
Die regering beplan rassekwotas vir werksmag teen einde Maart 2025
Die Suid-Afrikaanse Departement van Arbeid beplan om teen einde Maart 2025 kwotas vir indiensneming op grond van ras, geslag en gestremdheid te publiseer.
Die rasse- en ander indiensnamekwotas is bedoel om van toepassing te wees op alle werkgewers, sowel met én sonder winsoogmerk, insluitend internasionale besighede se werkplekke in Suid-Afrika. Die eerste ronde van kwotas moet kwansuis binne vyf jaar algaande nagekom word, waarna dit nog strenger gemaak sal word.
Die publikasiedatum van Maart is bekend gemaak as deel van ’n sogenaamde konsultasieproses wat in Januarie en Februarie vanjaar deur die Departement van Arbeid uitgevoer is. Die departement is van voorneme om daarna geleidelik sektorgebaseerde afdwinging te probeer.
Die indiensnamekwotas vorm deel van die regering se poging om nuwe bepalings in die wet op Gelyke Indiensneming te implementeer soos in 2023 gewysig. Hierdie wet is bedoel om die staat toe te laat om besighede – en alle ander werkgewers – te dwing om hul indiensname te doen streng volgens die regering se sogenaamde “teikens” vir ras, ens. Vóór die wysiging kon werkgewers oor die algemeen nog oplossings vind of hul eie teikens bepaal en was hulle nie absoluut gedwing om volgens regeringskwotas aan te stel nie. Onder die dekmantel van “transformasie” dring die gewysigde wet egter nou aan op verstikkende statiese bepalings wat neerkom op absurde sosiale ingenieurswese — dat eerstens, alle ekonomies aktiwiteit en later, by implikasie, sosiale aktiwiteit, streng moet geskied in voorgeskrewe rasse- en ander demografiese ratios.
Die wet voorsien verskeie afdwingingsmeganismes, insluitend ’n verbod om sake met die staat te doen, op maatskappye wat nie gehoor gee nie. Maar op papier kan die staat selfs boetes van tot 10% van omset oplê aan sogenaamde “nie-voldoenende” maatskappye. (Vir spesifieke bepalings in die Wet, kyk hieronder.)
Die kwotas is vir eers beperk tot maatskappye met 50 of meer werknemers, maar dit is geen rede tot troos nie. Met soortgelyke wetgewing in Namibië – ’n land wat dikwels die Suid-Afrikaanse regulatoriese raamwerk nadoen – is die drempel laat in 2022 tot 10 werknemers verlaag.
Dit is nie verbasend nie dat die Wet se voorgestelde rasseprofilering en sosiale ingenieurswese onwettig is in baie lande. Versuim om hieraan te voldoen sal na alle waarskynlikheid die norm wees vir internasionale beleggers en maatskappye wat nie net die voorskrifte oor wie om in diens te neem verwerplik vind nie, maar wat andersins selfs vervolging in hul tuislande in die gesig sou staar.
Ook binne Suid-Afrika stel die wet werkgewers aan ernstige regsrisiko’s bloot. In soverre hulle poog om aan die minister se onmoontlike en onwettige kwotas te voldoen, sou werkgewers noodwendig mense persoonlik moet klassifiseer op grond van ras, en sekere werknemers beslissend ten gunste van ander moet benadeel vir geen ander rede as hul ras, geslag en gestremdheidstatus nie. Deur sulke omstrede aanspreeklikhede aan werkgewers uit te kontrakteer en hulle op te kommandeer vir hierdie idiosinkratiese politieke doelwit van transformasionisme, poog die minister en regering om hul eie wetlike en reputasierisiko’s ten opsigte van rasseklassifikasie en diskriminasie te minimaliseer.
Sakeliga se teenkanting van die wet se implementering sedert afkondiging in 2023 het tot dusver daartoe bygedra dat twee vorige konsepte van die kwotaregulasies laat vaar is. Sou die regering voortgaan met hierdie derde weergawe, beoog ons hofaksie op sowel substantiewe as prosedurele gronde.
Met ons hofsaak tans in ontwikkeling, nooi ons besighede wat verwag om nie aan die nuwe kwotastelsel te kan voldoen nie uit om ons van meer inligting te voorsien, met ’n e-pos na help@sakeliga.org.za.
Tot die mate wat die regering implementering en afdwinging probeer, sal baie sakegemeenskappe geen ander opsie hê nie as om so ’n onmoontlike, skadelike en moreel onaanvaarbare wet te vermy of teen te gaan. Besighede kan voorberei vir maksimum aangewese nie-nakoming van ’n irrasionele, skadelike en onkonstitusionele wet vir so lank as wat dit neem om dit te laat skrap of in praktyk te ontkragtig.
Ons beveel aan dat besighede wat maatskappyspesifieke besluite wil neem goeie regsadvies inwin deur dit te oorweeg om by ’n werkgewersvereniging gesout in arbeidsreg, soos die Nasionale Werkgewersvereniging van Suid-Afrika (NEASA), aan te sluit.
Opmerklike bepalings in die Wet, oor vereistes en strawwe:
- ’n Aangewese werkgewer moet ’n diensbillikheidsplan opstel en implementeer wat redelike vordering in die rigting van diensbillikheid sal oplewer in daardie werkgewer se arbeidsmag.
- Die minister kan numeriese teikens vir enige nasionale ekonomiese sektor stel
- Die numeriese doelwitte van ’n werkgewer in hul diensbillikheidsplanne moet voldoen aan enige sektorale teiken ingevolge artikel 15A wat op daardie werkgewer van toepassing is.
- Die direkteur-generaal kan by die Arbeidshof aansoek doen om ’n boete in ooreenstemming met Bylae 1 op te lê indien ’n aangewese werkgewer versuim om ’n diensbillikheidsplan ingevolge hierdie afdeling voor te berei of te implementeer.
- Boetes vir oortreding van artikel 20, onder andere: die groter waarde van tussen R1,500,000 en R2,700,000 of tussen 2% of 10% van die werkgewer se omset, afhangende van die omvang van vorige “oortredings”
Skakels na verdere hulpbronne:
- Sakeliga se voorleggings oor die Wet en vorige konsepregulasies.
- Die Departement se aanbieding vir, in hierdie geval, finansiële en versekeringsondernemings, met beoogde implementeringstydlyn.