![[WordPress Migration Data]
{
"source": "WordPress Migration",
"originalUrl": "https://www.sakeliga.org.za/wp-content/uploads/2024/07/Sakeliga-Public-Procurement-Act.webp",
"wpPath": "/wp-content/uploads/2024/07/Sakeliga-Public-Procurement-Act.webp",
"wpYear": "2024",
"wpMonth": "07",
"wpPostCount": 2,
"wpPostIds": [
74808,
74789
],
"migratedAt": "2025-09-18T13:59:37.290Z",
"migratedBy": "wp-media-to-contentful.mjs",
"fileSize": 1658238
}
[End WordPress Migration Data]](https://images.ctfassets.net/ptr3cuja5dzu/1v4SvOZJ3rkVUvrHdTB4rY/46e1487c15c5df948aec85bc36aa4bfd/Sakeliga-Public-Procurement-Act.webp?w=1920&h=1080&fit=fill&fm=webp&q=85)
Nuwe Wet op Staatsverkryging: ’n Resep vir versnelde staatsverval
- Die Wet op Staatsverkryging, wat vandag geteken is, is ‘n resep vir versnelde staatsverval. Sy komplekse ontwerp en fokus op nie-waardetoevoegende kriteria sal verkrygingskoste opstroot en dienslewering deur die staat verswak.
- Die wet beoog om staatsentiteite se verkrygingskeuses streng aan bande te lê met voorskrifte oor ras, nasionaliteit en meer. Dit sal kostes verhoog en die gehalte van dienslewering verlaag, terwyl dit moontlik ongekende korrupsie sal bevorder.
- Die wet is sowel onkonstitusioneel as skadelik. Sakeliga sal die finale weergawe nou fyn bestudeer met die oog op gepaste stappe daarteen en ten gunste van normale, waarde-vir-geld openbare verkryging.
Die Wet op Staatsverkryging, wat President Cyril Ramaphosa vandag geteken het, is ’n resep vir versnelde staatsverval.
Die wet is bedoel om die Wet op die Beleidsraamwerk oor Voorkeurverkryging te vervang. Indien in werking gestel, sal dit verkrygingskoste verhoog en staatsadministrasie en dienslewering ondermyn weens die Wet se ingewikkelde en swak ontwerp, sowel as sy vereistes oor ras, nasionaliteit, en ander nie-waarde-toevoegende kriteria. Die wet se dubbelsinnige en teenstrydige klousules sal ’n ideale dekmantel vir selfverryking en korrupsie vorm.
In wese poog die wet om staatsentiteite van hul keuse ingevolge artikel 217 van die Grondwet te ontneem om waarde-vir-geld verkryging eerder as voorkeurverkryging te doen. Die wet poog om alle staatsentiteite te dwing om verkryging van goedere en dienste te doen slegs uit die geledere van ’n kunsmatig klein groepie, beperk op ras, nasionaliteit, en ander kriteria. Dit sal die koste verbonde aan staatsverkryging verhoog en dienslewering agteruit laat gaan.
Hoewel die wet nie uitdruklik politieke konneksies as ’n vereiste stel nie, sal die wet dit fasiliteer in ’n mate wat nog nooit vantevore ervaar is nie.
In die wyse waarop die wet internasionale besigheid beperk, is dit waarskynlik ook in stryd met allerlei internasionale handelsverbintenisse wat die Suid-Afrikaanse staat tevore aangegaan het.
Maatskappye wat die beste waarde vir geld kan bied is reeds toenemend skugter om besigheid met die staat te doen weens die politieke komplikasies, etiese probleme, en regsonsekerheid. Onder die nuwe wet sal hierdie tendens versnel en sal die publiek uitgelewer word aan staatsverkryging by maatskappye wat tenders kan wen op elke maatstaf behalwe prys en gehalte.
Ten dele stel die wet ’n poging daar om Sakeliga se Grondwethofoorwinning oor staatsverkryging van twee jaar gelede teen te werk. Die hofoorwinning het die keuse van munisipaliteite en ander staatsentiteite beskerm om hul eie, waarde-vir-geld verkrygingsbeleide te bepaal. Daarenteen poog die wet nou om te bereik wat die minister toe nie regmatig deur middel van regulasies kon doen nie, maar bly om soortgelyke redes steeds ook ongrondwetlik: Nóg die Parlement nóg ’n minister is by magte om ’n staatsentiteit aan spesifieke voorkeurbeleide te bind. Artikel 217 van die Grondwet ken hierdie diskresie aan staatsentiteite self toe.
Die Wet op Staatsverkryging is skadelik en ongrondwetlik, maar dit is nog nie van krag nie. Sakeliga sal nou die finale weergawe deeglik bestudeer ten einde gepaste stappe daarteen te bepaal in die belang van normale, waarde-vir-geld openbare verkryging, voortspruitend uit ons 2022 Grondwethofoorwinning en andersins.
LEES: Sakeliga se spesiale verslag (2022) oor onafhanklike staatsverkryging.