings en individue aan bande lê en amptenare onbegrensde mag oor private eiendom gee.
Sakeliga neem kennis van die minister van finansies, Enoch Godongwana, se aankondiging in die Mediumtermynbegrotingsraamwerk van 21 Oktober 2026 dat die Nasionale Tesourie en die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) verdere konsultasies sal voer oor die herskryf van die konsepregulasies vir kapitaalvloeibestuur. Dié regulasies sluit voorgestelde reëls vir oorgrenstransaksies met kriptobates in.
Sakeliga is van mening dat die konsephandleiding vir oorgrensaktiwiteite met kriptobates (wat in Augustus 2026 gepubliseer is) ook teruggetrek behoort te word, aangesien dit op die konsepregulasies vir kapitaalvloeibestuur berus.
Ons het op 30 Junie 2026 geskrewe kommentaar op die konsepregulasies ingedien. Hierdie artikel sit ons besware teen die konsephandleiding uiteen, wat die bevoegdhede waarvoor dié regulasies voorsiening maak, in werking sou stel.
Sakeliga het geskrewe kommentaar by die Nasionale Tesourie en die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) ingedien en staan die konsephandleiding vir oorgrensaktiwiteite met kriptobates teen.
Die konsephandleiding is van toepassing op enige persoon in Suid-Afrika wat oorgrenstransaksies met kriptobates doen of wil doen, asook op ondernemings wat kriptobates vir sulke transaksies wil gebruik. Dit bepaal wie kriptobates in en uit die land mag oordra, van watter diensverskaffers gebruik gemaak moet word, binne watter perke, en hoe die staat mag optree wanneer hy 'n oortreding vermoed.
Sakeliga verwerp die konsephandleiding in sy geheel, op sowel inhoudelike as prosedurele gronde.
Die konsephandleiding sal wettige ekonomiese bedrywighede van ondernemings en individue aan bande lê en amptenare onbegrensde mag oor private eiendom gee. Boonop ontbreek die nodige wettige raamwerk vir sulke ingrypende maatreëls.
Beperkings op die oordrag van kriptobates
Die konsephandleiding sou bykans alle oorgrensoordragte van kriptobates deur Suid-Afrikaanse maatskappye en trusts verbied. Dié verbod sou ironies genoeg ook buitelandse kapitaal ontmoedig om die Suid-Afrikaanse ekonomie binne te vloei. Geen voldoende regverdiging word vir hierdie verbod verskaf nie.
Individue sou aan soortgelyke verreikende en absurde beperkings onderwerp word. Die konsephandleiding sou die oordrag van kriptobates uit 'n persoonlike beursie na 'n Suid-Afrikaanse kriptobeurs verbied, selfs waar so 'n oordrag die bates binne die gereguleerde binnelandse stelsel sou bring.
Die konsephandleiding laat dit ook aan die SARB se Finansiële Toesigdepartement (FinSurv) oor om te bepaal wat as 'n oorgrenstransaksie beskou word. In samehang met die konsepregulasies se besonder wye definisie van “kapitaal” as “enigiets met 'n geldwaarde”, sou dit FinSurv in die praktyk toelaat om die omvang van sy eie regulatoriese bevoegdhede te bepaal en dit moontlik selfs tot binnelandse transaksies uit te brei.
Bekendmaking van private sleutels
Enigiemand wat oor 'n private kriptografiese sleutel beskik, het gewoonlik beheer oor die kriptobates wat daaraan gekoppel is.
Ingevolge die konsephandleiding sou kriptobatediensverskaffers wat om magtiging aansoek doen, moet verduidelik hoe hulle hul kliënte se private sleutels bewaar en beveilig. Die konsepregulasies beoog terselfdertyd om amptenare te magtig om “enige inligting op enige wyse” te bekom, sonder dat hulle vooraf toestemming van 'n hof hoef te kry. Hierdie bepalings sou amptenare in die praktyk in staat stel om te eis dat private sleutels aan hulle bekend gemaak word. Dit sou hulle die vermoë gee om beheer oor 'n persoon se kriptobates te verkry en moontlik sonder 'n hofbevel daarop beslag te lê.
Daarbenewens sou direkteure, aandeelhouers en die eienaars van diensverskaffers wat om magtiging aansoek doen, FinSurv onvoorwaardelik moet vrywaar van aanspreeklikheid vir datalekkasies wat met die verwerking van hul persoonlike inligting verband hou. Dit sluit gevalle in waar sensitiewe inligting per abuis aan ongemagtigde persone bekend gemaak word.
Deursoekings en beslagleggings sonder 'n lasbrief
Die konsephandleiding sou diensverskaffers verplig om uitgebreide magte uit te oefen om inligting te bekom en persele te deursoek.
FinSurv sou ook self op dokumente en rekords beslag kon lê bloot op grond van sy eie vermoede van nie-nakoming. Geen hofbevel of voorafgaande kennisgewing sou nodig wees nie.
Boonop sou die SARB 'n diensverskaffer se amptelike magtiging kon opskort of permanent terugtrek, sonder om die diensverskaffer vooraf die geleentheid te gee om sy saak te stel. Die konsephandleiding maak ook nie uitdruklik voorsiening vir 'n reg om teen so 'n besluit te appelleer nie. Ingevolge artikel 5 van die Wet op Bevordering van Administratiewe Geregtigheid (PAJA, Wet 3 van 2000) het openbare instellings soos die Nasionale Tesourie tot 90 dae om skriftelike redes vir sulke administratiewe besluite te verstrek nadat 'n betrokke persoon of onderneming dit versoek het. Gedurende dié tydperk kan 'n onderneming wie se magtiging opgeskort is reeds groot finansiële skade ly wat moontlik nie herstel kan word nie.
'n Gebrekkige openbare konsultasieproses
Die Nasionale Tesourie en die SARB meld dat die konsephandleiding nog nie die kommentaar in ag neem wat reeds oor die konsepregulasies ingedien is nie. Dit sluit Sakeliga se kommentaar van 30 Junie 2026 in.
Om openbare insette te vra oor 'n handleiding wat uitvoering aan regulasies moet gee, terwyl dié regulasies nog heroorweeg word, ondermyn die geloofwaardigheid van die openbare deelnameproses fundamenteel.
Sakeliga het ook beswaar gemaak teen die vereiste dat kommentaar op elke klousule afsonderlik ingedien moet word. Hierdie benadering aanvaar by voorbaat dat die voorgestelde raamwerk geldig is en laat slegs ruimte vir geringe wysigings. Dit sluit die moontlikheid uit om 'n meer fundamentele beswaar te opper, naamlik dat die konsephandleiding in sy geheel verwerp behoort te word.
Hulpbronne
Help ons om 'n florerende ekonomie te verseker
Jy kan ekonomiese orde herstel deur ons werk te befonds.
