
Die staat gee toe om NGV-implementering op te skort
Hierdie toegewing deur die staat is die gevolg van omvattende litigasie teen die NGV-wet
In 'n beduidende ontwikkeling in Sakeliga se saak teen die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV-wet) het die Hooggeregshof in Pretoria gelas dat die minister van gesondheid en die president verbied word om enige bepaling van die NGV-wet te proklameer of te implementeer, totdat die hangende openbare deelname-uitdagings teen die Wet afgehandel is.
Hierdie bevel spruit voort uit 'n ooreenkoms tussen die partye en bevat kernbepalings van 'n voorwaardelike teenaansoek wat Sakeliga in Oktober 2025 aanhangig gemaak het.
Agtergrond
Die staat het aansoek gedoen om die substantiewe konstitusionele sake teen die NGV-wet op te skort, terwyl die prosedurele sake aangehoor word. Sakeliga het in sy teenaansoek aangevoer dat 'n opskorting van die verrigtinge nie geregverdig is nie, maar dat – indien dit wel toegestaan sou word – die staat vir die duur van die opskorting verbied moet word om enige aspek van die NGV-wet te implementeer.
Hierdie toegewing deur die staat en die hofbevel is die gevolg van omvattende litigasie teen die NGV-wet deur belanghebbendes en verteenwoordigende groepe in die gesondheidsorgsektor.
Die staat se ondernemings
Die hofbevel bevestig drie belangrike, bindende ondernemings deur die staat:
Die minister van gesondheid onderneem om nie die president te versoek om enige artikels van die NGV-wet te proklameer voordat die Konstitusionele Hof uitspraak gelewer het in die openbare deelname-sake nie.
Die president onderneem om geen bepaling van die NGV-wet te proklameer hangende daardie uitsprake nie.
Die minister van gesondheid onderneem om nie die NGV-wet te implementeer of enige bevoegdhede ingevolge daardie wet uit te oefen hangende die Konstitusionele Hof se uitsprake nie.
Alle konstitusionele sake teen die NGV-wet wat tans voor die Hooggeregshof in Pretoria dien — insluitend Sakeliga se saak — word opgeskort op voorwaardes wat die applikante beskerm. Indien daar enige beweerde nie-nakoming van die ondernemings deur die staat sou plaasvind, kan enige party die hof met 48 uur se kennisgewing nader.
Volgende stappe
Die Konstitusionele Hof sal na verwagting die prosedurele openbare deelname-sake deur die premier van die Wes-Kaap en die Raad van Gesondheidsorgbefondsers (BHF) op 5 tot 7 Mei 2026 aanhoor.
Die tydsduur verbonde aan die afhandeling van litigasie van hierdie aard is onvoorspelbaar. Indien die prosedurele sake verder vertraag word, verhoed die verbod dat die staat ’n irrasionele, duur en skadelike beleid implementeer, en word die publiek aldus beskerm.
Sakeliga en ander partye se substantiewe konstitusionele sake bly ten volle staande en sal aangehoor word sodra die Konstitusionele Hof oor die prosedurele aangeleenthede uitspraak gelewer het.
Intussen sal Sakeliga die staat se nakoming van die hofbevel aktief en noukeurig monitor.
Indien die minister van gesondheid of die president enige verdere stappe sou doen om enige bepaling van die NGV-wet te proklameer of te implementeer in stryd met hierdie ondernemings en die hofbevel, sal minagtingsverrigtinge of ander regstappe volg.
Hierdie ontwikkelinge beklemtoon die noodsaaklikheid van goed toegeruste, strategiese litigasie in die openbare belang wat skadelike beleid teenstaan en wesenlike toegewings van die staat afdwing.
Gesondheidsorgondernemings behoort onnodige, voortydige nakoming van die NGV te vermy en ten volle voordeel te trek uit verdere vertragings en terugslae vir die NGV, sodat hulle op waardetoevoegende gesondheidsorgbedrywighede kan bly fokus.
