|
[WordPress Migration Data]
{
  "source": "WordPress Migration",
  "originalUrl": "https://www.sakeliga.org.za/wp-content/uploads/2025/02/Sakeliga-EWC-10022025-Image-1-copy.jpg",
  "wpPath": "/wp-content/uploads/2025/02/Sakeliga-EWC-10022025-Image-1-copy.jpg",
  "wpYear": "2025",
  "wpMonth": "02",
  "wpPostCount": 2,
  "wpPostIds": [
    75727,
    75737
  ],
  "migratedAt": "2025-09-18T13:59:16.621Z",
  "migratedBy": "wp-media-to-contentful.mjs",
  "fileSize": 426826
}
[End WordPress Migration Data]

Kan die DA die ANC inperk?

10 Februarie 2025

Nadat die DA verlede jaar by die regering aangesluit het, was dit altyd belangrik om verwagtinge te temper.

Die ANC glo steeds in die Freedom Charter, die Nasionale Demokratiese Revolusie, en selfverryking; staatsverval is al dekades aan die gang; en die DA is ’n junior vennoot met ’n moeilike taak.

Vandeesweek het die DA egter selfs getemperde verwagtinge teleurgestel, toe dit ’n belangrike toets vier keer gedop het. Díe toets was of die DA geleenthede, om die ANC in te perk, kan benut om sy eie agenda te dryf.

Teen die tyd dat ek hierdie artikel skryf was die vyfde toets aan die gang, naamlik hoe die DA op president Donald Trump se uitvoerende bevel sou reageer. Hopelik gaan dit beter as met die eerste vier.

Die eerste toets: Internasionale betrekkinge

Dit is nie aldag dat die magtigste man in die wêreld, Donald Trump, en die rykste man in die wêreld, Elon Musk, tyd afknyp om kritiek op die Suid-Afrikaanse regering uit te spreek nie.

Trump het in sy plasings korrel gevat op twee verwante kwessies: die Onteieningswet en diskriminasie.

Tereg beskou Trump die Onteieningswet as die begin van ’n nuwe fase van onteiening in Suid-Afrika. Trump se adviseurs oorskat moontlik die tempo waarteen dit in werking gestel sal word, maar wie weet? Die wet is aanvegbaar en onkonstitusioneel, ja, maar dit verander niks aan die regering se uitdruklike bedoeling daarmee nie: om wesenlik meer te onteien teen wesenlik minder as markprys.

In plaas van om die korrektheid in Trump se plasing uit te wys, dit te kontekstualiseer, en dit te gebruik om die ANC in ’n hoek te druk, het die DA by woordkeuses vasgehaak en die ANC gehelp om die Onteieningswet goed te praat.

Tien maande gelede, voordat dit in die regering was, het die DA die Onteieningswet nog in die sterkste terme veroordeel:

  • “Onteiening sonder vergoeding ingeglip by die wetgewende agterdeur”
  • “Vermomde onteiening”
  • “Roekelose aanval op die Grondwet”
  • “’n Direkte bedreiging”

Toe, asof sy vorige standpunte nooit bestaan het nie, verklaar die DA verlede week dat die Onteieningswet nie onteiening sonder vergoeding inhou nie en nie ’n omseiling van die grondwet is nie. Hy veroordeel selfs organisasies wat standpunte huldig nés die wat tot onlangs toe nog DA-standpunte was.

In een van sy verklarings laat blyk die DA selfs dat die grondwetlike probleem bloot met die volgorde van onteieningsprosedures te make het.

Dat die vergoeiliking van die Onteieningswet ’n stap te ver gegaan het blyk wel duidelik uit die pogings deur etlike DA-leiers daarna om beter standpunte in te neem. Die party het nou ook aangekondig dat dit ’n hofaansoek gebring het om die Onteieningswet teen te staan.

Afhangende van die aansoek se inhoud kan dit ’n positiewe verwikkeling wees.

Die DA se hantering van die Onteieningswet dra tans nie tot ’n gebalanseerde en konsekwente hantering van hierdie kwessie by nie.

Natuurlik hoef die DA nie elke aspek van president Trump of andere se stellings te verdedig nie. Maar die antwoord is nie om te paai, die werklikheid te ontken, en die ANC se beleid namens die ANC te verdedig nie.

Die korrekte reaksie is goedgeformuleerde, konsekwente, en ferm weerstand teen die Onteieningswet.

Ook die geleentheid om die ANC oor diskriminasie aan te vat laat die DA verbygaan. Trump is heeltemal korrek dat die regering sekere groepe mense “baie sleg behandel”.

Die mees ooglopende slegte behandeling is die duisende stukke wetgewing, regulasies en kwotas wat teen blanke mense gerig is, gewoonlik onder die dekmantel van “openbare belang” of “regstelling” ten gunste van swart mense.

Dit is dus geen abstrakte vraag wanneer Elon Musk op X aan Cyril Ramaphosa vra waarom daar openlik rassistiese wette oor eienaarskap is nie. Die enkele belangrikste rede waarom Starlink nie in Suid-Afrika beskikbaar is nie is omdat die regering rassevereistes by eienaarskap stel.

Uiteraard is daar ook ander klasse mense, soos grondeienaars oor die algemeen, of meer spesifiek Afrikaanssprekendes en in besonder Afrikaners, of selfs Engelse, Indiër en Bruin gemeenskappe wat toenemend aan die ontvangkant van geteikende “baie slegte behandeling” deur die regering is.

Dan is daar ook nog die onbedoelde skade. Net omdat die regering swart mense nie doelbewus benadeel nie beteken nie dat hulle nie ook skade ly nie.

Die ekonomie is ’n ingewikkelde diensbaarheidsketting, waarin mense uit alle groepe oor en weer met mekaar besigheid doen. Wanneer die regering een groep ekonomies skaad lei ook al die ander onder die kleurblinde negatiewe vermenigvuldigingseffek.

Sakeliga se Missie: Bou Skaalbare Oplossings Teen Staatsverval

  • Sluit aan by duisende toegewyde, missie-gerigte befondsers
  • Beskerm ons gemeenskappe teen ’n mislukkende staat
  • Verseker ’n florerende ekonomie in die plek wat jy liefhet

Ons Missie & Impak

Die tweede toets: transformasiefondse

Vroeg in Januarie nog het knap parlementslede van die DA minister Parks Tau se R100 miljard transformasiefonds aan die kaak gestel.

Wat die parlementariërs se goeie werk ongedaan maak is egter dat die minister van landbou verlede week vir die derde maal in sy termyn sélf regulasies vir ’n landbou-transformasiefonds uitgevaardig het.

Ingevolge hierdie regulasies word 20% van die statutêre markheffings op sojabone, tafeldruiwe en gedroogde wingerdvrugte vir “transformasie” opsygesit.

Waar een deel van die DA in Januarie nog besig was om die ANC se beleid van geldputte vir transformasie teen te gaan, was ’n ander deel dus besig om daardie einste ANC-beleid te implementeer.

Dat minister Steenhuisen se transformasiefondse slegs miljoene en nie miljarde beloop nie, en in kleiner strukture as minister Tau s’n gehuisves word, verander nie die saak nie.

Die derde toets: Die Wet op Nasionale Gesondeheidsversekering (NGV)

Na afloop van gesprekke met die ANC, waarin die DA blykbaar mondelinge versekeringe ontvang het, was DA-kabinetslede vandeesmaand vinnig om van ’n “deurbraak” oor die NGV te praat. Sover ons egter kan vasstel is dit gebaseer op niks meer nie as mondelinge versekeringe vanuit ANC-geledere, terwyl die NGV-wet onveranderd bly.

Die probleem is dat die DA hier klaarblyklik die indruk van vordering probeer skep, wat die potensiaal het om die druk teen die NGV te verminder, in omstandighede waarin die vermindering van druk hoegenaamd nie gepas is nie. So verskuif die doelpale net, en kry die ANC die geleentheid om die onderhandelingsterrein in sy guns te definieer.

Die vierde en laaste toets: Die staatsrede

Vandeesweek se staatsrede was in geen wesenlike opsig anders as enige van president Cyril Rampahosa se voriges nie. Waar die DA elke vorige staatsrede in sterk terme verwerp het, gryp dit vanjaar s’n egter aan asof dit totaal nuut en vars is.

John Steenhuisen verklaar selfs: “As die leier van die DA, is ek ongelooflik trots om te sê dat ons beleide sentraal gestaan het in die president se staatsrede.”

’n Mens weet nie of dit ’n skulderkenning of goedgelowigheid is nie, maar die DA se beleid is doodeenvoudig nie “sentraal” vir president Ramaphosa en die ANC nie. Niemand glo so-iets nie, en al resultaat is dat die DA homself binne ’n ANC raamwerk en buite die publiek se sin vir geloofwaardigheid plaas.

Gevolgtrekking

Goeie regering vereis nie volmaaktheid nie. Dit behoort daarom ook nie die eis aan die ANC, die DA, of enige ander party in die regering te wees nie.

Waar enigeen in die regering egter die sakeomgewing en samelewing in verkeerde rigting stuur, verg dit uitwysing en ingryping.

By vier geleenthede die afgelope week of twee het die DA ongelukkig die toets, of dit die ANC se beweegruimte kan inperk, gedop. Díe geleenthede is gelukkig nie verby nie – dit sal weer opduik. Die uitdaging is om daarop voor te berei.

Indien die DA sulke toetse aanhou dop, sal sy bydrae tot konstruktiewe hervorming binne die regering ernstig oorweeg moet word.

*’n Geredigeerde weergawe van hierdie artikel het verskyn in Rapport, op 9 Februarie 2025, hier.*