Sakeliga staan voorgestelde kapitaalbeheerregulasies teen
Die regulasies sal die staat se bevoegdhede aansienlik uitbrei om private eiendom te monitor, te deursoek, beslag daarop te lê en selfs die verkoop daarvan af te dwing.
Sakeliga staan die konsepregulasies vir die bestuur van kapitaaluitvloei teen en het vervolgens geskrewe kommentaar by die Nasionale Tesourie ingedien.
Die voorgestelde regulasies sal die staat ingrypende nuwe bevoegdhede ten opsigte van private eiendom gee wat grondwetlike grense oorskry en waarvoor daar geen deugdelike ekonomiese regverdiging bestaan nie.
Die regulasies sal die Valutabeheerregulasies van 1961 vervang, wat tans oorgrenstransaksies van valuta en bates beheer. Hoewel die Nasionale Tesourie die voorstel voorhou as ’n modernisering van die regulasies om ook kriptobates in te sluit, sou dit terselfdertyd die staat se bevoegdhede aansienlik uitbrei om private eiendom te moniteer, te deursoek, beslag daarop te lê en selfs die verkoop daarvan af te dwing. ’n Groot deel van hierdie bevoegdhede sal op administratiewe diskresie eerder as geregtelike toesig berus.
Sakeliga se besware sluit onder meer die volgende in:
- ’n Te wye definisie van “kapitaal”;
- ’n Skending van basiese grondwetlike regte;
- Irrasionele en onsekere kernbepalings; en
- Ernstige ekonomiese tekortkominge.
Byna enigiets word as “kapitaal” herdefinieer
Die konsep definieer “kapitaal” so wyd dat dit enige bate insluit wat vir geldwaarde verruil kan word, met die uitsondering van vaste eiendom. Hoewel dit bedoel is om kriptobates by valutabeheer in te sluit, kan dit in beginsel ook gebruik word om die staat se beheer oor bykans alle private eiendom uit te brei.
Die voorgestelde regulasies strek egter ook veel verder as die oorgrenstransaksies waarvoor dit skynbaar geskep is. Dit word verkeerdelik uitgebrei na binnelandse kriptobates, peer-to-peer-oordragte, selfbewaringsreëlings en handelaars wat kriptobetalings van kliënte aanvaar.
Skending van basiese grondwetlike regte
Die konsep se bepalings skend basiese grondwetlike regte sonder die nodige waarborge.
Konsepregulasie 25 magtig die Tesourie en gemagtigde persone om die bekendmaking van enige wagwoord, PIN of private kriptografiese sleutel wat toegang tot ’n persoon se kriptobates verleen, sonder voorafgaande geregtelike magtiging af te dwing. Dit maak ’n disproporsionele inbreuk op die reg op privaatheid wat nie redelikerwys nodig is om die verklaarde regulatoriese doel te bereik nie.
Om die staat toegang te gee tot sulke uiters sensitiewe kriptografiese sleutels is 'n fundamentele ondermyning van die veiligheid van kripto-eiendom. Die staat kan geen voldoende versekering bied dat hy hierdie inligting teen korrupte rolspelers sal kan beskerm nie, veral waar dit toegang tot beduidende private welvaart verleen.
Konsepregulasie 24 laat die Tesourie toe om beslag te lê op bates, insluitend vaste eiendom, deur registrasie teen die titelakte, bloot omdat daar “redelike gronde van vermoede is” van ‘n oortreding. Daar kan dus sonder 'n hofbevel op eiendom beslag gelê word, wat eienaars dwing om hulle eers daarna – op eie koste – tot die hof te wend.
Die konsep laat die staat ook toe om eienaars te verplig om kriptobates of goud teen pryse wat deur die Tesourie vasgestel word, te verkoop. In praktyk kan dit neerkom op onteiening sonder behoorlike inagneming van die regverdige en billike vergoeding wat artikel 25 van die Grondwet vereis.
Irrasionele en onsekere vereistes
Baie van die voorgestelde regulasies berus op ’n monetêre drempel waarbo bates verklaar moet word, transaksies deur gemagtigde diensverskaffers moet geskied en die staat se afdwingingsbevoegdhede sal geld. Die Tesourie het hierdie drempel egter nog nie gepubliseer nie. Die publiek is dus versoek om kommentaar te lewer op ’n regulatoriese stelsel sonder kennis van een van sy sentrale kenmerke. Dit belemmer betekenisvolle openbare deelname en laat ernstige twyfel ontstaan oor die legitimiteit van die proses.
Die voorgestelde boetes is eweneens buitensporig. Selfs 'n bloot administratiewe versuim om 'n verklaring binne 30 dae in te dien kan dieselfde strawwe meebring as opsetlike ontduiking: ’n boete van tot R1 miljoen, gevangenisstraf van tot vyf jaar, of ’n straf gelykstaande aan die volle waarde van die bate.
Ekonomiese tekortkominge
Benewens die grondwetlike gebreke het die konsep ook ernstige ekonomiese tekortkominge.
Kapitaalbeheer van hierdie aard verskuif die verantwoordelikheid om die rand se waarde te beskerm op onbehoorlike wyse van die staat – wat versuim het om dié geldeenheid te beskerm – na private valuta- en bate-eienaars. Dit ondermyn ook juis die vermoë van individue, ondernemings en gemeenskappe om hulself en hul welvaart teen die staat se ekonomiese wanbestuur, magsmisbruik en korrupsie te beskerm deur buitelandse valuta en ’n verskeidenheid bates te hou.
Deur hierdie belangrike teenwig teen staatswanbestuur te verswak, ondermyn die regulasies die fiskale en monetêre dissipline wat noodsaaklik is om vertroue in die rand te handhaaf. Dit maak die geldeenheid juis meer kwesbaar vir devaluasie.
Sakeliga se volledige kommentaar is hier beskikbaar.
Help ons om 'n florerende ekonomie te verseker
Jy kan ekonomiese orde herstel deur ons werk te befonds.
