Sakeliga dien kommentaar by Amerikaanse Handelsverteenwoordiger in
Die kommentaar verduidelik hoe die Suid-Afrikaanse regering se rasbeperkende regulasies handels- en sakebedrywighede belemmer
Sakeliga het kommentaar by die kantoor van die Amerikaanse Handelsverteenwoordiger (Office of the United States Trade Representative, USTR) ingedien as inset vir sy jaarlikse National Trade Estimate-verslag (NTE-verslag). Die kommentaar verduidelik hoe die Suid-Afrikaanse regering handels- en sakebedrywighede belemmer deur ras as ’n voorwaarde vir indiensneming, staatskontrakte, lisensies, samesmeltings en handel te stel.
Die NTE-verslag is die Amerikaanse regering se jaarlikse oorsigverslag van die hindernisse wat ander lande vir handel en belegging skep. Dit word aan die Amerikaanse president en die Kongres voorgelê en dien as verwysingsbron vir Amerikaanse handelsbeleid. Die volgende NTE-verslag sal na verwagting in Maart 2027 gepubliseer word.
Sakeliga het gereageer op die amptelike jaarlikse versoek om kommentaar wat die USTR in September 2026 gepubliseer het. Die kommentaar sluit aan by ons deurlopende program om plaaslike en internasionale sakegemeenskappe en handelskantore van akkurate inligting te voorsien oor rasbeperkende regulasies en regulatoriese verwikkelinge wat plaaslike en buitelandse ondernemings in Suid-Afrika beïnvloed, en het ten doel om goed ingeligte sakestrategieë en beleidsbesluite te ondersteun.
Sakeliga se kommentaar bied 'n feitelike agtergrond en konteks oor rasbeperkende regulasies. Dit wys ook hoe Suid-Afrikaanse wetgewing, die toepassing daarvan en die beleidsomgewing verander het ná die tydperk wat die 2026-NTE-verslag dek. Hierdie veranderinge sluit nuwe regulasies, maatreëls om nakoming af te dwing en ’n reeks hofuitsprake in.
Die kommentaar beslaan vyf terreine van rasbeperkende regulering:
- Gelyke Indiensnemingsregulasies;
- Staatsverkryging;
- BEE-lisensiëring;
- Die Mededingingskommissie se regulering van samesmeltings en oornames; en
- Handel (kwotas, rabatte en permitte).
Sakeliga sal die kommentaar wat by die USTR ingedien is, ook aan ander buitelandse handelskantore met verteenwoordiging in Pretoria beskikbaar stel.
Sakeliga sal voortgaan om rasbeperkende regulering te ondersoek, uit te lig en teen te staan. Ons sal plaaslike en buitelandse ondernemings en beleidmakers op hoogte hou van skadelike regulasies en die gevolge daarvan vir besighede, en verslag doen oor vordering om hierdie beleidsagenda in die howe en elders teen te staan.
Hulpbronne
Help ons om 'n florerende ekonomie te verseker
Jy kan ekonomiese orde herstel deur ons werk te befonds.
