|
John Steenhuisen. Koei

Sakeliga tree op teen regering se belemmering van bek-en-klouseer-teenmaatreëls

Vele ander aansteeklike en ernstige dieresiektes word reeds deur nie-staatsinisiatiewe onder beheer gehou

Sakeliga Staff
23 Januarie 2026

Sakeliga tref tans maatreëls om meer doeltreffende en onafhanklike bedryfsreaksies op die bek-en-klouseer-uitbreking en sy ekonomiese gevolge moontlik te maak.

In samewerking met bedryfsrolspelers poog ons om die staat se skadelike selfaanstelling as hekwagter oor bek-en-klouseerbeheer te verwyder of te verminder.

Die regering volhard met sy benaming van bek-en-klouseer as 'n "staatsbeheerde siekte," wat dit egter allermins is. Op baie plekke is die siekte buite beheer. Die Departement van Landbou en ander staatsentiteite se beperkings op verkryging en toediening van entstowwe deur boere, dieregesondheidspraktisyns, landboubesighede en ander – beperk nie die uitbreking nie, maar verskans dit deur onmiddellike, gedesentraliseerde en wydverspreide optrede deur die besighede wat direk geraak word te verbied en te belemmer.

Vele ander aansteeklike en ernstige dieresiektes word reeds deur nie-staatsinisiatiewe onder beheer gehou. Ten spyte daarvan dat daar geen wetenskaplike of praktiese rede is waarom dieselfde nie in die geval van bek-en-klouseer gedoen kan word nie, hou die regering aan om hierdie inisiatiewe te stuit.

Maatreëls deur Sakeliga onderneem

Sakeliga se maatreëls is daarop gerig om private en institusionele rolspelers in staat te stel om onafhanklike oplossings sonder staatshekwagtery te implementeer. Dit sluit in:

  • Eise om skadevergoeding: Sakeliga verskaf aan boere en ander geraakte partye regsinligting om hul regsposisie, met betrekking tot moontlike toekomstige skade wat uit die staat se doen en late rakende die siekte voortspruit, te verbeter. Die aangehegte pro forma-brief kan, met nodige aanpassings en op advies van elke boer se eie prokureurs, oorweeg word as deel van hul individuele risikobeplanning, om regte voor te behou en moontlike toekomstige eise om skadevergoeding teen die staat te versterk.

  • Litigasie om privaatsektor-maatreëls te bevorder: Sakeliga konsulteer met ons regspan en bedryfsrolspelers oor litigasie wat die regering se vermoë, om boere en ander entiteite wat onafhanklik bek-en-klouseer-entstowwe vir vee wil bekom, verhandel, versprei en toedien te belemmer, sal verwyder of verminder. Verdere aankondigings sal oor litigasie gemaak word, onderhewig aan die uitkoms van die konsultasies.

Onderliggende oorsake en oplossings

Die oorsake van hierdie bedryfswye probleem is aan Sakeliga maar té bekend uit ander dele van die ekonomie: staatsverval en skadelike staatsinmenging.

In alle sulke gevalle – waar die staat óf nie oor die vermoë beskik om sy beweerde verpligtinge na te kom nie, óf soms selfs moedswillig skadelik inmeng – is die enigste blywende oplossings dié wat van meet af aan ontwerp is om staatsbestand te wees. Oplossings is staatsbestand wanneer hul sukses nie afhang van 'n afstandelike sentrale staat en regering nie, maar van burgerlike instellings, bedryfsorganisasies, besighede en individue met gespesialiseerde kundigheid en 'n direkte belang by die saak.

Hulpbronne

home-cta-image

Help ons om 'n florerende ekonomie te verseker

Jy kan ekonomiese orde herstel deur ons werk te befonds.