Status quo vir Vryburg Aktekantoor
'n Skikking is bereik tussen die Forum van Besorgde Inwoners van Vryburg en die Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming om die Aktekantoor in Vryburg oop te hou.
'n Skikking is bereik tussen die Forum van Besorgde Inwoners van Vryburg en die Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming om die Aktekantoor in Vryburg oop te hou. Die Forum is verteenwoordig en bygestaan deur AfriSake om die herplasing van sekere Noord-Kaapse akteregistrasies na die Kimberley-aktekantoor te verhoed, ten minste totdat die elektroniese akteregistrasiestelsel geïmplementeer word.
Voormalige Minister Gugile Nkwinti het in Julie 2016 'n onderneming gegee om nie die betrokke aktekantoor te skuif of te herrangskik nie, tog is AfriSake genader deur besorgde inwoners nadat dit bekend geword het dat sekereakteregistrasies sonder behoorlike openbare deelname op 1 April 2018 na Kimberley geskuif sou word. Weens die kwesbare aard van Vryburg se plaaslike ekonomie en die besigheidsbelange en beleggings in daardie gebied, het AfriSake die Minister se kantore genader om hierdie verrigtinge te stuit.
Nkwinti sou hierdie onderneming op skrif erken, maar was nie in staat om dit te doen nie omdat hy dieselfde aand deur President Cyril Ramaphosa na die pos van Minister van Water en Sanitasie verskuif is. Nkwinti is vervang deur Minister Maite Nkoana-Mashabane. AfriSake het toe die Noord-Gauteng Hooggeregshof op 'n dringende grondslag genader, waarna die partye ooreengekom het om die status quo van die aktekantoor ongeskonde te hou, hangende die uitslag van 'n verhoor oor die feite in 'n hof van regte.
"As 'n organisasie wat voorspraak maak vir voorspoedige besigheidsomgewings met 'n klem op vrye markkragte, moes ons in hierdie aangeleentheid ingryp. Veral as in ag geneem word dat die dorp rondom die aktekantoor gestig is en al die besigheidsbelange daarmee verbind is. Ons is tevrede met hierdie tydelike positiewe uitkoms," sê Armand Greyling, Regs- en Beleidsanalis by AfriSake.