
Gelyke Indiensneming: Hofsake vorder ten spyte van Konstitusionele Hof-terugslag
Sakeliga en NEASA sal voortgaan om hierdie ongrondwetlike indiensnemingskwotas teen te staan.
Die Konstitusionele Hof het Sakeliga en NEASA se dringende aansoek om direkte verlof tot appèl teen 'n gebrekkige Hooggeregshof-uitspraak in ons Gelyke Indiensneming-saak van die hand gewys.
Die hof se besluit het uitsluitlik betrekking op die vraag of die saak dringende direkte toegang tot die Konstitusionele Hof regverdig, en maak nie 'n beslissing oor die meriete van die interdik wat aanvanklik in die Hooggeregshof aangevra is nie.
Intussen het Sakeliga en NEASA in 'n positiewe verwikkeling hierdie week daarin geslaag om 'n bevel van die Hooggeregshof in Pretoria te bekom wat die minister van indiensneming en arbeid verplig om die rekord van en redes vir die besluit oor die vasstelling van die Gelyke Indiensneming-sektorale numeriese teikens te lewer. Hierdie rekord is noodsaaklik vir 'n behoorlike geregtelike hersiening van die departement se rasse- en geslagskwotas.
Die minister se lang en voortgesette versuim om aan die reëls van die hof te voldoen, het 'n hofbevel genoodsaak wat nakoming afdwing. 'n Bestraffende kostebevel (op prokureur-en-kliënt-skaal) is toegestaan.
Litigasie duur voort
Ondanks die Konstitusionele Hof se weiering gaan ons aansoek om verlof tot appèl by die Hoogste Hof van Appèl steeds voort. Die aansoek is gelyktydig met die direkte appèl na die Konstitusionele Hof gebring.
Boonop gaan die substantiewe konstitusionele hofsaak oor die betrokke wysigings aan die Wet op Gelyke Indiensneming, die regulasies en teikens steeds voort.
Sakeliga en NEASA se hofsake teen die Gelyke Indiensnemingskwotas bestaan uit twee dele:
Deel A is 'n aansoek om 'n interdik teen die implementering van die EE-teikens en betrokke regulasies, totdat die substantiewe konstitusionele hofsaak (Deel B) afgehandel is.
Deel B is 'n hersieningsaansoek waarin ons versoek dat verskeie bepalings van die Wet op Gelyke Indiensneming onkonstitusioneel verklaar word en dat die minister van indiensneming en arbeid se regulasies en sektorale numeriese teikens tersyde gestel word, op grond van prosedurele onreëlmatigheid, irrasionaliteit en ongrondwetlikheid.
Hierdie direkte aansoek aan die Konstitusionele Hof om verlof tot appèl het betrekking gehad op Deel A van Sakeliga en NEASA se hofsaak, en volg op die Hooggeregshof se gebrekkige beslissing in Augustus 2025 om 'n dringende interdik teen die EE-regulasies en numeriese sektorale teikens te weier.
Agtergrond
Die Gelyke Indiensnemingskwotas, wat op 1 September 2025 in werking getree het, vereis dat elke aangewese werkgewer met 50 of meer werknemers Gelyke Indiensnemingsplanne indien, wat 'n verbintenis insluit om hul personeelprofiel in ooreenstemming te bring met die rasse- en geslagsdemografie van die land.
Hierdie vereistes is irrasioneel en skadelik. Dit is onaanvaarbaar vir meeste besighede onmoontlik om hieraan te voldoen, hou 'n ernstige bedreiging vir operasionele lewensvatbaarheid oor die mediumtermyn in, belemmer besigheidsbeplanning en -belegging beduidend, en sal rampspoedige gevolge vir indiensneming en werkskepping inhou.
Sakeliga en NEASA sal voortgaan om hierdie ongrondwetlike indiensnemingskwotas teen te staan, tot voordeel van werkgewers, werknemers en alle gemeenskappe regoor die land.
Hulpbronne:
- Konstitusionele Hof-bevel
- Sakeliga en NEASA se aanbevelings aan werkgewers
