![[WordPress Migration Data]
{
"source": "WordPress Migration",
"originalUrl": "https://www.sakeliga.org.za/wp-content/uploads/2024/09/Sakeliga-Competition-Commission.jpg",
"wpPath": "/wp-content/uploads/2024/09/Sakeliga-Competition-Commission.jpg",
"wpYear": "2024",
"wpMonth": "09",
"wpPostCount": 2,
"wpPostIds": [
75084,
75091
],
"migratedAt": "2025-09-18T13:59:30.451Z",
"migratedBy": "wp-media-to-contentful.mjs",
"fileSize": 240146
}
[End WordPress Migration Data]](https://images.ctfassets.net/ptr3cuja5dzu/4HpqOgtQshwz2ncM6vZGo4/3dfd8602f2cfd9180840ead6bfe57a3a/Sakeliga-Competition-Commission.jpg?w=1920&h=1080&fit=fill&fm=webp&q=85)
Sakeliga suksesvol in Mededingingskommissie-inligtingsversoek
Nieteenstaande volgehoue teenkanting deur die Mededingingskommissie, het Sakeliga ongeëwenaarde toegang bekom tot die volle rekords van 20 Kommissie-ondersoeke na korporatiewe transaksies.
Ons sal hierdie rekords – bekom ingevolge PAIA– gebruik ter evaluering van die Mededingingskommissie se arbitrêre beroep op sogenaamde “openbare belang gronde” om korporatiewe transaksies te blokkeer of voorwaardes daarop te plaas. Die rekords vorm deel van Sakeliga se pogings om die Kommissie se politieke inmenging in sakebesluite te beperk en uiteindelik te beëindig.
Sedert problematiese wysigings aan die Mededingingswet in 2018, steun die Kommissie gereeld op “openbare belang gronde” om skadelike toegewings rakende BEE, indiensneming, plaaslike inhoud en ander regeringsvoorkeure op maatskappye en hul eienaars af te dwing. Sodoende het die Kommissie nou ver buite die konvensionele mandaat van mededingingsreguleerders wêreldwyd beweeg en homself as ‘n superreguleerder opgestel, een wat volgens sy eie reëls optree en by sake wat niks met mededinging te doen het nie inmeng.
Vandag het transaksies voor die Mededingingskommissie ‘n groter kans om op grond van rasse-oorwegings en ander regeringsdoelwitte belemmer te word as op mededingingsgronde. Hierdie optrede deur die Mededingingskommissie is nou ‘n groot struikelblok vir korporatiewe aksie selfs by mediumgrootte maatskappye in Suid-Afrika, wat miljarde rande se ekonomiese aktiwiteit verhinder, vertraag en ontmoedig.
Sakeliga se Missie: Bou Skaalbare Oplossings Teen Staatsverval
- Sluit aan by duisende toegewyde, missie-gerigte befondsers
- Beskerm ons gemeenskappe teen ’n mislukkende staat
- Verseker ’n florerende ekonomie in die plek wat jy liefhet
Sedert ons eerste PAIA-versoeke aan die Mededingingskommissie in 2022 en na ontvangs van inligting vanaf sommige betrokke maatskappye, het ons begin om ‘n beeld te ontwikkel van hoe die Kommissie funksioneer. Ons het begin om bewyse saam te stel van hoe die Kommissie skynbaar van saak tot saak nuwe vereistes skep, asof dit so veel as moontlik politieke toegewings by maatskappye wou afdwing tydens kritieke transaksiefases, as ‘n tipe regulatoriese afpersing vir transaksiegoedkeuring.
Tydens ons pogings om die Kommissie vas te pen op ‘n weergawe van sy openbare belang beleid, het hy blykbaar besef dat sy voorkeurbenadering om onder die radar te werk, nie volhoubaar was nie. In Maart 2024 het die Kommissie sy nuwe Openbare Belang Riglyne gepubliseer. Hierdie dokument is egter ook hoogs problematies. In wese dring die Kommissie daarop aan dat die sosio-ekonomiese doelwitte van die regering bindend is op private maatskappye, waarmee dit ‘n noodsaaklike en lank erkende onderskeid tussen die openbare en die private skend, privaat eiendom verontagsaam en vele saketransaksies as’t ware ten dele nasionaliseer. Ons glo dat hierdie optrede van die Kommissie ekonomies verwoestend was en is.
Sakeliga en ons regspan ontleed tans die 20 transaksie-rekords wat nou ontvang is. Ons sal daarna die meriete van litigasie en/of verdere ondersoeke oorweeg, maar meer inligting sal waarskynlik benodig word. Ons het daarom reeds verdere PAIA-versoeke gerig. Aangesien die Kommissie nou moes toegee dat Sakeliga toegang tot die transaksieverslae mag geniet, verwag ons voortaan beter voldoening aan PAIA-versoeke.
Ons nooi ook partye wat deur die Mededingingskommissie se arbitrêre inmenging in korporatiewe transaksies benadeel is uit om Sakeliga te kontak. Inligting wat vertroulik gedeel word sal ons help om ons benadering te ontwikkel en kan voordelig wees vir maatskappye wat oorweeg hoe om ongegronde eise van die Mededingingskommissie tydens hul transaksies te hanteer.
Vir Sakeliga se kommentaar op die 2024 Openbare Belang Riglyne, klik hier.