![[WordPress Migration Data]
{
"source": "WordPress Migration",
"originalUrl": "https://www.sakeliga.org.za/wp-content/uploads/2024/12/Still-2024-08-21-160456_1.4.1.png",
"wpPath": "/wp-content/uploads/2024/12/Still-2024-08-21-160456_1.4.1.png",
"wpYear": "2024",
"wpMonth": "12",
"wpPostCount": 2,
"wpPostIds": [
75573,
75580
],
"migratedAt": "2025-09-18T13:59:31.576Z",
"migratedBy": "wp-media-to-contentful.mjs",
"fileSize": 24925695
}
[End WordPress Migration Data]](https://downloads.ctfassets.net/ptr3cuja5dzu/3jHrFMtRS9XBnWIGCBp01H/9887564c2cce36529c35dacbaa2c7fa4/Still-2024-08-21-160456_1.4.1.png?w=1920&h=1080&fit=fill&fm=webp&q=85)
Mededingings-kommissie beplan BEE-vereistes vir varsproduktemarkte
Die Mededingingskommissie is besig om uit eie beweging BEE-verpligtinge vir varsproduktemarkagente, boere en aankopers te skep.
Sakeliga het vandeesweek ’n ondersoek hierna van stapel gestuur, met uitgebreide PAIA-versoeke aan die Mededingingskommissie, die Minister van Landbou, en die Raad op Landbouprodukagente (APAC).
Ingevolge konsepbevele van die Varsprodukte Markondersoek (FPMI), in Sakeliga se besit, wil die Kommissie markagente verplig om op eie koste mededingers in swart besit op te rig en op te lei. Dit is ongeag die wydverspreide voorkoms van bestaande swart aandeelhouersbelang in verskeie markagentskappe. ‘n Voorbeeld van so ‘n konsepbevel kan hier besigtig word.
Die konsepbevele bepaal dat hierdie ooreenkomste ses jaar lank aangegaan moet word en binne 18 maande ge-implementeer moet wees. Markagente moet boonop jaarliks onder eed daaroor verslag doen en gereed wees om enige verdere inligting wat die Kommissie versoek te oorhandig. Konsepbevele van die Kommissie kan in bevele van die Mededingingstribunaal omgeskakel word en afgedwing word.
Die Varsprodukte Markondersoek is in Maart 2023 ingevolge artikel 43B(1)(a) van die Mededingingswet deur die Mededingingskommissie van stapel gestuur en was veronderstel om op die laatste teen 1 Oktober sy verslag te lewer. Na verlenging deur die Minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, is dit nou veronderstel om teen 15 Januarie klaar te maak. Hoewel die kommissie van ondersoek dus graag baie tyd vir homself gun, ongeag die koste daarvan, vereis dit die teenoorgestelde van markagente. Dokumente in ons besit toon dat markagente in November slegs vier werksdae gegee is om op die konsepbevele te reageer.
Die Kommissie se konsepvoorstelle behels ook etlike aanbevelings aan die Raad op Landbouprodukagente (APAC), waarvoor die Raad egter oor geen wetlike magte beskik nie. Die aanbevelings aan die APAC kan hier besigtig word.
Dit sluit in:
Om met die AgriBEE-raad en die Departement van Landbou saam te werk om te verseker dat swart markagente sekere proporsies van die mark vir aartappels, uie, tamaties, appels, piesangs en ander veelverhandelde gewasse verhandel.
Om ’n ontwikkelingsprogram te skep vir swart markagentskappe, waarin voorkeur gegee word aan swart maatskappy wat slegs in swart besit is en dus geen samewerking op aandeelhoudingsvlak met gemengde maatskappye of individuele wit persone het nie.
Om die bestaande markagentskappe se verpligte samewerkingsprojekte met swart markagentskappe goed of af te keur, te moniteer, en te evalueer.
Om vir ’n periode van ses jaar voortdurend aan die Kommissie te rapporteer.
Sakeliga se Missie: Bou Skaalbare Oplossings Teen Staatsverval
- Sluit aan by duisende toegewyde, missie-gerigte befondsers
- Beskerm ons gemeenskappe teen ’n mislukkende staat
- Verseker ’n florerende ekonomie in die plek wat jy liefhet
Die Kommissie se voorskrifte aan die markagente en aan APAC kom daarop neer dat dit die uitvoering van politieke beleid die verantwoordelikheid van privaat besighede wil maak. Dit is ook ’n voorbeeld van die derde golf van BEE, ingevolge waarvan politiekgesinde amptenare probeer om met onregmatige regulering deelname aan BEE verpligtend vir deelname aan die ekonomie te maak.
Die Mededingingskommissie se ondersoek en die konsepbevele getuig van ’n agenda teen markagente, veral aangesien die Kommissie soos die graf swyg oor die verval van varsproduktemarkte in staatshande. Verbruikers en die hele waardeketting ly reeds jare onder die hopelose bestuur en instandhouding van varsproduktemarkte in Johannesburg, Pretoria en elders waar munisipaliteite dit beheer en staatsagentskappe veronderstel is om gehaltebeheerdienste te lewer, maar misluk.
Ironies genoeg is die verval van die varsproduktemarkte in staatsbeheer een van die groot redes waar dit in praktyk moeilik is om ’n varsproduktemarkagent te word, ongeag ras. Hoewel dit enigeen vry staan om so ’n besigheid te begin, is markagente wat skaal wil bereik deesdae genoodsaak om hul eie koelkamers, vurkhysers, kragopwekkers, en ander kapitaalintensiewe geriewe en toerusting op hul vloerspasie op die markte te plaas. Die Johannesburgse Varsproduktemark het byvoorbeeld vroeër vanjaar aan Sakeliga erken dat ’n derde van hul koelkamers nie werk nie, hoewel ons reken dat dit in ’n stadium eerder nader aan 60% was.
Behoorlik funksionerende markte sou die magdom gedeelde infrastruktuur-uitgawes oorhoofs kon dra, maar weens staatsverval is dit nou nodig vir markagente om hul eie infrastruktuur te vestig. Om nou boonop van markagente te verwag om van die wins wat hulle nieteenstaande staatsverval maak te gebruik om mislukte politieke projekte te finansier is te dik vir ’n daalder.
Ander konsepaanbevelings aan APAC, wat nie direk met ras te doen het nie, is ook ingrypend. Die voorstelle, wat markagente, boere en aankopers se innovasie en samewerking erg sal belemmer, behels onder meer:
Die daarstelling van maksimum kommissiefooie aan boere en agente oor wat hulle mag kontrakteer.
’n Verbod op markagente om die volgende te gebruik of aan te bied:
- a. Koopkaarte
- b. Kredietverlening aan produsente of kopers
- c. Alle reservering van produkte, soos wanneer ’n koper ’n markagent bel en vra om solank ’n sekere hoeveelheid eenkant te hou terwyl reëlings getref word
- d. Na-uurse verhandeling
Hoewel in die dokumente tans in Sakeliga se besit boere en aankopers nog nie direkte verpligtinge deur die Kommissie opgelê word nie, word hulle wel deeglik geraak. Die voorstelle dat APAC sorg dat een of ander minimum vlak van markaandeel in gewasverhandeling vir swart markagente verseker word ondermyn boere se diskresie om so veel produk as wat hulle wil na markagente van hul keuse te stuur en aankopers se diskresie oor waar hulle koop. Die poging tot kommissie-beperking deur die staat, asook verbod op markagente se koopkaarte, kredietverlening, reserverings van aankope, en na-uurse verhandeling is eweneens belemmerend vir boere en aankopers.
Sakeliga se ondersoek na die optrede van die Kommissie en die skakeling wat dit het met die AgriBEE-raad (wat val onder die Departement van Landbou) en APAC behoort in die loop van 2025 verdere lig te werp op die Kommissie se aktiwiteite en planne met BEE en ander inmenging by die varsproduktewaardeketting. Benewens die uitgebreide PAIA-versoeke aan hierdie staatsentiteite samel ons ook inligting in by ondernemings en ander rolspelers in die waardeketting.
Persone of organisasies wat oor inligting beskik wat hulle van belang ag is welkom om met ons in kontak te tree.