|
[WordPress Migration Data]
{
  "source": "WordPress Migration",
  "originalUrl": "https://www.sakeliga.org.za/wp-content/uploads/2024/02/Depositphotos_382732612_L.jpg",
  "wpPath": "/wp-content/uploads/2024/02/Depositphotos_382732612_L.jpg",
  "wpYear": "2024",
  "wpMonth": "02",
  "wpPostCount": 2,
  "wpPostIds": [
    75114,
    75119
  ],
  "migratedAt": "2025-09-18T13:59:31.371Z",
  "migratedBy": "wp-media-to-contentful.mjs",
  "fileSize": 4071444
}
[End WordPress Migration Data]

Sakeliga versoek COGTA om artikel 139(7)-intervensie in Ditsobotla te doen

19 September 2024

Sakeliga het die Nasionale Uitvoerende Gesag versoek om dringend sy grondwetlike plig na te kom deur direk by die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit in te gryp.

In Ditsobotla het dienslewering ineengestort, staatsverval is volop, en die munisipaliteit word – in die woorde van die provinsiale wetgewer – deur boewery bestuur.

Die Nasionale Uitvoerende Gesag se artikel 139(7)-intervensie moet die mislukte en ontoepaslike artikel 139(5)-intervensie van die Noordwes Provinsiale Uitvoerende Gesag vervang, wat dienslewering geïgnoreer en sy “intervensies” beperk het tot ‘planne oor planne’ om die munisipale burokrasie te herstel. Dit het geen verbetering in dienslewering teweeggebring nie. In plaas daarvan moet die Nasionale Uitvoerende Gesag nou direkte verantwoordelikheid vir dienslewering aanvaar – soos voorgeskryf deur artikel 139 en 139(7) van die Grondwet – totdat ‘n funksionele plaaslike administrasie tot stand kom.

In ons brief vandag aan Velenkosini Hlabisa, die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, nooi ons hom uit om met Sakeliga te vergader. Ons stel ’n bespreking voor van die situasie in Ditsobotla en meer munisipaliteite en dorpe waar besighede en ander ondersteuners van Sakeliga geraak word en tot herstel kan bydra.

Sakeliga se Missie: Bou Skaalbare Oplossings Teen Staatsverval

  • Sluit aan by duisende toegewyde, missie-gerigte befondsers
  • Beskerm ons gemeenskappe teen ’n mislukkende staat
  • Verseker ’n florerende ekonomie in die plek wat jy liefhet

Ons Missie & Impak

Ons lig Hlabisa ook in dat, in die geval van versuim deur die nasionale uitvoerende gesag om ooreenkomstig sy grondwetlik plig  in te gryp, Sakeliga van voornemens is om regstappe vir ’n nasionale regeringsintervensie ingevolge artikel 139(7) en/of ander regstappe te doen. Ons sal hierin versterk wees deur die gunstige hofbevel wat ons in Oktober 2023 bekom het, waarin voorsiening gemaak word dat Sakeliga die hof vir ’n 139(7) nasionale intervensie mag nader sou die 139(5) provinsiale intervensie misluk.

Vir die volledige brief aan Hlabisa, wat ‘n uitgebreide verslag van die afgelope drie jaar se ontwikkelings en die skandelike en ongegronde regsobstruksie deur die plaaslike, provinsiale, en nasionale regerings bevat, klik hier.

Sakeliga se betrokkenheid in Ditsobotla hou verband met ons oogmerk om plaaslike sakeorganisasies te help om ’n florerende ekonomiese orde in hul dorpe te herstel. Ons doen stappe soos litigasie om bestaande beheerstrukture en dienslewering te hervorm waar haalbaar, terwyl ons alternatiewe strukture en oplossings ontwikkel waar voortgesette staatsverval dit noodsaak.

Die verval in die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit, in dorpe soos Lichtenburg en Coligny, is al wyd gerapporteer, met talle klein en groot plaaslike besighede wat na gunstiger sakeomgewings verhuis.