
Sakeliga & TLU SA daag die departement van Water & Sanitasie voor die hof oor onwettige invordering van verjaarde skuld
- Sakeliga en TLU SA het 'n aansoek in die Gauteng-afdeling van die Hooggeregshof ingedien om die departement se onwettige invorderingspraktyke wat verjaarde skuld teiken, tot 'n einde te bring.
- Die departement het al in Oktober 2021 erken dat watergebruiksheffings na drie jaar sal verjaar, in ooreenstemming met die Verjaringswet.
- Die hofsaak is nodig sodat kommersiële watergebruikers en boere nie onregmatige eise vir betaling van verjaarde skuld in die gesig staar nie.
Sakeliga, TLU SA en ‘n aantal kommersiële boere het ‘n aansoek in die Gauteng-afdeling van die Hooggeregshof ingedien, teen die Minister van Water en Sanitasie, die Direkteur-generaal van Water en Sanitasie, en die Departement van Water en Sanitasie.
Die organisasies wil ‘n einde bring aan die departement se onwettige invorderingspraktyke wat verjaarde skuld teiken, en vra ‘n verklarende bevel dat watergebruiksheffings onder die Nasionale Waterwet onderhewig is aan ‘n driejarige verjaringstydperk.
Die Departement van Water en Sanitasie probeer al vir etlike jare om watergebruiksheffings in te vorder wat dekades oud is, waarvan sommige dateer van voor die Nasionale Waterwet in 1998 in werking getree het.
Kommersiële boere is onderwerp aan teistering en intimidasie deur skuldinvorderaars wat betaling eis vir bedrae wat lankal verjaar het, dreigemente van regstappe, en eise vir betaling sonder behoorlik uiteengesette rekeninge wat wys hoe die bedrae bereken word.
Die departement het al in Oktober 2021 erken dat watergebruiksheffings na drie jaar sal verjaar, in ooreenstemming met die Verjaringswet.
Die Departement het sedertdien sy standpunt verander, blykbaar in ‘n poging om invordering onwettig te verhoog.
Sakeliga en TLU SA argumenteer in ons aansoek dat watergebruiksheffings nie belasting is nie, en dus gewone skuld is wat onderhewig is aan driejarige verjaring volgens die Verjaringswet.
Hierdie saak is van uiterste belang vir kommersiële boere, wat regsekerheid soek oor die verjaring van skuld met betrekking tot watergebruiksheffings.
Die voortdurende dreigemente van invorderingsaksie vir moontlik verjaarde skuld bemoeilik finansiële beplanning vir kommersiële boere, bring landbouproduksie in gedrang, en skep risiko’s vir werkverliese in die landbousektor indien bedrywighede nie meer finansieel lewensvatbaar is nie.
Sakeliga en TLU SA vra ‘n verklarende bevel dat watergebruiksheffings vir kommersiële en landboudoeleindes onderhewig is aan driejarige verjaring, asook ‘n bevel wat die Departement verplig om volledig uiteengesette state aan die betrokke boere te verskaf.
Die hofsaak is nodig sodat kommersiële watergebruikers en boere dwarsoor Suid-Afrika nie onregmatige eise vir betaling van verjaarde skuld in die gesig staar nie, met die gepaardgaande koste en sake-ontwrigting wat dit meebring. Hierdie aansoek is ‘n belangrike toetssaak vir die behoorlike toepassing van verjaringswetgewing op statutêre heffings, en die perke van die staat se invorderingsbevoegdhede.