|
[WordPress Migration Data]
{
  "source": "WordPress Migration",
  "originalUrl": "https://www.sakeliga.org.za/wp-content/uploads/2024/02/Sakelia-Ditsoblotla-03-scaled.jpg",
  "wpPath": "/wp-content/uploads/2024/02/Sakelia-Ditsoblotla-03-scaled.jpg",
  "wpYear": "2024",
  "wpMonth": "02",
  "wpPostCount": 4,
  "wpPostIds": [
    74864,
    74157,
    74873,
    74168
  ],
  "migratedAt": "2025-09-18T13:59:37.918Z",
  "migratedBy": "wp-media-to-contentful.mjs",
  "fileSize": 730536
}
[End WordPress Migration Data]

Sakeliga wen spesiale bestraffende kostebevel teen COGTA en Noordwes-regering 

31 Julie 2024
  • Sakeliga het 'n spesiale bestraffende kostebevel teen die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (COGTA) en die Noordwes-regering verkry. Die hof het bevind dat die staatsrespondente "probeer het om hul grondwetlike plig te ontduik" en dat hul teenkanting teen Sakeliga "heeltemal onnodig" was.
  • Die kostebevel is toegestaan as deel van Sakeliga se voortgesette litigasie met vennote in Lichtenburg om oplossings te vind vir die ineenstorting van plaaslike regering.
  • "Ek kan geen verskoning vind vir die gedrag van die respondente nie," lees die bevel van die Mahikeng Hooggeregshof.

"Die respondente het die onvermydelike vertraag: probeer om hul grondwetlike plig, om voldoende water aan die publiek te voorsien, te ontduik. Die opponering van die aansoek was, na my mening, heeltemal onnodig."

Koste is aan Sakeliga toegeken op die buitengewone hoë skaal van prokureur-en-eie-kliëntkoste – ‘n seldsame bevel waarmee ‘n hof uiterste ontevredenheid met die gedrag van ‘n party wil demonstreer.

In hierdie geval het die bevel betrekking op opeenvolgende dringende aansoeke wat Sakeliga in Oktober 2022 en Maart 2023 van stapel gestuur het – en sedertdien gewen het – in verband met die ineenstorting van die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit. Sakeliga se aansoeke het die dringende herstel van water en ander kritieke dienste aan geaffekteerde gemeenskappe in die munisipaliteit gevra. Menige inwoners en besighede het akute watertekorte ervaar.

Die hof het daarop gewys dat “ie aansoeker (Sakeliga) hierdie litigasie in die belang van die publiek begin het.” Die hof was merkbaar krities oor die manier waarop die respondente “die aansoek teen alle koste teenstaan” en blaam verskuif in weerwil van “hulle grondwetlike pligte”. Die hof het bevind dat:

"In plaas daarvan om maatreëls in plek te stel om aan hul grondwetlike plig te voldoen om die gemeenskapslede van water te voorsien, of om 'n ondersoek in te stel om vas te stel waar dinge skeefgeloop het om in so 'n desperate toestand te beland, het die regeringsarms mekaar en die kontrakterende partye die skuld gegee. Die Munisipaliteit (plaaslike sfeer) het die Provinsie (provinsiale sfeer) blameer en albei het die privaat kontrakterende partye blameer."

Sakeliga se Missie: Bou Skaalbare Oplossings Teen Staatsverval

  • Sluit aan by duisende toegewyde, missie-gerigte befondsers
  • Beskerm ons gemeenskappe teen ’n mislukkende staat
  • Verseker ’n florerende ekonomie in die plek wat jy liefhet

Ons Missie & Impak

Onlangse vordering

Terwyl die bevele wat in Oktober 2022 en Maart 2023 verkry is, tussentydse bevele was, was Sakeliga daarna suksesvol in die verkryging van ‘n finale bevel teen die Noordwes Provinsiale Uitvoerende Raad en die Nasionale Departement van COGTA in Oktober 2023.

Die finale bevel het bepaal dat die Provinsiale Uitvoerende Raad dringend in Ditsobotla moet ingryp ingevolge artikel 139(5) van die Grondwet, aan Sakeliga en die hof elke drie maande moet rapporteer, en op betekenisvolle wyse met Sakeliga moet skakel oor die herstel van Ditsobotla.

Die mees onlangse gebeurtenis was ‘n vergadering op 26 Julie 2024 waar Sakeliga en ons plaaslike vennote met 19 afgevaardigdes van die munisipaliteit, provinsiale regering en nasionale regering ontmoet het. Die doel van die vergadering was vir die respondente om aan ons verslag te doen oor hul vordering met die herstel van die dorpsadministrasie en om betekenisvol te skakel oor ander hangende sake.

By die vergadering het die respondente egter versuim om die vereiste verbeterings aan die situasie in Ditsobotla te demonstreer. Hulle het gekla dat hulle nie ‘n herstel kan uitvoer nie, met verwysing na georganiseerde misdaad, die ineenstorting van plaaslike staatskapasiteit, en meer.

Hierdie verskonings is nie aanvaarbaar nie en ons is tans besig om gepaste volgende stappe te bepaal.

Intussen sal Sakeliga ‘n gesamentlike fisiese inspeksie met die Noordwes Uitvoerende Raad en COGTA van infrastruktuur in Ditsobotla onderneem. Ons sal ook verdere antwoorde van hulle vereis, wat hulle onderneem het om binne vyf dae in elke geval te voorsien. Ons bevindings tydens en na hierdie inspeksie- en inligtingsproses sal ons verdere stappe in verband met Ditsobotla rig.

Ten spyte van vordering met litigasie, hou staatsverval aan om besighede en inwoners van die Ditsobotla Plaaslike Regering skade te berokken, soos ook in dorpe regoor die land heen. Die landswye nood van dorpe en plaaslike ekonomieë is ‘n aanklag teen skadelike politieke leierskap oor staatsstrukture wat strek van plaaslike regering tot in die kabinet. Nie net staan hierdie openbare ampsdraers hardnekkig aan die stuur van toenemende staatsverval nie, hulle belemmer ook willens en wetens plaaslike besighede en inwoners wat oplossings deur litigasie en alternatiewe oplossings soek.

Sakeliga sal voortgaan om litigasie as ‘n noodsaaklike deel van die oplossing na te streef, terwyl ons parallel met plaaslike vennote werk om langtermyn en onafhanklike oplossings vir plaaslike regeringsineenstorting te ontwikkel.